The Three Little Pigs skree oor 'n samelewing se immoraliteit

  • 0

Regie: Tara Notcutt
Met Rob van Vuuren, James Cairns and Albert Pretorius
teks deur Rob van Vuuren, James Cairns, Albert Pretorius, Tara Notcutt

Oorspronklike musiek deur Gary Thomas
Stel ontwerp deur Juanita Ferreira
Beligtingsontwerp deur Matt Lansing

Tara Notcutt bring met The Three Little Pigs weer ’n produksie op die planke waaroor mens meer as huis toe wil skryf. Die produksie speel reeds vir ’n tweede keer op ’n verhoog, is tans te sien by die Baxter teater, en is binnekort by die US Woordfees te sien. Daarna vertrek die geselskap op ’n World Fringe Toer.

Hierdie produksie lewer luid en duidelike politieke kommentaar. Dit is egter nie net van toepassing op plaaslike leiers en politieke omstandighede nie, maar dien as ’n metafoor waarmee byna elkeen kan identifiseer. Die produksie is ’n psigologiese riller in ’n wêreld tussen Animal Farm en Reservoir Dogs, waar plaasdiere onbeskaamd simbole word vir politieke figure. Hierdie verhaal draai die tradisionele sprokie netjies op sy kop en kan beskou word as ’n moderne interpretasie van die morele kwessies wat in die oue sprokie aangespreek word. Die drie baie bekwame akteurs, Rob van Vuuren, James Cairns en Albert Pretorius, vertolk gemaklik gedurende die produksie allerlei karakters. Hulle lewer puik karakterisering, met fisiese detaillering wat tot in die fynste besonderhede van die akteurs se fisiese en vokale spel te sien is.

Die teks is egter met baie inligting gepak, wat op ’n drafstap vertolk word en dit is dus moeilik om die storie te alle tye te volg. Die sogenaamde “goue draad” gaan egter nooit verlore nie. Ek het die produksie reeds twee keer gesien en met die tweede kykslag was die inhoud vir my baie meer duidelik. Ek het dit egter albei kere ewe veel geniet. The Three Little Pigs getuig van noukeurige navorsing in beide inhoud en die vertolking. Dié produksie slaag daarin om skreeusnaaks te wees terwyl dit ernstige vrae vra oor die morele oortuigings van ons samelewing.

 

The Three Little Pigs is tot 8 Februarie 2013 by die Baxter teater te sien en maak daarna ’n draai by die US Woordfees.

8 March 22:30 | 9 March 21:00 | 10 March 20:30 | Japie Krige | 90min | R100

Lees nog inligting oor Three Little Pigs.

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

 
 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top