
Kinderakteurs as Liesl, Friedrich, Louisa, Marta, Kurt, Brigitta en Gretl. Brittany Smith as Maria (foto verskaf en erkenning aan die fotograaf: Nardus Engelbrecht)
Soos ’n geliefde troeteldier wat ’n paar dae lank weg was en nou weer eensklaps in jou voordeur staan, daag The sound of music in die Kunstekaap op.
Die musiek, die verhaal en die karakters is welbekend.
Die regisseur, Steven Stead, skryf voor in die programboek: “... I have never really considered the show in any depth. Not until I was invited to direct this production for the wonderful synergy of Cape Town Opera and Pieter Toerien Productions. And what a discovery it has been.”
Ek kom kyk die produksie, soos sekerlik baie ander in die stampvol teater, met agtergrondkennis daarvan en met herhaaldelike blootstelling aan die film en die teaterproduksie.
Geen bederfwaarskuwings is nodig wanneer die verhaal opgesom word nie, hetsy vir die ouer teatergangers wat die film van kindsbeen af ken, tot die nuwe generasie wat vertroud is met Ariana Grande se verwerking van “My favourite things”. En tog is hierdie teaterproduksie nuut en vars.
............
Geen bederfwaarskuwings is nodig wanneer die verhaal opgesom word nie, hetsy vir die ouer teatergangers wat die film van kindsbeen af ken, tot die nuwe generasie wat vertroud is met Ariana Grande se verwerking van “My favourite things”. En tog is hierdie teaterproduksie nuut en vars.
.............
Maria, ’n jong non (ondeund en onskuldig vertolk deur Brittany Smith), bevind haar in ’n abdy, maar sy’s so ontuis soos ’n vis op droë grond. Musiek borrel by haar mond uit wanneer sy moet stil wees. Sy wil so graag spiritueel na binne reis, maar die Oostenrykse berge wink daar buite. Moeder Owerste (Janelle Visagie, wie se “Climb every mountain” een van die mees gevoelvolle musikale hoogtepunte is) het oë van agter en van voor. Sy is oplettend genoeg om raak te sien dat Maria die wye wêreld ingestuur moet word. Maria gaan pas dus die rigiede baron Von Trapp (Craig Urbani, wat meer bekend is vir sy rolle in Suid-Afrikaanse sepies, maar beslis tuis is op die verhoog) se kinders op. In die proses leer sy die kinders musiek deur vir hulle die “Do-Re-Mi”-lied te leer. Die kinders is almal natuurlike akteurs en baie oulik. Gretl (Abigail Chitsike die aand toe ek gekyk het) is bekoorlik en steel die hart. Die musiek, eens ’n blok aan Maria se been, ontsluit nou die wêrelde van die mense met wie sy in aanraking kom. Ook baron Von Trapp se hart smelt as hy sy kinders hoor sing. En iewers binne hom skuil daar ook ’n sanger. Maria en die baron raak op mekaar verlief. Die Tweede Wêreldoorlog werp ’n skaduwee oor die vrolikheid. Uiteindelik moet die gesin vlug, omdat hulle nie saamstem met die Nazi-regime nie.
.........
Dit is asof die akteurs die karakters hulle eie gemaak het. Elkeen van die akteurs vertolk sy of haar rol met oorgawe, of dit nou dié van ’n rand- of ’n hoofkarakter is.
............
Hoe is hierdie bekende verhaal dan nuut en vars? Die geheim lê opgesluit in die feit dat die akteurs in die velle van die karakters inklim en daarin rondloop. Dit is asof hulle die karakters hulle eie gemaak het. Elkeen van die akteurs vertolk sy of haar rol met oorgawe, of dit nou dié van ’n rand- of ’n hoofkarakter is.
Brittany Smith probeer nie om Julie Andrews te wees nie en sy hoef dit nie te wees nie. Sy is Maria. En wát ’n stem het sy!
Nie net sing die nonne glashelder nie; elkeen van hierdie sangers is kennelik ook akteurs. Die singende akteurs in die ander rolle is besig met danspassies terwyl hulle sing, en dit moet sekerlik uitdagings van sy eie bied. Dit lyk egter of dit sommer net so spontaan gebeur.
Spesiale vermelding moet van William Berger as Max Detweiler gemaak word, of van Nadia Beukes as Baroness Schröder. Elke kind verdien erkenning vir hulle spel.
Die voorafskaduwing in die verhaal en musiek val my op.
“Climb every mountain” is eers ’n lied van bevryding, en verkry dan later ’n gans ander betekenis as die gesin daarmee aangespoor word om oor die berge na Switserland te vlug. Mens wil-wil nog méér in hierdie lied inlees. ’n Lied wat aanspoor om op te staan vir reg en geregtigheid.
Die liedjie waarmee die kinders by die huiskonsert die gaste vermaak (“So long, farewell”) is ook die lied waarmee die volledige gesin die verhoog kan verlaat en effektief weg kan vlug wanneer hulle deur Nazi-soldate – wat die teatergangers in die Kunstekaap omsingel – dopgehou word.
Die soete jeugliefde van Liesl (Ashley Scott) en Rolf (Ché-Jean Jupp), wat suur word wanneer Rolf hom tot die Nazi’s wend, is so integraal belangrik in die verhaal. As dit nie was dat die jonge Rolf iets vir Liesl gevoel het nie, sou hy nie haar hele gesin beskerm het deur hulle teenwoordigheid te verswyg wanneer hy hulle ten slotte sien wegkruip nie. Die toneel waar hy die gesin ontdek, word uitstekend uitgebeeld.
Die oorverdowende donderstorm tydens die bekende toneel, veroorsaak dat klein en groot gereed was om in Maria se kamer in te hardloop en saam met die kleinspan deur haar liedjie gesus te word. Oortuigende blitse daarby!
As mens krities moet wees, sing baron Von Trapp op een plek ’n vals noot. Dit maak nie juis saak nie. Hy raak elke teaterganger se hart aan wanneer hy sy kinders soos ’n regte pappa teen hom vasdruk.
Elke noot is ook nie trefseker nie wanneer die kinders tydens een enkele geleentheid heeltemal op hulle eie sing. (Dalk is laasgenoemde doelbewus: om aan te toon dat dit net doodgewone kinders is wat hier informeel sing.)
Dis net as mens krities is dat dit uitgewys moet word. Die musiek van die produksie is die res van die tyd van ’n uiters hoë gehalte.
Ek besef ook die beperkinge van die teater. Soos met ’n gedig, moet mens ekonomies omgaan met wat vertoon word. Daar is nie tyd vir onnodige tonele nie. Miskien moet daar dan staatgemaak word op die gehoor se vooraf kennis en verwagtinge. Anders is dit dalk onrealisties dat baron Von Trapp een oomblik nog met die een vrou wil trou en dan, wanneer sy besluit dat sy nie met hom gaan trou nie, onmiddellik en binne twee minute, weer sy liefde aan Maria bekend maak. Mens vergewe die produksie enige Disneyagtigheid of oorhaastige liefdesverklarings. Dit is immers presies een van die dinge wat die gehoor gekom het om te sien.
Ek lig die hoed vir die artistieke interpretasie en integrasie van die verskillende aspekte van die produksie. Ten slotte was die hele gehoor se staande ovasie en langdurige toejuiging ’n aanduiding van wat die res van die teatergangers gedink het.
Een van die bekende liedjies in die produksie is nie verniet “My favourite things” nie. Ons almal het ons gunstelinge, of dit nou weens gene is, of weens blootstelling aan dinge.
Om terug te keer na die lieflingdier in die deur: Mens wil in hierdie produksie die bekendheid – en die pragtige vertolkings – van die liedjies optel en vertroetel, soos daardie kat of hond wat lank weg was. Agterna is die enigste frustrasie dat mens dit nie weer en weer kan terugdraai en soos ’n YouTube-video herhaaldelik kan kyk nie.
...........
Om terug te keer na die lieflingdier in die deur: Mens wil in hierdie produksie die bekendheid van die liedjies optel en vertroetel, soos daardie kat of hond wat lank weg was. Agterna is die enigste frustrasie dat mens dit nie weer en weer kan terugdraai en soos ’n YouTube-video herhaaldelik kan kyk nie.
.............
Die regisseur skryf ten slotte in die programboekie dat hy hoop dat mense wat die produksie kom kyk, nuwe vreugdes in hul gunstelingdinge kan ontdek.
Hy kan gerus wees. Hy het dit inderdaad met hierdie produksie bewerkstellig.
- The sound of music is in Desember in die Kunstekaap in Kaapstad en dan in Montecasino in Johannesburg. Volg die skakel om kaartjies te koop.

