The Sessions
Regisseur en draaiboekskrywer: Robert Zemeckis
Rolverdeling: John Hawkes, Helen Hunt, William H Macy, Annika Marks, Moon Bloodgood

’n Gestremde man wat die grootste deel van sy dag in ’n ysterlong moet deurbring, wil op 38 sy maagdelikheid verloor. ’n Terapeut beveel die dienste van ’n sekssurrogaat aan om sy wens te vervul.
Klink dit soos die tipe fliek wat jy regtig nie wil sien nie? Wel, dink maar weer, want hierdie fliek is iets baie besonders.
Die verhaal is gegrond op die werklike lewe van Mark O’Brien, wat as sesjarige polio gehad het. Mark kon nog, lêend op sy wieletjiesbed en met ’n suurstofbottel byderhand, universiteit toe gaan, maar teen die tyd dat die fliek begin, is sy longe so verswak dat hy afhanklik is van die ysterlong. Die fliek sentreer om sy verhouding met sy versorgers (eers Amanda, op wie hy verlief raak, en dan die Chinese Vera), die Katolieke priester, vader Brendan, by wie hy gereeld gaan bieg en raad vra, en Cheryl, die sekssurrogaat.
Hierdie fliek het al 29 benoemings ontvang en 11 keer toekennings gewen, onder meer drie by verlede jaar se Sundance-filmfees. Een daarvan was vir ensemblespel, en dit was welverdiend: soos die rolle hier bo genoem word, is dit John Hawkes, Annika Marks, Moon Bloodgood, William H Macy en Helen Hunt.
Dis gewoonlik ’n goeie teken as die regisseur en draaiboekskrywer dieselfde persoon is: dit sorg vir ’n film met ’n eenheidsvisie en wat gestroop is van onnodighede en wollerighede. Hierdie film trek jou stadig in en oorrompel jou behoorlik met sy eerlike, gestroopte menslikheid. Dit bevat wel naaktheid en seks, dus vra dit vir oopkop kykers.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

