The power of the dog: ’n filmresensie

  • 2

The power of the dog
Met Benedict Cumberbatch en Kodi Smit-McPhee
Regisseur: Jane Campion

Die Western is die afgelope paar jaar afgeskeep in die Amerikaanse rolprentbedryf. Tevore, veral toe die veertiger- en vyftigerjare gedy het en John Wayne en regisseur John Ford perd opgesaal het, was dit moontlik een van die gewildste genres ter wêreld. Soos Film Noir tipies Frans (en later veral Amerikaans) was, het die Western Amerikaanse manlikheid gesimboliseer wat Film Noir ontman het.

Destyds, soos in Red River (1948), met sy duisende trekkende beeste – ook hier uitgebeeld – was dit goed teen kwaad wat in die beestehoewestof verstik het. Dikwels was daar ’n aantreklike jong nuweling teenoor ’n klinknaelbroek-hardebaard-gesag, onwelkome immigrante en pioniers teen die Indiane wie se land geplunder is, veediewe en skelms teen sheriffs met weglêhoedens en -omdopsnorre, en langneusrewolwers wat as ekstensies van manlikheid teen heupe vasgegespe was, terwyl vrouens dikwels verkleineer is tot prostitute of virginale heldinne wat grootoog in koetse gearriveer het. Of as geduldige kinderbarende ma’s wat wag op hul heldemans om terug te keer van maande lange swerftogte of ontdekkingsreise. Of ’n pa wat sy seun of sy werkers in ’n ystergreep vasgeknel het en met ’n knyptanghumeur geregeer het.

Later, veral onlangs toe Kevin Costner met sy moderne televisietreffer Yellowstone Park (2018–2021) die Western in ’n mate weer woema gegee het (ons noem dit Western lite), en met die gewilde Westworld (1973 en 2016) wat in hierdie perde se hoefspore voortgalop het, het die Texas-wyerandhoede, hetsy as robotte of as mense van vlees en bloed, ook die genre vlerke gegee. Maar vir ’n vroueregisseur om daardie sogenaamde “macho” genre te herskep en dit in ’n kunswerk vol nuanse en subteks te verander (alhoewel die film vermoeiend en stadig is), wil gedoen wees.

Jane Campion was nog altyd vreesloos. Dink aan The piano (1993) en die rolprent wat haar en Meg Ryan se loopbaan se achilleshiel middeldeur gesny het, In the cut (2003), maar Campion kon nooit weer die Piano-hoogtepunt bereik nie. Tot sy met die krag van ’n dol brak tande gewys het.

........

Jane Campion was nog altyd vreesloos. Dink aan The piano (1993) en die rolprent wat haar en Meg Ryan se loopbaan se achilleshiel middeldeur gesny het, In the cut (2003), maar Campion kon nooit weer die Piano-hoogtepunt bereik nie. Tot sy met die krag van ’n dol brak tande gewys het.

........

Sy neem ’n wrede hardekoejawel cowboy (Benedict Cumberbatch was selde beter of meer wraaksugtig) en ’n onderdanige vrou en sagte seun wat teen sy wreedheid in opstand kom. Kodi Smit-McPhee vertolk die rol van die seun. Hierdie twee teenpole bots in ’n landskap wat nie eers John Ford ontgin het nie.  (“Waaraan laat die berge en landskap jou dink?” spot Cumberbatch sy sagte stiefseun. “’n Swanger vrou?”)

Dié stoppelbaardwreedaard was ’n simbool van die ou Wilde Weste wat met gewere en swepe geregeer is, terwyl die seun ’n intelligenter, versiende weergawe verteenwoordig het wat ’n nuwe Western-era inlui. Hierdie botsing, met Cumberbatch se klipgesigbroer Jesse Plemons wat alles sydelings beskou en bewus is van sy broer se swakhede, stel die arena wyd oop vir ’n onkonvensionele doodsgeveg.

Foto: YouTube

Maar Campion, terug as een van die wêreld se topregisseurs, is skerper. Hier is min skiet-skop-en-doodbloei-ekstravaganzas, die geliefde clichés van die Wilde Weste se laaste oomblikke. Dink aan Sergio Leone se Once upon a time in the West (1966) asook Fred Zinneman se klassieke High noon (1952). Sy gaan subtieler met die wrede einde en die grusame onderstrominge te werk. So subtiel dat die meeste kykers die oomblik mag mis. Daar is byvoorbeeld artikels geskryf oor die einde van The power of the dog om die subtiliteit daarvan te ontgin en te filosofeer oor ’n dood wat ’n mens nie hier wil verklap nie.

Maar in Campion se hande is dit ’n kortsigtige, koppige óú wêreld teenoor ’n nuwe, slimmer “beskawing”. Dit ontmasker ook ’n wreedaard wat sy moses teëkom soos hy dit verdien. En geen Wilde Weste-epos het die tema van dood nog ooit só subtiel en welverdiend ontgin nie. 

........

Maar in Campion se hande is dit ’n kortsigtige, koppige óú wêreld teenoor ’n nuwe, slimmer “beskawing”. Dit ontmasker ook ’n wreedaard wat sy moses teëkom soos hy dit verdien. En geen Wilde Weste-epos het die tema van dood nog ooit só subtiel en welverdiend ontgin nie. 

.......

Tog, indien jy diep onder die cowboyhoed delf, gaan dit ook oor ’n cowboy (maar anders as in die klassieke Brokeback Mountain, 2005) wat moontlik latent gay is terwyl hy sy kruis met macho kameraderie uitstoot, en wat net leef vir sy vergoddeliking van ’n oorlede tipiese ouwêreldse Western-cowboy-simbool. Ook iemand op wie hy moontlik verlief was.

Alles vorm temas wat Campion met delikate insig en subtiliteit ontgin. Hier bloei Cumberbatch as Phil Burbank se haat mildelik oor die sensitiewe Peter Gordon (Smit-McPhee) se siel, tot die finale konfrontasie eksplisiet en onverwags vergestalt word.

Voeg daarby die bruin-droë Wilde Weste van Montana (waarvoor Nieu-Seeland instaan) met karakters wie se oë skrefies teen die son trek en wie se velle, hare, stewels, sale en klere bruiner as die grond is, en jy kry ’n nuwerwetse, tydsame Western wat soos Nomadland rustig beweeg, en waarin oënskynlik niks gebeur nie, maar tog so baie.

Kirsten Dunst lewe in groot frustrasie vir haar man, Phil Burbank (Cumberbatch), en kry min seksuele bevrediging by hom. Die res van die cowboys vorm ’n reguit oogseermaaklyn agter hulle teen die horison as ’n verdedigingslinie wat die kultuur van Western-tradisies beskerm.

Die drama is gegrond op Thomas Savage se 1976-roman (semi-outobiografies), maar waar die einde duideliker tussen die bladsye verduidelik is, vermy die film dit. Campion spring ligvoets oor die einde sodat die gehoor sy of haar eie afleidings kan maak.

Maak geen fout nie. The power of the dog is geen piekniek op Netflix nie. Eintlik moet ’n mens die grootsheid van die stowwerige, droëwoestyn Wilde Weste in ’n teater sien om weg te sak in die stof. Maar selfs op jou plasmaskerm sal die verskillende skakerings van bruin vermeng tot ’n grafsteen vir die Western se uitgediende tradisies.

Stadig, deeglik, vry van clichés, en uitputtend-tydsaam, ontgin Campion die tydloosheid van die Wilde Weste puntenerig deur nuwe oë, en gee aanleiding tot gerugte dat hiérdie bedaarde rolprent, met spikkels uitbarstings asook ’n baie wrede kastrasietoneel, moontlik met ’n Oscar bekroon kan word. Dit sal Campion weer bevestig as een van die beste vroueregisseurs tot dusver. Chloé Zao, jy kry kompetisie!

Beleef die Western in ’n oorgangsfase soos selde tevore. En respekteer dit.

  • 2

Kommentaar

  • Ek is die seker wie die plot van die fliek heeltemal verkeerd het nie - ek of Leon van Nierop?!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top