The old man and the sea: maskers en pop bring ander dimensie na Hemingway-meesterstuk

  • 0

Foto verskaf

The old man and the sea word gereken as een van die Amerikaanse outeur, Ernest Hemingway, se bekendste werke wat in 1951 in Kuba geskryf is en die jaar daarna verskyn het. Dit wen in 1953 die Pulitzerprys vir fiksie en word deur die Nobel-komitee voorgehou as bydraende faktor vir die toekenning van die Nobelprys vir Literatuur aan Hemingway in 1954.

In die teaterproduksie is die storie is ’n kortverhaal saamgevat. Dit speel in Kuba af en vertel die verhaal van die ou visserman, Santiago, wat vir 84 dae sonder enige vis in sy skuit terugkeer wal toe.

Die dorpie se mense begin agter hul hande fluister, dat hy aan die einde van sy eie lyn gekom het en moet oorgee.

Sy jong vriend, Manolin, word deur sy pa verbied om weer saam met Santiago op die see te gaan, en eerder met ander “suksesvolle” vissermanne uit te gaan, maar Manolin vind die ander vissermanne oppervlakkig en nie gefokus op die kuns van visvang nie.

Santiago gaan op die 85ste dag alleen uit en haak ’n reuse marlyn aan sy lyn. Dit word ’n stryd wat twee dae duur tussen hom en die vis; maar ook met die sinspeling op die stryd tussen hom en die dood. Die ou man se kragte is te min om die reuse vis oorboord te trek en die vis sleep hom al dieper in die oop see in.

Uiteindelik kry hy dit reg om die vis naby die boot met sy harpoen te steek en teen die kant van die boot vas te maak. Hy begin die vaart huis toe, maar die vis se bloed lok haaie, waarvan hy een doodmaak, ander wegjaag en beseer, maar tevergeefs.

Toe hy doodmoeg op die strand uitklim, is net die vis se kop, ruggraat en stertvin oor. Hy gaan val in sy bed, terwyl die ander vissermanne die karkas kom meet en vind die vis was 5,5 m lank. Die vissermanne kyk op hul neuse oor die ou man se dae wat getel is.

Manolin se vriendskap en bewondering vir die ou man verdiep net en terwyl hy na die ou man se beseerde hande omsien, belowe hy dat hulle twee voortaan weer saam sal gaan visvang.

Na afloop van die vertoning nooi die akteurs die gehoor om na die maskers, gemaak deur Jenine Collocott, te kom kyk. Mense gesels en wens die akteurs geluk, nuuskierig oor die maskers wat die akteurs se monde ooplos, maar die res van hul gesigte en hare bedek.

James Cairns, Taryn Bennett en Jacques de Silva vertolk elkeen verskeie rolle, met behulp van maskers, fisiese teater en verskillende stemme. Taryn is in 2018 genomineer vir ’n Naledi-toekenning vir beste ondersteunende aktrise vir haar rol in die produksie. Die stuk het ook ’n Naledi vir die beste klankbaan in 2018 ontvang.

Taryn verdien beslis lof vir haar empatiese vertolking van Manolin. Met haar handgebare en houding, word sy voor jou oë ’n klein seuntjie, maar gly net so maklik in die rol van visserman of die taverne-eienaar in.

Die Contagious Teatergeselskap was vroeër vanjaar in dieselfde teater met “The Snow Goose”, wat kritici vol lof gehad het.

Ek gesels later in die voorportaal met ander teatergangers oor ’n glas rooiwyn. Die opinies is uiteenlopend: “dis briljante werk”; “die gebruik van die maskers is slim”; “die middeldeel het te lank uitgerek”; “dit maak ’n ernstige stuk amper komiese poppeteater” en “die aksente het my na ’n klein dorpie in Kuba meegevoer”. Gevra of die spreker al in Kuba was, was die antwoord ‘nee’, maar ek vermoed waar die storie afspeel is nie regtig die kruks van die verhaal nie — die feit dat almal een of ander tyd in hul lewe aan die einde van hul eie vislyn gaan kom, wel.

Ons was 15 jaar gelede in Kuba — drie salige weke van kuier in klein dorpies, Kubaanse rum drink, vars vis uit die see geniet en sigare by strandkroegies rook. Ek kon my indink hoe lekker mens by daardie kroegie kon kuier en vars vis en aartappels eet, terwyl jy na die vissermanne in hul skuite op die groot, oop see kyk. Jy kan nie anders as klein voel, as jy op ’n eiland midde-in ’n potblou nimmereindigende watermassa kuier nie.

Die een toneel met die klein poppie aan toutjies op die rand van die boot, is treffend in sy eenvoud, omdat dit die ou man se nietigheid op die groot oseaan so mooi illustreer. Die poppie is deur Alida van Deventer gemaak.

Die res van die toneelstuk dra die akteurs swaar, amper komiese maskers, wat teatergangers ontneem van die voorreg om hul gesigsuitdrukkings te sien. Hier moet hul fisiese bewegings en stemtoon vergoed.

Die toneelstuk se styl herinner effe aan die geïllustreerde uitgawe van die boek, met swart en wit prente deur Charles Tunnicliffe en Raymond Sheppard.

Alex Barrera skryf in 2017 oor die oorspronklike boek: “Waar Tolstoy oor beskrywings en lang dialoë is; is Hemingway bondig. Hy is op die man af. Nie ’n woord meer nie; nie ’n woord minder nie. Genoeg om jou die verhaal voor te stel, terwyl dit eenvoudig genoeg is dat jy meer wil hê.”

Dit is presies hoe die teatergeselskap die verhaal benader het. Op die man af, eenvoudig, maar dit laat jou hunkerend na meer.

Ek moet saamstem dat daar ’n hele paar ekstra minute in die middel van die verhaal was, waar dinge effe langdradig geword het, maar met ’n 10 minute sny, sal hierdie teater van wêreldklas-gehalte wees. Dit verander ’n baie swaar, intellektueel-filosofiese tema in iets baie meer verteerbaar vir gehore van alle ouderdomme, sonder om die ware boodskap van verganklikheid te verloor.

 

The old man and the sea
Met: James Cairns, Taryn Bennett en Jaques de Silva

Deur: Ernest Hemingway, aangepas deur Nick Warren met Jenine Collocott
Regie en ontwerp: Jenine Collocott
Oorspronklike musiek: Sue Grealy
Pop van die ou man: Alida van Deventer
Maskers: Jenine Collocott
Die Fugardteater, Caledonstraat 6, Kaapstad.
Tot 24 Augustus 2019
Kaartjies aanlyn by www.thefugard.com of by die Fugardteater se kaartjieskantoor by 021 461 4554.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top