The Odyssey of Homer: A Southern African Translation deur Richard Whitaker: ’n lesersindruk

  • 0

The Odyssey of Homer: A Southern African Translation
Richard Whitaker
Uitgewer: African Sun Press
ISBN: 9781874915287

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Homeros se lang verhalende gedigte oor die Trojaanse oorlog (sy Ilias) en die tien jaar lange terugtog van die held Odusseus ná daardie oorlog is reeds in  die vroeg-vyftigerjare deur die Stellenbosse professor van Grieks, JPJ van Rensburg, in Afrikaanse prosa vertaal. Daar is ook reeds tientalle vertalings van dié Antieke-Griekse eposse in alle ander Westerse tale, en selfs ook in verskeie Oosterses. Wat maak Whitaker se nuwe vertaling van die Odusseia in Engels en in versmaat dan iets besonders vir Suid-Afrikaners? Waarom moet nóg ’n Engelse vertaling van die Odusseia  enigsins die aandag van Afrikaanssprekendes trek?

Die vertaalteorie is ’n redelik onlangs-geformuleerde wetenskap, maar die beoefening daarvan is byna so oud soos skrif. Enige vertaler moet eerstens besluit of sy of haar vertaling letterlik of vry moet wees. Die Franse vertaalkundige Meschonnic (1973:300−434) het aanbeveel dat die “waardigheid” van ’n vertaling tot sy reg moet kom deurdat ’n berekende afstand tussen die bronteks en die vertaling gehandhaaf word; dit wil sê, hy verkies die behoud van ’n mate van “vreemdheid” binne enige oorskakeling van ’n geskrewe stuk na ’n teikenteks. Daar is heelwat ander vertaalbenaderings wat iewers op die lyn tussen twee teenoorgestelde vertrekpunte lê: gelykstelling (getroue weergawe van die bronteks) teenoor soepelheid en natuurlikheid (groter verstaanbaarheid in die teikentaal). Eugene Nida (1964:182) stel die terme formele gelykstelling (’n bronteks-georiënteerde benadering) en dinamiese voldoening (wat op beide die teikenteks en die teikenleser gemik word) voor. Op sy eenvoudigste beteken dit dat ’n vertaling óf die leser óf die teks verontagsaam. Die doel van ’n vertaling bepaal grootliks die mate van letterlikheid (bronteks-oriëntering) of aanpassing by die teikenkultuur (gemik op die teikenleser) waarmee ’n vertaler ’n teks benader.

Whitaker se vertaling is “Suider-Afrikaans”. Dit vertaal sekere denkbeelde en begrippe en selfs woorde met woorde en uitdrukkings uit ’n hele aantal inheemse Suider-Afrikaanse tale, insluitend Afrikaans. In ’n deeglike woord vooraf (ble 9-14) verduidelik die digter sy doel met sy steun op die veeltalige oorspronge van die “Suid-Afrikaanse Engels”-dialek. Dit wil sê, hy gebruik woorde en uitdrukkings wat bekend is aan Engelssprekende Suid-Afrikaners (en uiteraard ook aan hulle twee- en veeltalige landgenote.) Sy “Afrika”-woordeskat span hy in om aan te dui dat ons nie die  Bronseeu Griekse “konings” moet beskou as die eweknieë van moderne Europese koningshuise nie, maar eerder as soortgelyk aan stamhoofde soos die beroemde 19de-eeuse koning, Shaka Zulu. (Whitaker het ’n soortgelyke doel gehad met sy vorige vertaling, dié van die Ilias.) Met hierdie leenwoorde wil Whitaker sy lesers ’n Homeriese wêreld toon wat meer lyk soos die prekoloniale, voortegnologiese wêreld van ’n inheemse Suider-Afrika as dat dit die stedelike sofistikasie van moderne stede en moderne koningshuise weerspieël. Whitaker mik dus duidelik sy vertaling op sy teikenlesers. Vir ons Suid-Afrikaners is sy gebruik van die plaaslike Engels waarin hierdie leenwoorde voorkom gerusstellend bekend, maar vir nie-Suid-Afrikaners sal hierdie woorde ’n sekere mate van vreemdheid inhou en die soort afstand handhaaf wat Homeros se wêreld tog wél buite hulle eie, bekende omgewing sal plaas. Hiermee het Whitaker dus daarin geslaag om ’n teks voort te bring wat beide leser- én teksvriendelik  is.

Whitaker se “stamgebonde” woorde pas presies binne die Griekse kulturele konteks; voorbeelde is: induna (hoofman, tweede in bevel onder ’n stamhoof), amakhosi (’n versameling hoofmanne), impi (leër of strydafdeling). Whitaker se vertaling wil dus aan lesers uit ’n heel ander milieu as die Homeriese toon dat daar selfs vandag (of dan baie onlangs) nog mense is (of was) wat baie soos die Homeriese helde leef (of geleef het), dat daar eintlik groot ooreenkomste tussen die antieke Griekse en hedendaagse Afrika-kulture merkbaar is. Dit sluit aspekte in soos ’n sterk patriargale etos, die gebruik van jagspiese, gebruik van kruiemedisynes en -rate deur ‘n “tradisionele heler” (sangoma of inyanga), die lofprysing van hoofmanne deur ’n imbongi (pryssanger), en die betaal vir ’n bruid aan haar pa deur ’n aspirantbruidegom. Die begrip en woord lobola is vir ons Suid-Afrikaanse lesers baie bekend; vir Whitaker se internasionale teikenlesers is dit vreemd − hulle ken net die verskynsel van ‘n bruidskat deur die pa aan die jongman. Dit is hierdie gebruik wat ter sprake is as die vryers na die hand van Penelopeia, Odusseus se vrou, smag (en daarmee saam beheer oor sy stamgebied) sodat een van hulle met haar kan trou, as hulle reken dat Odusseus dood is. Met die inbring van dié woord en begrip verryk Whitaker die internasionale woordeskat van presiese Homerise ekwivalente.

Die Homeriese gebruikmaking van woordprentjies-in-die-kleine om ’n vergelyking uit te bou (die sogenaamde Homeriese vergelyking) word maklik verinheems as daar na die gedrag van diere verwys word. Nog ouliker is egter Whitaker se vertaling van Boek 5.329 ev,  waar die wind wat Odusseus se vlot teister, vergelyk word met hoe “a summer north wind blows rolbosse about the veld”.

Vir nie-Suid-Afrikaanse lesers is daar ’n volledige woordelys (517−22), met altesaam 69 woorde en uitdrukkings uit Afrikaans (of Nederlands), Zoeloe, Xhosa, Sotho, Tswana, en selfs Swahili (wat Whitaker se beskrywing van die boek as  “a Southern African translation”, eerder as “South African”, regverdig). Assegai (met een a geskryf) is van Arabies-Berberse oorsprong, en dus kan die vertaling selfs as ’n “African”  beskou word. Whitaker verskaf ook ’n vindingryke uitspraakgids vir al hierdie leenwoorde. Die Afrikaans oo-klank in woorde soos kloof en disselboom verklank hy slim met die invoeging van ’n bykomende lettergreep (klóo-uhf en dissilboo-um).

Whitaker  se vertaling is ook op ander wyses “Suid(er)-Afrikaans. Bogenoemde “stam”-woordeskat en ook leenwoorde uit Afrikaans (of Nederlands), en hier en daar ook woorde uit Portuguees, is al gevestig as eie aan Suid-Afrikaanse Engels. Suid-Afrikaanse Engels het ook sy eie variante, in ’n groot mate afhangend van waar sy sprekers woon; woorde word in verskillende Suid-Afrikaanse stede of kulturele kontekste anders ontleen en anders ingespan. Vir my as tweetalige Kapenaar is die gebruik van die Engelse verledetydsaanduiding -ed by ’n Afrikaanse woord soos braai effe vreemd; Whitaker se idiolek laat hom toe om (dikwels) braaied te gebruik. Ook vir my ongewoon is sy “Engelse” verlede tyd van die nuttige Afrikaanse woord skep, waarvoor daar geen presiese Engelse ekwivalent sonder omskrywing bestaan nie. In die konteks van wyn drink kry ons egter dikwels iets soos: “They skepped the wine and handed the cups around for all to drink.”  Moontlik is dit ’n Suid-Afrikaanse Engels uit ’n ander streek. Dis my enigste besware teen Whitaker se idiolektiese gebruike − ek het vrede met byvoorbeeld stelwyses soos “I trekked away” en “they outspanned the oxen.” Die nuttige Afrikaanse woord bergie kom enkele kere voor, asook ’n paar hibrides, samevoegings van ’n Afrikaanse en ’n Standaardengelse woord, soos in vlei-grass en vlei-lands.

Bekende Brits-Engelse woorde word ook soms met ’n bepaalde Suid-Afrikaans kleur gebruik. Lull word byvoorbeeld aan Afrikaans paai gelykgestel.  Die semantiese veld van die Afrikaanse woord paai is breed en sluit, benewens “troos” en “sus”  ook die begrip “om wantroue te laat verdwyn” in (Engels: to lull suspicion). Dus laat Whitaker vir Penelopeia aan  Odusseus vertel: “For three years I lulled and tricked the Achaians” (19.151, bl 421). Ook tipies Suid-Afrikaans  is die gebruik om ’n ouer vrou as “mama” aan te spreek as aanduiding van eerbied: die huishoudster Eurukleia word byvoorbeeld konsekwent so deur lede van Penelopeia se huishouding aangespreek.

’n Verdere kategorie van “Suid-Afrikanismes” is uitdrukkings uit verskeie Afrikatale wat direk in Standaardengels vertaal word. Voorbeelde hiervan word ook in die woordelys verduidelik, soos “Go well!” of “Stay well!” as mense van mekaar afskeid neem. Nog een is “great place” vir die opstal (eerder as “paleis”) van ’n hoofman. ‘n Verengelsing van die Afrikaanse opstaan kom verskeie kere in verskillende vorme in die vertaling voor, soos in stood up waar die konteks duidelik op die betekenis “wakker word” dui. In een geval, wat haas dikwels voorkom, sou ek met Whitaker verskil. Standaard-Suid-Afrikaanse Engels, soos ook die Britse, beskou out as ’n bywoord, waarvan die betekenis met behulp van  of of at voltooi moet word, waar dit in Amerikaanse Engels as ’n voorsetsel gebruik word. Whitaker se Homeros vertel in verskeie gevalle van karakters wat “look out a window” of “go out a door”. Dis egter van minder belang.

Alle vertalers van poësie sit met die vraagstuk of dit moontlik is om metries presies dieselfde formaat as die brongedig te behou al dan nie. Dis ’n ingewikkelde vraagstuk: Moet die presiese metriese patroon gehandhaaf word, of moet ’n ander versmaat ingespan word? Daar is ’n baie groot verskil tussen die Oudgriekse en Engelse metriese patrone: die antieke Griekse stelsel is gegrond op lettergreeplengte (soos die “lang en kort note” in die Liedboek van die kerk) en toonhoogte (soos in moderne Afrikatale of Chinees). Die meeste Europese tale, en ook Afrikaans, maak gebruik van versklem, waar metrum deur die patroon van alternerende beklemtoonde en onbeklemtoonde lettergrepe bepaal word. Die 19de-eeuse geleerde Matthew Arnold het in sy lesingreeks On translating Homer voorbeelde van Griekse lang-en-kort-noot-metrum wat op Engels toegepas is, gebied,  maar so ’n metriese patroon is moeilik om in ’n klemtaal te handhaaf. Die Engelse digter Alexander Pope weer het berymde “heroïese koeplette” vir sy vertaling van Homeros se Ilias ingespan, maar het teenoor ’n vriend erken dat hy daardeur die “rapture and fire” van die oorspronklike ingeboet het (Sherburn 1956:43−5). Pope se voorspelbare tweeslagrymvers raak baie maklik irriterend om te lees.

Antieke-Griekse verse (wat eerder gesing as voorgedra is) het egter wel as sekondêre faktor ’n sesvoetige patroon met ’n ligte vierslagritme vertoon. Logies gesproke moet ’n vertaling wat die gevoel van die oorspronklike wil weergee, ook ’n sesvoetige vers gebruik.  Whitaker se reël-vir-reël-ooreenstemmende verse bestaan egter merendeels uit taamlik los, aanpasbare vyfvoetige verse, waarvan sommiges met ’n klemlettergreep begin, ander weer daarop eindig. Hierdie aanpasbaarheid laat Whitaker se Engelse prosodie (die wyse waarop ’n woord binne ’n vers pas) goed werk: woorde behou hulle natuurlike klempatroon, al staan hulle wáár ook al in ’n vers. Die verse lees vlot, met geen gevoel van versdwang nie. Whitaker se vloeiende poësie lees maklik, en na ’n paar aande se lees hier teen slapenstyd het ek selfs in versmaat begin droom.

’n Nuttige inleiding (17−86) som die hele epos boek vir boek op en bespreek dan die hoofkarakters, Odusseus en sy getroue eggenote Penelopeia; hierna volg ’n ontleding van die hooftemas van die epos, insluitend die begrippe lyding en empatie. Die verskille tussen ’n orale samelewing en ’n geletterde een word uitgelig met ’n bespreking van die rol van verskeie pryssangers binne die epos, eerder as om lank uit te wei oor die vraagstuk of die geheimsinnige digter (of digters), “Homeros”, die epos “gekomponeer” of eerder slegs “oorgedra” het. Whitaker sluit sy inleiding af met ’n uiteensetting van die bepaalde vertaalteorie wat hy aanhang en sy eie vertaaltegniek. ’n Lys van die belangrikste name binne die Odusseia (526−32) word van ’n uitspraakgids voorsien. Sillabiese e word as ë aangedui om te verseker dat Engelssprekendes nie die slot-e onuitgespreek laat nie (soos in die naam Kirkë). Hier sou ek die kappie-ê verkies het.

African Sun Press het homself oortref met hierdie praguitgawe. Dowwe glansswart tussenblaaie (met opskrifte in wit letters) vergemaklik die vind van afsonderlike boekdele. Die eensgelyke blinkswart buiteblad met sy wit letters en net die woord Odyssey in rooi toon ’n klein seilskippie op ’n wydstrekkende, spieëlgladde see, uitgebeeld op die reghoekige seil, ook in rooi, met die kop en gedraaide horings van ’n Suider-Afrikaanse koedoe (Tragelaphus Strepsiceros). Ek voel genoop om uit te roep: “Kudos to the production team!”

Whitaker se The Odyssey of Homer: a Southern African Translation is ’n pragboek om te besit – en, uiteraard, om te geniet!

Jo-Marie Claassen, afgetrede medeprofessor in Antieke Studies, Universiteit Stellenbosch.

Geraadpleegde bronne

Arnold, M. 1896. On translating Homer. Londen.

Meschonnic, H. 1973. Poétique du traduire, Parys.

Nida, E. 1964. Toward a science of translating. Leiden.

Sherburn, G (red). 1956. The correspondence of Alexander Pope. Oxford.

Whitaker, R. 2012. The Iliad: A Southern African Translation. Kaapstad.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top