"The little auntie is a clown"

  • 6

Foto van Deborah Steinmair: NB-Uitgewers

In een van my gunstelingstories van Jeanne Goosen, duidelik outobiografies, trek die kinderverteller haar pa se tuxedo aan en doen sy toortoertjies vir haar boetie en sussie. Later gaan verkoop sy raffle-kaartjies vir die skool, steeds in die opgerolde tuxedo. ’n Vrou nooi haar in en sê by die kombuistafel vir haar dogter met Down-sindroom: “The little auntie is a clown”. Die storie is “Lenie”, in ’n Gelyke kans. En Jeanne was ’n aangrypende nar met ’n aangebore aanvoeling vir tydsberekening, balans en die absurde.

Sy het grappe uitgedink. Een wat sy volgens haar geskep het, het ek al wyd gehoor. Dit berus, soos baie van haar grappe, op mimiekkuns, fisieke teater. Die man wou sy vrou skrikmaak. Hy wag om die hoek en spring uit met ’n “WHA!”, arms in die lug. Dis toe nie sy vrou nie, maar die huishulp, dus huppel hy maar deur die vertrek met arms na bowe terwyl hy telkens “WHA!” gil.

Sy het gehou van kort raaisels, soos “Wat is geel en draai al in die rondte? ’n Langspeelpannekoek”.

Ek het een keer vir drie dae lank gelag oor iets wat sy vertel het. ’n Mens kan dit moeilik oorvertel, want dit steun so sterk op haar uitstekende gesigspel en gebaretaal. Sy het besoek afgelê by mense met ’n verstandelik gestremde seun. Sy skilder vir jou die dekor in die sitkamer sodat jy ’n gevoel van die plek kry: ’n Ry porseleinhonde met pleitende oë, van klein na groot gerangskik. ’n Bak met glasvrugte en ’n klippie wat in lekkergoedpapier toegedraai is. Gehekelde doilies oor alles. Dit was in die ou bedeling. Die ma en gestremde broertjie, vertel sy, het meestal saam gesit en TV kyk. Wanneer ’n swart mens op TV verskyn, vererg die ma haar bloediglik en draai haar gesig en hele lyf weg van die skerm. Wanneer sy vir ’n oomblik elders kyk en nie raaksien dat daar ’n swart mens op TV is nie, tik die broertjie sonder om sy oë van die skerm af te haal teen haar bo-arm en wys met ’n stywe vingertjie na die TV. Daardie gesiggie wat Jeanne getrek het, soos van ’n gatkruiperige hoofseun, die dringende tik aan die arm, die wysende handjie, was ’n hele drama.

Haar stories oor die malhuis, soos sy dit genoem het, bly my ook by. Sy het altyd gesê daarbinne maak alles sin, met ’n dodelike logika en reëlmaat. Buite, in die regte wêreld, raak die son in sy strale verstrik. Een nag het die vrou in die bed langs hare vir ure lank na God gelê en roep. Uiteindelik antwoord Jeanne in haar donker stem (oor die telefoon is sy altyd deur vreemdelinge as “Meneer” aangespreek): “Ja, wat is dit?” “Is dit God?” wil die vrou weet. “Nee”, sê Jeanne. Hy is nie hier nie. Hy en Jesus het op Nuweland gaan rugby kyk.” En toe is die vrou stil.

Sy het partykeer gelag terwyl sy lê en skryf. Haar honde het haar ook laat lag. Toe ek haar leer ken het, het sy vir Wolfie gehad, ’n Doberman-Rottweiler-kruis, lywig en bejaard. Wanneer ek vir haar gaan kuier, het ek gevra dat hy asseblief nie op die bed slaap nie – daar was eenvoudig nie genoeg plek nie. Dan lê hy langs die bed op sy kussing, maar sodra Jeanne vir my kwaad word en my begin uitskel, kyk hy my vierkantig in die oë en gaan lê dwarsoor die bed. Ek het vir Jeanne gesê, wanneer daardie ou hond in die kamer poep, is ek oorweldig deur ’n besef dat die lewe eenvoudig nie die moeite werd is nie.

Ons het vir Poppie by die DBV gaan haal. Sy was al groot en duidelik getraumatiseer. My kinders het haar naam gegee. Poppie het altyd ernstig en depressief gelyk. Toe trek ons Kaap toe met Poppie en my kat, Meneer Swart, op die agtersitplek van my ou kewer. Die kinders het later gevolg. Dit was ’n gebeurtenisvolle rit. Êrens buite Touwsrivier begin dit reën. Die ruitveërs werk nie meer nie. Jeanne het ’n stok aan die veërs vasgemaak en hulle met die hand getrek en weer teruggestoot, deur die klein driehoekige venstertjie. Ek moes gedurig stilhou, want sy, die kat en die hond het op daardie rit diarree gekry.

Ek sal nooit in my hele lewe vergeet die eerste keer toe die nerveuse, gekwelde Poppie die see sien nie. Sy was ’n Staffie en het stywebeen soos ’n renostertjie begin huppel, in sirkels wat al hoe groter word, tot sy later galop met haar agterbene wat haar ore verbysteek. Sy was heeltemal uitgelate en ekstaties, elke keer wat sy op die strand gekom het.

Toe ek haar leer ken het, het Jeanne bitter hard gewerk, soos enigiemand wat vryskut en op tantièmes wag. Sy het gedurig artikels, rubrieke en resensies geskryf, net oor buitelandse boeke. Sy het geweier om haar portuurgroep te takseer.

Ek het haar in my debuutroman, Marike se laaste dans, gebêre, sodat ek altyd kan weet hoe dit was: “Die Skrywer is fantasties en onleefbaar. Sy strompel deur die vertrekke met elektriese hare. Sy dra ’n vuil groen trui onderstebo. Sy skel en swets in ’n stem soos heuning en sandpapier. Haar kop wil bars van idees. Verstommend is die uitdrukkingskrag van haar woedende tong. Haar ewige sigaret is ekspressief soos ’n vinger.”

Ons het geraap en skraap, soms met ’n canfruitbottel vol kleingeld drankwinkel toe gestap. Sy was lief om te kook, geurige bredies en slaai van tamaties en uie. Haar gunsteling was boontjiebredie. 

Toe het die Nagtegaals besluit om haar te borg. Hulle het ’n salaris en haar huur betaal sodat sy voltyds kon skryf. Dit het natuurlik nie so gewerk nie. Toe die druk van haar skouers weg is, het sy minder geskryf eerder as meer. Sy kon nou lê en die tuinvoëls dophou, sy kon na Maria Callas of Chopin luister en goue whiskey drink. Ek sal die Nagtegaals nogtans ewig dankbaar wees dat hulle na haar omgesien het toe sy oud was.

Jeanne was, soos Hettie Scholtz gesê het, weerloos en soekend na liefde en het geglo dat ’n mens alles wat jy liefhet sal verloor en daarom het sy mense weggestoot (of geskop) voordat hulle haar kon versaak. Sy kon ’n mens slegsê dat jy jou ouma vir ’n eendvoël aansien en sy kon jou naam oor die hele Republiek (ook haar uitdrukking) beswadder. Maar wat ’n mens onthou, is die lig, die kreatiwiteit, die onbehoorlike lag en al die grappe.

’n Mens kan heeldag oor Jeanne praat en nog boeke vol stories oorhê. Al die stories wat sy vertel het, soos: As jong joernalis is sy deur die koerant verbied om oor politiek of stories van die dag te skryf omdat sy te links van die regering was. Sy mag net human interest-stories skryf. En soos altyd het sy heelwat idees. Sy gaan vra vir ’n paar sieners om die wenner van die July-perderen te voorspel. Die July breek aan en al die voorspellings was verkeerd. Sy gaan weer by hulle hoor hoekom hulle dit verkeerd gekry het. Een vrou se verweer was: Alien interference.

Sy het eenkeer geskryf sy wens die mens kon mens wees, soos die hond hond. Sý kon nogal. Sy was vierkantig mens en heeltemal enig in haar soort. Ek sal haar nooit vergeet nie en al die plekke waar ons gewoon het:

“As ek terugdink aan daardie fifties-klinkersteenhuis in Brixton, aan die verwilderde tuin vol daggaplante en glasstukke, lig my hart haar uitgerafelde kop, besnuffel die lug en huil na die maan. Met nostalgie vir verlore hoop en ’n sekere blinkheid aan Hoëveldoggende. Vir die gevoel van 'ons twee huil nooit'.”

  • 6

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top