Regisseur: Jon Favreau
Kamerawerk: Bill Pope
Draaiboek: Justin Marks
Rolverdeling: Neel Sethi; stemwerk deur Bill Murray, Ben Kingsley, Idris Elba, Lupita Nyong’o, Scarlett Johansson, Giancarlo Esposito, Christopher Walken
Musiek: John Debney
Looptyd: 105 minute
Punt: 4 / 5
Niemand sou Disney kon beskuldig dat dié filmateljee nie sy intellektuele eiendom pak en herverpak om nog ekstra munt uit sy ouer stal te slaan nie. Die Muishuis het sy vermaaklikheidsvoetspoor die afgelope dekades uitgebrei van animasiereus tot ’n soort rolprentfabriek wat nou ook beheer uitoefen oor die groot eiendomme van Marvel en George Lucas se Lucasfilm. Die bekendstelling van Jon Favreau se The Jungle Book is Disney se mees resente nostalgiefees waardeur nuwe lewe in ’n ou familiegunsteling geblaas word.
Met Tim Burton se nuwer, donkerder Alice in Wonderland (2010) het Disney ’n rondte sogenaamde reboots van sy ouer films afgeskop. In die geval van The Jungle Book hersien Jon Favreau en draaiboekskrywer Justin Marks die klassieke gelyknamige animasiefilm uit 1967. In die nuwe weergawe beweeg Favreau egter weg van tradisionele animasie. Soos James Cameron se Avatar (2009) bied The Jungle Book innoverende filmvervaardiging deur rekenaaranimasie. Dit is egter nie die enigste gebied waarop Favreau se weergawe spitsvondig omgaan met hierdie welbekende verhaal nie.
Die kern van die 1967-film se plot, wat gebaseer is op ’n reeks verhale van Rudyard Kipling, bly onveranderd, en diegene wat bekend is daarmee moet dus nie te veel verrassings verwag nie. Mowgli (Neel Sethi) is ’n jong “menswelpie” wat as peuter in die Indiese woud agtergelaat is. Hy word gevind en grootgemaak deur die goedgesinde panter Bagheera (Ben Kingsley) met behulp van die wolfpaar Raksha (Lupita Nyong’o) en Akela (Giancarlo Esposito).
Kort voor lank blyk dit egter dat Mowgli in gevaar is. Die tier Shere Khan (Idris Elba) weier om mense in die woud te verdra. Gevolglik besluit die wolwe dat hulle nie langer hul menswelpie teen Shere Khan kan beskerm nie en Bagheera neem Mowgli weg om hom aan ’n nabygeleë mensenedersetting te besorg waar hy veilig sal wees. Deur die loop van die film ontmoet ons ook ander bekende karakters. Mowgli loop hom vas in die luislang Kaa (Scarlett Johansson), bevind hom in die hof van Louie (Christopher Walken), die “koning” van die ape, en natuurlik ontmoet hy ook Baloo (Bill Murray), die vrygeestige beer.
Die 1967-weergawe van The Jungle Book word onthou veral danksy sy liedjies wat vandag nog klein en groot kan vermaak. John Debney het die hooftemas van die oorspronklike film se musiek tot leitmotifs aangepas. Dit word in die nuwe film ingespan om die meer spannende verhaalgebeure van die nodige emosionele gravitas te voorsien. (Luister hier na ’n verwerking van die “Bare Necessities”-tema.)
Hoewel elkeen van die oorspronklike liedjies uit die 1967-weergawe nie uitgevoer word nie, is die bekendste twee daar: die hedonistiese Baloo gee Mowgli ’n paar lewenslesse in “The Bare Necessities” en Louie, wat in hierdie weergawe minder koning en meer Mafia-don is, verduidelik sy drang na mag in “I Wan’na be like You”, wat vir die nuwe film selfs ’n ekstra versie bygekry het uit die pen van een van die oorspronklike liriekskrywers, Richard M. Sherman.
Die lirieke van Kaa se grillerige “Trust in Me” word nie gesing nie, hoewel ’n spesiale snit wat deur Johansson gesing word op die klankbaan verskyn. In die film vorm die lied se lirieke deel van Johansson se dialoog, wat ook vernuftig omskep is tot plotuiteensetting om die karakter van Shere Khan ’n bietjie te kompliseer.
Hierdie karakter het die argetipe van die booswig geword vir baie Disney-films wat gevolg het op 1967 se The Jungle Book. Gee ’n mens The Lion King se Scar een kyk, word die ooreenkomste met Shere Khan gou duidelik; insluitend die onmiskenbaar hoogdrawende Britse aksent en camp persoonlikheid. Mens sien egter in Favreau se Jungle Book hoe Idris Elba se Shere Khan weer op sy beurt deur Scar beïnvloed is – van sy voorkoms (hy het ’n lelike letsel op sy gesig) tot sy eerste poging om Mowgli van kant te maak (daar is ’n waterbuffelstormloop betrokke).
Dit is juis die karakterisering wat die nuwe The Jungle Book boeiender maak as die oorspronklike. Eerstens verklaar die bietjie agtergrond oor Shere Khan waarom dié voorheen eenvoudige booswig Mowgli jag, terwyl die ander diere hul lewens waag om hom te beskerm. Tweedens gaan ingewikkelder karakters gelukkig ook gepaard met ’n knapper verhaaltrant, waar Mowgli se avonture beter by mekaar inskakel as wat in die 1967-weergawe die geval is. Derdens het die heersende diskoers oor die mens se verhouding met die natuur sedert die sestigerjare verander. Waar die mens eens op eenvoudige wyse oor die natuur gedink het as iets wat oorwin en oorheers moet word, het ons sedertdien ons interafhanklikheid met die natuur en beskerming daarvan sterker begin aanvoel. Hierdie verandering is duidelik in Favreau se film na te speur.
Die rolverdeling illustreer Disney se onlangse pogings om ’n ander rigting in te slaan as dié van die normatiewe middelklaswaardes wat soveel jaar die fondamente van sy rolprente was. Waar die stemwerk in die 1967-film ’n weerkaatsing van manlike witheid was – met amper alle stemrolle vertolk deur wit mans – gebruik die 2016-weergawe ’n diverse reeks stemme wat ’n moderne wêreld baie beter weerspieël.
Soos met Frozen (2013) daag The Jungle Book ook heteronormatiwiteit uit. Hoewel die film meestal nie ver van die oorspronklike verhaallyn afwyk nie, lewer dit interessante kommentaar betreffende nienormatiewe, saamgestelde gesinne. Hieroor wil ek egter nie te veel verklap nie.
The Jungle Book word in sekere dele van die land in Imax-teaters vertoon. Die pragtige, kleurvolle beelde en aksie maak die ekstra paar rand wat ’n mens hiervoor betaal wel die moeite werd. Die 3D-effekte is onindrukwekkend, soos met meeste films deesdae, en dit bly myns insiens ’n onsinnige geldmaakfoefie wat geen waarde tot die filmervaring voeg nie.
The Jungle Book is in baie opsigte baie dieselfde as die oorspronklike, maar dit vertoon ’n bewustheid van hedendaagse waardes betreffende familie en die mens se verhouding met die natuur. En boonop bly dit ’n prettige en vermaaklike avontuur.