The Historical Karoo betrek sovéél dat dit selfs vir Karookenners iets nuuts bied

  • 0

Titel: The Historical Karoo
Skrywer: Chris Schoeman
Uitgewer: Zebra Press (Random House Struik)
ISBN: 9781770225701

 

Koop The Historical Karoo by Kalahari.com.

Lees nog inligting oor The Historical Karoo op Random House Struik se webwerf.


 

The Historical Karoo is 'n uiters aantreklike boek oor presies wat die titel direk sê: aspekte van die geskiedenis van die Karoodorpe, mooi geïllustreer met historiese en moderne foto's. Die boek betrek al die dorpe, en dorpies, wat deel uitmaak van die Groot Karoo. 'n Enkele dorp wat eintlik op die randgebied van die Groot Karoo lê, soos Somerset-Oos, is ook ingesluit. Mens waardeer hierdie inskrywing, maar wonder dan waarom Molteno, Steynsburg en Burgersdorp nie ook maar die boek gehaal het nie.

Die boek is pragtig versorg en dit sou kleinlik wees om te kla oor 'n paar setfoute of 'n verkeerde stelling hier of daar. Die boek gee op kompakte wyse verstommend baie inligting oor die geskiedenis van elke plek, en met 'n hele reeks geblokte insette word daar kort lewensketse gegee van belangrike inwoners wat die betrokke plek opgelewer het, of wat daar gewoon het. So is daar interessante insette oor AG Visser, CJ Langenhoven, Olive Schreiner, Pauline Smith, DF Malherbe en die twee Louw-broers, NP Van Wyk Louw en WEG Louw. Nie net literêre figure kry hierdie besondere eer nie, maar ook mense wat op ander terreine groot prestasies behaal het.

Veral die historiese foto's beeld allerlei insidente uit die geskiedenis van 'n besondere dorp uit. Die boek betrek soveel gebeurtenisse dat dit selfs vir die grootste Karoo-liefhebber en -kenner nuwe materiaal bied. Daar is ook pragtige eietydse foto's van beroemde Karoo-argitektuur, veral ook van die wonderlike kerke wat in die Karoo opgerig is, die meeste hiervan NG Kerk-geboue. Hierdie Karookerke is sekerlik van die kosbaarste argitektoniese erfenisse van hierdie land.

Die teks is redelik saaklik, maar tussenin word ook bekoorlike anekdotes ingevleg, en dit verleen besonder spys aan die boek. Wat sommige lesers sal pla en ander sal bekoor, is die nogal swaar klem op die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog en hoe dit die Karoo geraak het. Soms voel die leser dat die besonderhede oor watter Britse soldaat nou juis hiér of dáár begraaf is, nie so belangrik is nie. Maar ook dit dra daartoe by dat die geskiedenis vermenslik word.

The Historical Karoo slaag daarin om die atmosfeer van die Karoo in teks en foto te skep en te herskep uit jare her. Dit is 'n boek wat proe-proe gelees moet word. Dit is 'n waardevolle toevoeging tot literatuur oor die Groot Karoo, en dit stal die historiese en argitektoniese skatte van die Karoo voor die leser uit. Nie al hierdie kosbaarhede is normaalweg maklik te siene nie. Dit is ook 'n uitnodiging om die Karoo rustig te besoek en in te drink. Dalk sal daar oor 'n aantal jare 'n boek geskryf moet word oor die verwoesting van die wondermooie Karoo deur die ontginners van die skaliegas.
 

• Lees ook The Historical Karoo deur Chris Schoeman – 'n Onderhoud

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top