
Die stoomlokomotief kruip uitasem nader. ’n Erewag van glimlagte, kameras en veteraanmotors – van The Saint se Volo P1800 coupe tot Mr Bean se Leyland Mini – wag hom in.

En natuurlik ’n Bentley. Nou weliswaar nie die Speed Six Bentley waarmee die 35-jarige Britse renjaer, Woolf Barnato, in 1930 die bekende stoomlokomotief, Le Train Bleu, aangevat en met vier minute geklop het nie.

Maar darem, want 93 jaar later verruil ons twee Coetzee-gesinne net voor hanekraai mynhope, slaggate en lamppale met verkiesingsborde vir kameras en selfone. Ons het gepoog om die 191 km om 5:45 aan te durf, ooreenkomstig die 1930-wegspringtyd.

’n Miernes van mense stamp en stoot om staanplek toe te eien vir die regte foto. Nie eens ’n skelwoord – as ’n kop ewe skielik voor die perfekte foto inskuif – laat koppe draai nie.

My seuns het ’n ding vir ou motors, so die Heidelberg Great Train Race is vir hulle paradys op aarde. Dit is net klein David wat in my arms spring en skree toe die ou lokomotief soos ’n draak stoom blaas. Gelukkig laat die geloei van jare toet se brandweerwa hom gou weer babbel.

Ek is onseker hoe laat die fees tot ruste gekom het, maar naby middagete was ons uitgehonger vir burgers, dors vir bier, doodmoeg geloop en my selfoon te pap om nog krulletjies en draaitjies in die lug vir die nageslag vas te vang. Die ou sandsteenstasiegebou – ’n prag in eg Hollands-Vlaamse Renaissance-boustyl – lê minder as 5 minute se ry weg. Dit is omskep in restaurante met craft bier en ’n speelpark vir die kleinspan.

Die Vervoermuseum, lees ek later by die huis terwyl Vroulief ’n video vir YouTube saamweef en die kinders ’n polistireenvliegtuigie in die werf rondgooi, is in 1895 geopen toe die spoorlyn van Durban na Johannesburg die dorp bereik het. Die Rembrandt van Rijn Kunsstigting het die stasie in 1974 in die Vervoermuseum omskep. Daar is ook ’n 16c-stoomlokomotief, twee ou passasierswaens en ’n paar eetwaens.

Nog later kyk ons na Vroulief se video. Alhoewel sy ons herinnering perfek verewig het, is dit iets wat deur die mense-oog, en nie ’n kameralens nie, beleef moet word.

- Alle fotografie Karen Coetzee en Deirdré Coetzee


Kommentaar
@mylitnet @karen_ouma @stefaanscoetzee what a beautiful article - what a lovely day - what amazing memories - and I have to boast🥰 thank you @mylitnet for using my photos - proud moment😍 link above👆