The gospel according to Fratsgolf

  • 0

Waarskuwing: Wat hier volg, is eensydig. Ek kan net deur een kant van die teleskoop kyk. Ek skryf omdat ek wil sin maak. Dis hopeloos romanties om jouself as avatar te beskou, ’n besoeker verdwaal in die verkeerde sonnestelsel wat lomperig in ’n menselyf beweeg en menslike gedragskodes probeer ontsyfer. Tog is dit hoe ek myself van kleins af sien. Volksvreemdeling met permanente verblyfpermit maar sonder paspoort.

Die Bybelse Goue Reël vind dawerend weerklank in die ontheemde hippie-hart van die verdwaalde reisiger: "Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê." Dis so bedrieglik eenvoudig en vol ligspatsels. Maar ek moes dit helaas effens aanpas – die evangelie volgens Fratsgolf se goue reël is: doen aan jouself soos jy wil hê dat ander aan jou moet doen. Dis idiootbestand. Ek sal probeer verduidelik hoe ek my eie tweeling geword het.

Wat wil mensekinders hê? Leonard Cohen sing dit so raak, met spiertjie wat spring in die bleek wang: “Everybody wants a box of chocolates and a long-stemmed rose”, en later voer hy dit tot die wrang uiterste: “While old black Joe is still picking cotton for your ribbons and your bows.” Sien, net daar besef ek ek’s nie ’n mens nie. Los die tjoklits, die rose wat al in die bloemiste begin verwelk; vergeet verdomp van die linte en strik. Los die drama en wees gaaf. Een van my rolmodelle, die avatar Kurt Vonnegut, wat die wêreld lomp en reieragtig in ’n menselyf probeer navigeer en alles met ’n houtoog gadegeslaan het, het gesê: “Give me less romantic love and more common decency.” A-men. Hygromans maak dit duidelik dat die menslike psige hunker na ’n eindelose emosionele wipplank: een oomblik klap ek jou dat jou ore tuit, die volgende oomblik temper ek jou woede met ’n smeulende soen. Nee dankie, seg die gansie.

Ek het die Goue Reël probeer toepas. Aan ander gedoen soos ek aan myself gedoen wou hê: baie ruimte gegee, “decent” gewees (ek glo nie daar bestaan eens ’n Afrikaanse woord daarvoor nie), bestendig en hoflik gewees en probeer om nie skade aan te rig nie. Mense sien dit as vaag, verstrooid, emosioneel lui en effens vervelig en bly hunker na kronkelende intrige en sissende melodrama.
Oeps, verkeerde planeet.

Toe’t ek geleer om myself geselskap te hou. Later word dit al hoe moeiliker om my toon by die deur uit te steek, want niemand behandel my so mooi soos ek my behandel nie. Ek val my nooit in die rede nie, luister enduit na al my lang filosofieë, lag vir my flou grappies, maak altyd vir my die deur oop, los altyd die laaste blokkie sjokolade vir my.

Tom Waits het ’n wonderlike song oor ’n afspraak met homself, hoe hy vir homself wyn skink, homself die hof maak, homself opklets en uiteindelik homself misbruik. As ek myself uitneem vir ete, lees ek altyd vir my voor uit ’n boek. Ek is jammer om te sê, maar daar is min mense op aarde wie se geselskap by internasionale literatuur kan kers vashou. Wanneer die kos opdaag – helaas, altyd te gou, net wanneer die boek op sy fassinerendste is – skuif ek dit opsy en gee my onverdeelde aandag aan my wanordelike gedagtes. Ek is nie skaam om te sê nie; ek amuseer myself. Soms lag ek hardop, skud my kop of swaai my vurk meewarig. In beter restaurante is daar selfs spieëls waarin ’n mens jou eie oog kan vang en ’n skreeusnaakse oomblik kan deel terwyl jy ’n lakoniese, cool gesig opsit soos Woody, die cowboy in Toy Story. Mense by ander tafels hou op kou en staar na hierdie tafel waar dit so jolig gaan. Ons is die ideale paartjie, ek en myself.

Daar is mense, ek is jammer om te sê, soos my eksman, wat nie hul eie geselskap kan verduur nie en immer op soek is na iemand anders wie se lewe hulle kan versuur. Dit moet afgryslik wees as die binnekant van ’n mens se eie kop onherbergsaam is. As ’n mens jou eie beste vriend is, is alles so eenvoudig. Soos ek en myself, perfek gesinchroniseer soos sierskaatsers. Ons deel ’n verwysingsraamwerk en hoef nooit iets te verduidelik nie. Uitstekende geselskap, en net die dood sal ons skei.

Sela, ek hoop ek het sin gemaak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top