The Goat, or Who is Sylvia? laat jou jou morele waardes bevraagteken

  • 0

Jennifer Steyn, Sihle Mnqwazana en Lionel Newton (foto: Oscar O'Ryan)

 

Die dramaturg, Edward Albee, wat al drie maal die Pulitzerprys gewen het, se The Goat, or Who is Sylvia?, kry ’n Suid-Afrikaanse aanslag in dié Baxter-produksie.

Die teks lyk op die oog af eenvoudig: ’n middeljarige man met ’n vrou en tienerseun raak verlief op ’n bok. Hy deel dié nuus met sy beste vriend, wat dit op sy beurt in ’n brief aan dié vriend se vrou meedeel.

In die rolverdeling is Lionel Newton (Martin die argitek), Jennifer Steyn (Stevie die huisvrou), Paul Savage (Ross die vriend) en Sihle Mnqwazana (Billy die tienerseun).

Tot ek die program onder oë gehad het en toe die kennisgewing by die teaterdeur sien, wat waarsku dat die toneelstuk uitlokkend, uitdagend en skokkend is, het ek nie besef hoe diepliggend hierdie familiedrama is nie. Selfs aan die begin van die toneelstuk is daar vlymskerp humor, waarvoor die gehoor telkemale skaterlag en mens kan glo dat die hele gedoente met die liefde vir ’n bok, sommer ’n geskerts is en dat almal die volgende oggend gaan ontwaak en dit was alles net ’n droom.

Maar dit is nie.

’n Suksesvolle argitek met die wêreld aan sy voete, raak líéf vir ’n bok. Só verblind is hy deur sy liefde, dat hy deurgaans eers vir sy beste vriend en toe vir sy geliefde vrou met groot oortuiging vertel dat die bok net so lief is vir hom en dat dit wat hulle het, spesiaal is.

Die feit dat dit bestialiteit is wat hom nie alleen sy werk, aansien en vriende kan kos nie, maar ook boonop strafbaar is, blyk hom heeltemal te ontgaan in sy “edele” liefde vir die bok.

Die toneelstuk laat voel jou 90 minute later of jy deur ’n lang wasmasjiensiklus is. En nie op die delikate-stelling nie.

Eers is daar die pragtige verhouding tussen Martin en Stevie, wat jou met ’n vertroostende warmte laat. Hul humor en verstandhouding as egpaar is ’n uitstaande eienskap. Hul 17-jarige seun is gay en hulle omarm hierdie reis met hom.

Dan kom Martin se bekentenis dat hy ’n seksuele verhouding met Sylvia het en natuurlik dat sy ’n bok is. Vir ’n rukkie huiwer jy voor die afgrond in ongeloof: hy gaan nou enige oomblik erken dis sommer lawwigheid en dit gaan lekker ’n braaivleisstorie word.

Sy vrou se lang, stadige ineenstorting terwyl hy die volle verhaal van sy liefde aan haar blootlê, laat jou maag draai. Die vertedering op haar gesig van die stuk se eerste gedeelte, maak plek vir verslaentheid en afsku. Haar man het haar vernietig, haar vertroue geskend en ’n huwelik so volmaak as kan kom, vir die varke - of bokooi?- gegooi.

Die viermanskap staan onder regisseurskap van Fleur du Cap-wenner as beste nuwe regisseur, Mdu Kweyama wat ook Reza de Wet se Missing en Woza Albert! behartig het. Hy bedank die akteurs en kreatiewe span, wat hom meegehelp het om die storie “op hierdie oomblik, in Suid-Afrika, te vertel”, in die program.

Hy noem ook dat ryk teks en ongelooflike gebeure wat in die stuk ontvou, hom onmiddellik aangetrek het, want dit is boonop meesterlik deur een van Amerika se voorste dramaturge geskryf.

Lees jy op oor die skrywer én die toneelstuk sedert dit in 2002 op Broadway geopen het - en onder meer al ’n Tony-toekenning vir beste toneelstuk gewen het - staan die akteurs wat die rolle die afgelope bykans 20 jaar vertolk het, se ervaring en vaardigheid veral uit. In die rol van Martin was Bill Pullman, later Bill Irwin en Jonathan Pryce in die Broadway en West End speelvakke. Stevie is onder meer deur Mercedes Ruehl, Sally Field en Katy Fahy vertolk. Met 309 vertonings op Broadway in 2002 alleen, was dit een van dié vertonings wat jy moes sien.

Behalwe die Tony, het dit ook Drama Desk-toekenning vir uitstaande toneelstuk gewen en was dit ’n finalis vir die Pulitzerprys vir Drama in 2003.

En in Suid-Afrika spreek Lionel Newton en Jennifer Steyn se loopbane vir hulself. Behalwe jare se ondervinding, is hulle ook die ontvangers van verskeie teaterpryse.

Aan die einde van die toneelstuk is jy half deel van die tragedie wat op die verhoog afgespeel het en voel jou gemoed so deurmekaar soos die leefvertrek wat Stevie stadig maar seker aan flarde geskeur, geruk en gebreek het. Tussen die potskerwe, verflenterde kunswerke en hout kuns-installasie wat oral gestrooi lê, lê jou gedagtes en gevoelens.

Ek het iewers gelees dat Albee bekend was dat sy werke die Amerikaanse droom van 2.5 kinders, die wit heining en een hond, kritiseer, maar hierdie is kritiek op ’n heel ander vlak.

Dit het ons laat praat - in die motor, later oor ’n glas whisky, tot laat in die nag. Mens betwyfel en beredeneer jou morele standaarde, wát aan die toneelstuk jou die meeste ontstel óf onthuts óf omgekrap het. En eers met nabetragting kom soveel dinge by jou op: die feit dat sy vriend heel gewillig was om in sy geheim van ontrouheid te deel, terwyl hy geglo het Sylvia is ’n ander vrou, of Martin wat die familie aan flarde skeur met sy seksuele verhouding met ’n dier, maar in ’n oomblik van woede sy seun se gayleefstyl verneder.

Watter oortreding is groter as die ander?

Ek het weer in absolute verwondering na Jennifer Steyn se spel gekyk. Haar veelsydigheid as aktrise is verstommend. Haar spel in The Inconvenience of Wings en A Dolls House het my dae ná die vertoning nog met dele van haar dialoog in my kop laat worstel.

Hierdie toneelstuk is beslis nie vir sensitiewe kykers nie, maar soos die Baxter-bestuur in die program dit stel, “beslis ’n besoek aan die teater werd”.

Ek hou van teater wat my oortuiginge uitdaag, wat my regtig diepe introspeksie laat doen oor wat ek as reg en verkeerd beskou en hoekom ek dit só beskou. In daardie geval was hierdie dus beslis ’n besoek aan die teater werd.

My enigste ware kritiek jeens die toneelstuk is Mdu se keuse van Paul Savage en Sihle Mnqwazana in die rolle as onderskeidelik die beste vriend en jong seun. Paul was nie oortuigend nie en Sihle het die aandag te veel op hom gevestig deur amper groter as die rol te probeer speel, en soms effe lighartig oorgekom, wat my konsentrasie verbreek en my innerlike wroeging verwar het. So half asof hy ook gedink het dis eintlik ’n komedie dié.

The Goat, or Who is Sylvia?

Met: Lionel Newton, Jennifer Steyn, Paul Savage, Sihle Mnqwazana

Deur: Edward Albee

Regie: Mdu Kweyama

Musiek: Robert Jeffery

Kostuums: Marisa Steenkamp

Stel-ontwerp en beligting: Patrick Curtis

Ouderdomsbeperking: geen onder 16 en ouerleiding aanbeveel.

Die Baxter Golden Arrow-ateljee, Rondebosch, Kaapstad.

Tot 18 Mei 2019

Kaartjies deur Webtickets of uitgesoekte Pick n Pay-takke.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top