The firebird, deur Igor Stravinsky, herverbeel deur Janni Younge

  • 0

Foto: Verskaf

Jou pad het dalk al met dié van die 1910-ballet The firebird, deur Igor Stravinsky, gekruis, waar die aaklige Katschei se ondergang deur die toetrede van ’n pragtige voël bewerk word. Dis op ’n Russiese volksverhaal geskoei en het al regoor die wêreld gehore bekoor.

Maar niks kan jou voorberei op Janni Younge se jongste produksie, ’n herinterpretasie van hierdie klassieke werk, nie. Sy bevestig weer eens waarom sy as een van Suid-Afrika se mees vernuwende visueleteatermakers beskou word.

Ná uitverkoopte vertonings in die VSA – onder meer by The Mann Center for the Performing Arts, Wolf Trap National Park for the Performing Arts, Ravinia Festival, Hollywood Bowl en Saratoga Performing Arts Center – is sy in Kaapstad vir net vier vertonings van The firebird voor die geselskap na Cincinnati en San Francisco vertrek.

Younge en choreograaf Jay Pather neem die Russiese volksverhaal as vertrekpunt en plaas dit in ’n Afrika-konteks. Waar Michel Fokine – wat algemeen gereken word as die vader van moderne ballet – se oorspronklike choreografie gesetel was in tsaristiese fantasie, word die karakters hier herskep as beelde wat resoneer met Afrika-mitologie en die kontemporêre Suid-Afrikaanse identiteit.

Die storie wentel om ’n jong vrou – die Soeker – wat op reis gaan om haar kreatiewe krag te ontketen. Hierdie fokus skuif die narratief weg van ’n prins se heldereis na ’n introspektiewe, vroulike ontwaking. Die firebird self word nie net ’n magiese wese nie, maar ’n metafoor vir skeppingsdrang – ’n vlam wat binne-in brand en uiteindelik vrygelaat moet word.

Die volgepakte Operahuis maak my hart sommer bly. Toe die ligte doof en die eerste dansers op die verhoog verskyn, daal die stilte oor die gehoor neer. Niemand is op hul fone nie; niemand gesels nie. Dis klaar ongewoon, want dikwels voel dit of mense dink hulle is tuis en kan eet, opstaan en gesels soos hulle wil.

Toe nou nie.

Die twee jong seuns langs my het die eerste paar minute nog met hul chipspakkies gevroetel, maar gou albei vorentoe geleun met hul elmboë op hul knieë en vir bykans 60 minute in stille vervoering gesit. Hulle was ook eerste uit hul sitplekke toe die gehoor in luide applous uitbars aan die einde.

Die gehoor word onwillekeurig ingesuig in ’n wêreld van ritme en beweging. Daar is vlae en bamboesstokke en reuse vlerke; poppe in stukke; sommige kan stap, ander is net koppe of bolywe; ander het fraiings vir lywe.

Die meesleurende klanklandskap dryf die visuele aksie vorentoe, terwyl die dansers en poppe mekaar se energie versterk. Daar is later reuse blare, en in die agtergrond word tekeninge in houtskool en waterverf geskilder teen ’n maanagtige vorm wat uit die dak hang.

’n Slang en groot sekretarisvoël verdwerg die jong vrou en die prins; daar volg ’n teer vlerkdans, en soms is die bewegings melankolies, soms klappend kwaad en die getrap-trap van kaal voete op die verhoog soos reëndruppels op sinkplaat – ’n kaalvoet ritme wat jou voete laat saamtik.

Visueel is die produksie oorweldigend. Dis asof sy iewers tussen Roald Dahl, Wes Anderson en  Wolfgang Petersen se NeverEnding Story in haar eie verbeelding verdwaal het. Die poppe is sentraal tot die verhaal, maar staan nie in isolasie nie. Younge se kundigheid in popkonstruksie is duidelik.

Sy verstaan dat ’n pop nie bloot ’n rekwisiet is nie, maar ’n verlengstuk van die speler se lyf. Die manipuleerders bly sigbaar, wat aan die bewegings ’n ekstra laag gee: die mens wat die mite laat leef. Die een gedierte lyk baie soos Falkor van NeverEnding Story en die pragtige draak wat later verrys, se vlerke word uit die maanagtige vorm uit die dak gevorm.

Younge, wat internasionaal bekendheid verwerf het vir haar werk in visuele teater en grootformaatpoppe, het haar loopbaan gebou op die vermoë om musiek in beeld te vertaal. As stigter van Janni Younge Productions het sy oor jare heen ’n unieke estetika ontwikkel: handgemaakte poppe wat tegelyk reusagtig, dreigend én broos voorkom; ’n spel met skadu, tekstuur en simboliek; en ’n intense fokus op die liggaam as draer van die storie.

Sy het nie verniet al vyf Fleur du Cap-toekennings op haar naam en ook verskeie internasionale pryse ontvang nie.

Pather se choreografie verweef tradisionele Afrikaïese bewegings met moderne dans, wat ’n vloeibare taal skep waarin konflik, versoening en transformasie uitgedruk word. Die ensemble werk as ’n kollektiewe organisme; elke beweging voel organies aan die musiek se polsende ritmes verbind.

Soms is daar ’n eenvoudige vlag op ’n stok wat deur die lug klief en klapgeluide maak; soms bons reuse balle sagkens tussen die poppe se koppe.

Tog lê die ware triomf nie net in die produksie se skaal nie, maar in sy emotiewe trefkrag. Teen die tyd dat die majestueuse vuurvoël of draak uiteindelik “opstyg”, het die verhoog ’n ruimte van lig, kleur en klank geword wat die gehoor byna letterlik asemloos laat.

Younge bewys dat klassieke musiek en ballet nie net vir ’n uitgesoekte gehoor beskore is nie; dit kan herinterpreteer word op maniere wat nuwe gehore aanspreek sonder om die oorspronklike integriteit te verloor. Haar produksie eer Stravinsky se meesterwerk, maar gee dit terselfdertyd ’n vars, Afrika-gedrewe identiteit.

The firebird is meer as ’n vertoning; dit is ’n visuele simfonie, ’n viering van kreatiwiteit en ’n herinnering daaraan dat die teater steeds ’n plek van verwondering kan wees.

Wat my verstand met hierdie produksie te bowe gaan, is hoe op aarde Younge hierdie produksie kon versin het, mense kon oorreed om deel te neem, en dit dan só treffend uit te voer waar almal op die verhoog saam inloop in ’n magiese ervaring.

Hoe ook al, ek is dankbaar vir teatermakers soos sy wat my vir ’n uur weggevoer het na ’n nimmereindigende verhaal van mites en drake en liefde.

Foto: Clifford Roberts

Die staande toejuiging, wolwefluite en glimlagte by dié wat agterna in die foyer oor drankies bly talm het, is bewys dat sy dit nie net vir my suksesvol gedoen het nie.

The firebird

Oorspronklike ballet: Igor Stravinsky

Verwerk en herskep: Janni Younge

Choreografie: Jay Pather

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top