The Fabelmans
Met Michelle Williams en Gabriel LaBelle
Regisseur: Steven Spielberg
Daar is etlike slaggate waarin regisseurs of vervaardigers tuimel wanneer ’n huldeblyk, outobiografiese rolprent of persoonlike dokumentêr aangepak word. Dit word meestal verglans of versag en ontwyk dikwels sensitiewe, skrynende oomblikke in die onderwerp se verlede. Slegs die beste dele word uitgelig en geversiersuiker wanneer ’n openbare figuur self die storie vertel.
Vergelyk die onsamehangende en glimlagland-belydenis van Prins Harry en Meghan Markle. Net die prentjiemooie, dikwels uit een persoonlike oogpunt, word bygehaal met gepoetste vrae en aangeplakte glimlagte tussen die betraande wange. Dit plaas lipstiffie oor die waarheid.
Daarom benader ’n mens Steven Spielberg se kronieke oor sy kinderdae versigtig. Trippe-trappe-trone jy oor bekende feite en maak kennis met nuwe legendes. Daar moet ook onthou word dat daar dikwels neerhalend na hom verwys word as die koning van die versoeter en die sentimentele.
Maar, aan die ander kant: Wie het die reël gemaak dat sentiment nie mag voorkom nie? Dit hang af hoe dit gewys en gebruik word, in stede van misbruik word.
Die Fabelmans is eintlik die Spielberg-gesin, en Steven blaai broksgewyse deur ’n inkleurboek wat sy geskiedenis en liefde vir films soos ’n krabbel uitbeeld en navors. Dit moet dus nie gesien word as ’n dokumentêr, soos die verflenterde, glimlagbesaaide Prins Harry-dokkie, nie. Spielberg verduidelik wat sy ikoniese rolprente geïnspireer het. Geen wasgoedversagmiddel word bygevoeg nie.
Hy bring hulde aan sy geliefde ouers. Een is ’n eksentrieke, gefrustreerde kunstenaar, die ander geniaal slim en puntenerig. Hulle het die grondslag gelê waarop Spielberg sy verbeelding kon voort. En anders as in meesterstukke soos ET the Extra-Terrestrial (1982), is daar geen opruiende musiek wat die kyker aan Spielberg se kant skaar nie. Om die waarheid te sê, die musiek, weer geskep deur die onvergelyklike John Williams (wat 91 was toe hy dit geskryf het), is skaars merkbaar. Dit verskaf ’n snoesige musiekbed wat nooit die aandag aftrek nie, maar inkleur.
Selfs mense wat nie vertroud is met rolprentgereedskap nie, mag wyser hier uitstap.
Jong Sammy Fabelman (’n briljante Gabriel LaBelle) se kopskuif gebeur vroeg in sy lewe. Toe hy die groot rolprentmanipuleerder Cecil B DeMille se The greatest show on earth (1952) as pikkie gesien het, het dit vir hom ’n wêreld vol klank, kleur, beweging en manipulasie geopen. Die rolprent fokus dus veral op die manipulasie, want ’n regisseur moet dikwels ’n gehoor deur redigering, klank, musiek en kinematografie oortuig om deur die regisseur se oë na ’n onderwerp te kyk.
Dis die “gekontroleerde droom” waarvan die groot regisseur Stanley Kubrick gepraat het, en wys dat “’n mens kuns met masjiene kan maak en deur hulle kan droom” (om te parafraseer). Spielberg het daarin geslaag om aan masjiene soos redigeertafels, kostuums, kamerahoeke en musiek ’n menslike kwaliteit te gee. Die kyker is dus nie bewus van die masjiene soos in Avatar: The way of water (2022) nie. Daardie tegnologies gevorderde beelde is masjiengemaak en ’n mens weet dit, al is dit hoe meesleurend gedoen. In Spielberg se geval is dit sy ritme, sy eenvoudige menslikheid, en, ja, sy sentiment en emosie wat die beelde so oortuigend opdis dat dit met die kyker se brein smokkel.
Wat in The Fabelmans se guns tel, is dat Spielberg op vermaaklike wyse verduidelik hoe hy die gehoor betower. Want hulle gaan op ’n reis deur hul eie verbeelding, geïnspireer deur die vonk van Spielberg se beelde.
So verduidelik hy wat redigering toentertyd behels het. Hoe omslagtig en moeilik dit was om van een skoot na ’n ander te sny, want die proses was langdradig. Vandag word dit met die klik van ’n muis gedoen. Destyds is stroke film in ’n redigeermasjien vasgeklamp en dan fisies gesny en weer aan ’n ander gelas. Dit was ’n liefdestaak, verduidelik Spielberg.
Die proses in The Fabelmans is amper belangriker as wat op die skerm verskyn. Die regisseur as superster, en Alfred Hitchcock, Cecil B DeMille, John Ford en Charlie Chaplin was die baanbrekers, is volkome in beheer van sy materiaal, vandaar die auteur-teorie. Maar Spielberg wys hoe hy skoolboelies, oorblufte maats en gewone mense so goed geregisseer het, dat hulle oortuig het. Hy demonstreer ook in sy kort cowboyflieks hoe hy sy kamera as verteller ingespan met om die regte effek te verkry. Voeg daarby atmosferiese musiek, en ’n treffer is gebore.
Nie dat Spielberg nooit mislukkings gesmaak het nie. Hy het hom misgis, soos met 1941 (in 1979) en in ’n mate die einste The Fabelmans. Want al is van die rolprente hoe goed – indien ’n fliekganger nie ’n beursie uithaal en betaal nie, word die rolprentfabel as ’n mislukking gesien.
The Fabelmans was ’n slagoffer hiervan, maar ook van ’n veranderende rolprentlandskap waar teaters tweede viool speel teenoor die kassie-godin. Want hier is niks wat die algemene fliekganger noodwendig sal trek nie. Daar is dus nie ’n “storie” wat in ’n kits opgelos word nie; ’n televisiesindroom wat soms meer skade aanrig as enigiets anders.
Michelle Williams as Sammy se onortodokse ma en Paul Dano as sy pa pas so netjies in hul rolle soos ’n balletdanser se voetjie in haar balletskoen. Maar veral ook Seth Rogen as oom Bennie met wie Sammy se ma ’n verhouding gehad het. As jy die krag van woordelose film wil sien, kyk na die montage wat Sammy saamgestel het waarin hy hierdie verhouding ontdek en visueel uitpluis.
The Fabelmans mag emosie uit Spielberg se rolprentbank trek, maar nooit so erg dat jy daarin verstik nie. Dit word onderspeel, tydsaam vertel en sonder kitsoplossings opgedis.
Spielberg se ontmoeting met ’n rolprentlegende vorm die eenvoudige klimaks van die fabel. Dit bevestig dat hy groot talent gehad het, en steeds het. En ons mag daarin deel.

