The Conjuring: Vreesaanjaend

  • 0

The Conjuring

Regisseur: James Wan

Spelers: Vera Farmiga, Patrick Wilson, Lili Taylor, Ron Livingston

Dat mense verskil oor godsdiens, geloof en spiritualiteit is ’n gegewe. Die ou gesegde wat teenstelling uitdruk, is hier veral van toepassing: Daar is net twee soorte mense in die wêreld – dié wat glo en dié wat nie glo nie.

Ek val in die eerste kategorie – seker daarom dat ek nie van spookstories hou nie en ook nie gruwelflieks kyk nie. Maar met my werk vir Silwerskerm was The Conjuring, met eksorsisme as tema, my voorland. Dit was toe geheel ’n verrassing, aangesien die fliek op ware gebeure gegrond is.

Ed en Lorraine Warren het sedert die 1960’s in Amerika gewerk met gevalle van okkultiese teistering en The Conjuring is ook ’n biofliek oor hulle lewe – Lorraine (’n bekende clairvoyant) was op 86 ’n raadgewer vir die draaiboekskrywer en regisseur. Die fliek speel af in die vroeë 1970’s en handel oor die Perron-gesin (pa, ma en vyf dogters) wat ’n ou plaashuis in Rhode Island goedkoop op ’n veiling opraap en daar intrek. En ja, dit blyk gou dat dit ’n “haunted house” is. Die vreemde, onverklaarbare gebeure en verskynsels raak later só erg dat hulle die Warrens se hulp inroep.

Laat ek dit duidelik stel: hierdie fliek is vreesaanjaend. Danie Marais, my Silwerskerm-kollega, se hare het penorent gestaan en ek moes konsentreer om nie te gil nie. Liefhebbers van gruwelflieks behoort dit te geniet – dis ’n groot loketsukses in Amerika. Maar ook gelowiges kan dit gerus gaan kyk, want as ’n baie realistiese uitbeelding van besetenheid open dit besonderse perspektiewe. Wees net gewaarsku dat jy na jou stoelleunings gaan gryp!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top