The Buckfever Underground stel Verkeerdevlei bekend

  • 0

The Buckfever Underground het onlangs hul nuwe album, Verkeerdevlei, bekendgestel. Toast Coetzer, "voorprater" van die groep, beantwoord ’n paar vrae hieroor.

Hallo Toast, hoe's dinge?

Dinge gaan goed met my. Ek’s pas terug van ’n lang, ryk reis op in Afrika (lees vanaf Desembermaand daarin in Weg), en het vroeër vandeesmaand weer Oppikoppi gespeel saam met Buckfever – dis een van my gunsteling-dinge om te doen.

Die bekendstelling van The Buckfever Underground se nuwe album, Verkeerdevlei, het op 24 en 25 Augustus in die Fugard-teater in Kaapstad plaasgevind. Ek was die Saterdagaand daar – dit was mal koel. Hoekom juis hierdie teater en hoe het jy die ervaring en ontvangs gevind op die twee aande?

Ons wou iets anders doen vir die launch shows. Die Fugard is een van die Kaap se beste venues – dis wel meestal ’n plek vir teater, maar die Fugard Studio is puik vir live musiek. Dit gee ook ’n statigheid aan jou performance wat ’n gewone gig in ’n donker pub nie kan gee nie. Ek is heel tevrede met die opkoms en ontvangs. Ons was nog nooit ’n huge band wat duisende (of honderde) mense lok nie, maar die tientalle wat by ons shows opdaag – voel ek – is daar omdat hulle regtig daar wil wees. Hulle is nie daar om cool te lyk of te maak of hulle van een of ander cool band hou sodat hulle ’n cool girl kan score nie. Niemand score niks by ons shows nie. Jy kry net wat jy sien.


Foto: Sam Reinders

Ek onthou nog goed hoe ek in die vroeë 2000's iewers “Die volk (is in die kak)” vir almal gespeel het wat wou luister (en wat nie wou nie). Is julle steeds so uitgesproke in jul waarnemings oor verskynsels en elemente van die Suid-Afrikaanse samelewing? In watter mate manifesteer dit nou anders as in die vroeë dae van Buckfever?

Ek dink dis nog rofweg dieselfde – “Die volk (is in die kak)” was natuurlik doelbewus uitlokkend, maar versprei oor ons ander albums (maar veral live shows) is daar baie liedjies wat ander, komplekse fasette van ons samelewing probeer uitlig. Sonder om prekerig te wees, natuurlik. Dit bly bloot een ou se waarnemings. As ’n mens spesifiek na Verkeerdevlei luister, dan is die liedjies wat jy kan uitsonder in hierdie opsig seker “Klawer”, “Die somber wou” en dalk “Take me to the mall”. En “Unfortunate of Fucked-Up?”.

As ek reg tel, is Verkeerdevlei jul sewende album tot op hede. As ’n groep wat nie regtig “kommersieel” in die hoofstroom is nie, wat dryf julle om so lank aan te hou om nuwe tunes te skep, op te neem en uit te voer?

Jy’t rofweg reg getel. Daar’s twee vollengte-studio-albums, twee EP-lengte-studio-albums, een demo-CD-R, een live album op CD-R, en dan ’n ordentlike live CD met ’n moerse lang titel: Limbs Gone Batty Or The Role Of The Anterior-Posterior Patterning Signal, Sonic Hedgehog, In The Development Of The Unique Bat Limb (Live). Sjoe. Ons is nou al 14 jaar aan die gang en ek dink dis juis daai skeppingsdrang wat Buckfever as “idee” laat voortbestaan. Ons speel baie min live (op die meeste tien keer per jaar die laaste ruk) en die vyf lede woon in drie verskillende stede. Tog kry ons elke paar jaar ons gat genoegsaam in rat om ’n naweek in ’n studio te spandeer en ’n album op te neem. Hierdie slag was ons by T-Time Studios in Brackenfell, waar Tim Rankin (Bed on Bricks – en talle ander bands – se drummer) ons record het. Hy’t ons gou gesnap en was ’n belangrike deel van die hele recording. Na so ‘n lang lay-off het ons almal opgekropte kreatiewe energie wat dan dadelik ingeplug word in die studio.

Jy is onder meer ook bekend as skrywer, digter, joernalis en fotograaf. Jy het ook ’n nuwe band gestig, genaamd Simply Dead. Hoe kompartementaliseer jy jou skryfwerk vir die verskillende projekte? Met ander woorde, hoe besluit jy dat ’n sekere idee, konsep of storie die beste sal werk vir byvoorbeeld Buckfever Underground of Simply Dead?

Dis iets wat nog in wording is. Daar is een liedjie – “Nou-nou kom die trane” – op die Simply Dead-CD (Emoticon Breakdown) wat geskryf is voor 2011 en net sowel ’n Buckfever-tune sou kon word. Maar al die ander liedjies op Emoticon Breakdown het ek geskryf met ’n ander tipe energie as Buckfever (als is in 2011 geskryf). Simply Dead is lawwer as Buckfever. Simply Dead has no shame. Simply Dead is ’n pop-band, ten minste in my kop. Die kreatiewe proses met Simply Dead is ook baie anders – Jon Savage en Jane Breetzke, my partners in Simply Dead, is vinnige songwriters wat tjop-tjop iets op kitaar of klavier kan uitfigure. In Buckfever jam ons iets uit en rol dan met ’n hooftema waarby ander bylas, more or less. Buckfever is meer organies, Simply Dead meer berekend – en dis met die lirieke ook so. Die meeste Buckfever-songs sien ek as “pieces”, terwyl ek in Simply Dead voel asof ek vir die eerste keer “songs” skryf. Die moontlikheid bestaan egter dat die een manier van dinge doen dalk later die ander (hopelik ten goede) sal beïnvloed.

Een van The Buckfever Underground se bekende verhoog-“truuks” is om berigte uit ’n onlangse koerant voor te lees terwyl die musiek voortgaan. Wanneer het dit begin, wat is mense se reaksie daarop en in watter mate het dit ten doel om die luisteraar se bewussyn bietjie rond te klits?

Dis iets wat ons al van die begindae doen – seker maar omdat omtrent almal van ons in Buckfever joernalistiek geswot het en die idee van ’n teks as legio interpreteerbare opsies my nog altyd geïnteresseer het. Ons gebruik ook nie net koerante nie – tydskrifte, novels, ander mense se gedigte, pamflette en so meer is al oor die jare gebruik. Sodra jy daai teks op die verhoog voorlees, bring die veranderde konteks nuwe betekenis na vore wat die oorspronklike skrywer nooit kon voorsien het nie. Dis op ‘n manier soos ’n jazz standard – elke jazz muso kan dit herinterpreteer en met ander gevoel inspuit. Die luisteraar se bewussyn is egter vir hom of haarself om te klits.

Julle het tydens die vertoning ’n storie vertel oor ’n onsuksesvolle opening gig vir Anton Goosen in Potchefstroom. Wat presies het daar gebeur en was daar ander plekke waar die gehore nie juis gesnap het wat julle doen nie?

Dit was maar pas toe die band begin het, seker 1998 of 1999. Ons het die Geraas (daai SABC2-musiekprogram van die laat ’90’s) Vuurdoop Liedjieskryfkompetisie gewen – die prys was dat ons ons debuut-EP, Jou medemens is dood, kon opneem. Met die album uit is ’n paar shows vir ons opgeline – eers Oppikoppi en toe Aardklop. Ek kan nie die particulars so mooi onthou nie, maar ons het al die pad van Grahamstad af deurgery en die show gespeel voor ’n volgepakte, effe dronk gehoor, en ek dink maar net die mense het nie ’n clue gehad wat om met ons te maak nie. Ons het net nie sin gemaak nie. So nou en dan het iemand ons met bierbotteldoppies gegooi, maar dit kon seker erger gewees het! En hulle het gejuig toe ons aankondig: “Hierdie is ons laaste song ...” Vir ons was dit egter ’n jol en later daai aand het ons saam met Brasse Vannie Kaap gepartytjie – groot helde van ons, daai manne (RIP, Mr Fat).

In teenstelling daarmee, wat is vir jou van die hoogtepunte van Buckfever Underground se bestaan tot dusver?

Ek lag nog steeds by myself as ek dink dat ek nou al vir 14 jaar in ’n band is en nie eers kan sing nie! En nog minder ’n musikant is – ek kan niks instrumente speel nie ... So net om in die band te wees is vir my great. Hoogtepunte is vir my eenvoudig: om ’n goeie gig te speel, en om ’n album uit te bring waarop ons trots kan wees. Ek voel so oor Verkeerdevlei, al is dit diep weird op plekke.

Is daar onderliggende temas in Verkeerdevlei waarop die luisteraar bedag moet wees? Waaroor handel die album vir jou in ’n breë sin en wat hoop jy put mense uit die luister-ervaring?

Ek dink Verkeerdevlei is vreemder as ons vorige langspeler, Saves (2007), maar ek dink Verkeerdevlei se 14 liedjies maak perfek sin mits jy die album van begin tot einde deurluister. Vir my werk dit die beste op ’n nagrit iewers heen. Jy’t ’n uur en ’n half se donkerte nodig – en alleenry werk beter – om Verkeerdevlei te voel. Die titel kom van die tolplaza met dieselfde naam noord van Bloemfontein op die N1. Toe ek vroeër vanjaar daar verbyry, was dit vir my vrek snaaks: Hoekom was hierdie die verkeerde vlei? En waar’s die regte een? Dis absurd. So ek dink die liedjies het elk hul eie tema (of temas), maar die album as geheel het ’n gevoel van verontrusting wat konstant bly. Verontrusting is seker ’n deurlopende tema. Dinge lyk rustig, maar dit is nie. Ek dink nou skielik aan ’n Diane Victor-skets wat ’n verlate plaashuis uitbeeld. Die voordeur staan effe oop. Die bees en skaap kyk vir die huis. Bakkiespore het by die hek uitgery. En jy weet: iets onheilspellends het vyf minute terug daar binne plaasgevind. Dis Verkeerdevlei vir my.

Hoe lyk die toekoms van Buckfever Underground? Sal daar nog albums en optredes in die toekoms wees? Op daardie noot: Op watter projekte wil jy in die nabye toekoms die meeste van jou skryfenergie toespits, en is daar enige nuwe projekte in die pyplyn?

Buckfever launch Verkeerdevlei by die Melville Poetry Festival in Joburg van 14 tot 16 Oktober. Daarna sal ons kyk of nog shows kom voor die einde van die jaar (hou www.thebuckfeverunderground.com dop, of volg ons op Facebook). Vir nou wil ek die CD in mense se hande probeer kry – radiostasies, vriende, fans. Dis ’n stadige proses (mense kan dit net direk by my koop – e-mail my op [email protected] vir bestelbesonderhede), maar ek geniet dit nogals om poskantoor toe te stap en CD’s vir fans in Pretoria, Vryheid of George te pos. Die meeste van my skryfenergie word natuurlik gefokus op my day job by Weg, maar ons begin ook eersdaags werk aan ’n nuwe Simply Dead-album. Daar’s ander goed ook, maar ek het meer tyd nodig!

  • Die wenner van LitNet se Verkeerdevlei-kompetisie is Plasticboer. Toast het gedigte wat lesers ingestuur het vir die kompetisie oorweeg en besluit Plasticboer se gedig "Baie Mooi" was die beste. Plasticboer wen ’n kopie van Verkeerdevlei. Klik hier om sy gedig te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top