die museumklok lui en lui.
die museumklok lui en lui en lui.
die here is nie jou herder nie.
jy maak en breek soos jy wil.
jy verfris jou siel deur te luister voor jy
praat en ken al die paaie van
geregtigheid, en ongeregtigheid soos
al die uitsprake van jou eie naam.
en die museumklok lui en lui en
lui, die museumklok lui en lui.
soos aan jou bok se nek, klok leë bottels
aan jou fiets se nek. dis jou langste winter ooit.
plek-plek gieter lentereën gate in die pad
voor die plaas se hek.
die kaap is ‘n winterreënvalstreek.
en die leë bottels aan jou fiets se nek klok-
klok oppad dorp toe om geruil te word
vir brood, of bier.
vir brood of bier.
en die museumklok lui en lui en
lui, die museumklok lui en lui.
die son wyk voor die dorp se gloed.
jou koue stem eggo deur ‘n radio:
dirk se naam met verf gemerk,
jansfiskaal se erf gevlerk,
bakkapel kerf sy kamp in sand.
wind ontwaak. verwarrende plakkate fladder
in die wisselstraal se neonlig. ‘n selfoontoring fluit
vir jou kerkgebou.
en verf verweer en vlerk ontveer, selfs
sand kol rond. dis al. en as die maan en uil jou
groet, blokkeer jou lykstoet oggendverkeer.
die wêreld is jou woning wel, profeet.
die wêreld is jou woning wel.
en die museumklok lui en lui en
lui, die museumklok lui en lui.
en as jy ooit van hom vergeet sal hy
soos ‘n teël val en breek. tot in lengte van dae
sal sy skerwe deur jou voete steek.
die museumklok lui en lui en
lui, die museumklok lui en lui.
een aand na ‘n uitsondering ver,
ver van die reël, tel ek ‘n droë eikeblaar
langs jou van die sypaadjie op.
die museumklok lui en lui en lui, en
die museumklok lui en lui, en
jou gedigte is baie mooi, baie mooi,
baie mooi, sê jy en ek bêre die dooie blaar
in my boek want dis baie mooier as my gedig.
baie mooier as ‘n gedig.
plasticboer

