The Best Exotic Marigold Hotel
Regisseur: John Madden
Spelers: Maggie Smith, Judi Dench, Tom Wilkinson, Bill Nighy, Dev Patel, Penelope Wilton

Die film se volle titel sê dit eintlik perfek: The Best Exotic Marigold Hotel for the Elderly and Beautiful. Dit synde die sakeplan van Sonny (Dev Patel) wat sy pa se geliefde maar nou erg vervalle hotel wil laat herleef tot sy voormalige glorie. Soos met baie jongelinge vandag is Sonny se eintlike sterk punt reklame en bemarking, sodat ’n uiteenlopende groepie afgetrede Britte op sy wonderlike advertensie reageer en afsit na Djaipoer in Indië.
Elkeen het sy of haar (verskuilde) rede vir die skuif na Brittanje se voormalige kolonie, en die kyker leer die karakters en hul verskillende storielyne mettertyd ken. Gelukkig gebruik die regisseur darem nie ’n paint-by-numbers-styl hiervoor nie: daar word netjiese tydspronge gemaak en ’n behoorlike verrassing ingebou teen die einde. Die Britte se ontmoeting met warmhartige, kleurryke, chaotiese Indië is merendeels ’n kultuurskok, maar bied ook juwele van menslike interaksie – en pragtige filmtonele.
Judi Dench vertolk ’n karakter wie se man onlangs gesterf het en haar met groot skuld agtergelaat het, sodat sy op haar oudag moet uitspring en werk soek, wat sy by ’n inbelsentrum in Djaipoer kry. Bill Nighy is ’n ou gunsteling sedert sy snork-runnik-laggie in Love, actually, en hier is hy die verpersoonliking van Britse ordentlikheid en droë humor (sou Hugh Grant sy lakonieke, effens onbeholpe speelstyl by Nighy afgekyk het?). Ook Dev Patel vaar uitstekend ná sy sukses in Slumdog Millionaire. Maar dis Maggie Smith (met die pragtige blou oë) wie se rol en vertolking my die langste bygebly het. Om haar en Dench teenoor mekaar te sien speel bly ’n plesier.
Hierdie fliek is sommer net vir geniet – deur oud én jonk.


Kommentaar
Ag ja, ek stem saam - mens stap lekker by die fliek uit - met die oudag-spook so 'n bietjie besweer.