The Beauty Queen of Leenane: Vir twee uur is ook jy vasgevang in Ierland

  • 0

Jennifer Steyn en Sven Ruygrok in The Beauty Queen of Leenane (Foto: Claude Barnardo)

Dis Saterdagaand op ’n reën- en windlose aand in Kaapstad. Daar is ’n feestelike atmosfeer by die Baxter-teater. Die foyer is vol, mense lag en gesels met glase wyn of whisky in die hand; die restaurant is ’n vrolike lae dreuning van mense.

Ek kan nie onthou wanneer laas ek die teater só ervaar het nie en ook met die wete dat al hierdie mense hier is vir een vertoning: The Beauty Queen of Leenane.

Met ons rooiwyn en whisky in die hand, neem ons stelling in. Die stelontwerp is weer soos ons daarvan hou: Karaktervol, vol, oorspronklik en voer jou onmiddellik weg na verre lande.

Die produksienotas lees as volg: “The Beauty Queen of Leenane, deur die bekroonde Ierse dramaturg Martin McDonagh (In Bruges, Seven Psychopaths, Three Billboards Outside Ebbing, Missouri en Hangmen) en wenner van vier Tony-toekennings, is ’n donker komiese verhaal oor die onstuimige, disfunksionele en dikwels wrede verhouding tussen ma en dogter, Mag en Maureen Folan.

“Die toneelstuk sentreer rondom die lewe van Maureen, ’n ongetroude 40-jarige vrou, terwyl sy vir haar siek ma omgee én liefde probeer vind. Wanneer die twee broers wat onder teen die heuwel woon, deel word van die storie, neem dinge ’n interessante wending en hoogtepunt. Met romanse en humor wat om die beurt afspeel, sal hierdie sielkundige riller gehore op die punt van hul stoele hê.”

Meer onlangs was dit The Banshees of Inisherin waar jy regtig McDonagh se vermoë om rowe af te krap en diep te wond, ervaar het. Hy skroom nie vir sielkundige aftakeling nie.

Maar voor ons nou uitkom by die “op die punt van hul stoele hê”, wil ek eers nog ’n bietjie vertoef by die stelontwerp en dekor. Voor die ligte uitdoof en die saal bykans heeltemal vol loop (ja, kan jy glo, en dis nie die openingsaand met klomp genooide gaste nie) bekyk ek alles op die rakke, die detail van jasse by die deur, ’n drommetjie vol “hout” vir die stofie, die radio en die bokstelevisie (die toneelstuk speel in 1996 in Ierland af).

Julie-Anne McDowell en Bryan Hiles in The Beauty Queen of Leenane (Foto: Claude Barnardo)

Die klipmure laat voel jou onmiddellik soos ’n besoeker in ’n klein Ierse kliphuisie en met die openingstoneel waar water teen die mure afkartel en patroontjies maak, sak die mistroostigheid en koue amper oor alles neer.

Die eerste paar sinne van Mag en Maureen se swaar Ierse aksente verras my. Aanvanklik dink ek dit gaan geforseerd en aangeplak voorkom en hoe op aarde gaan ek deur bykans twee uur daarvan sit? Maar 10 minute later en ek is regtig in daardie huisie in Ierland, meegevoer en betowerd.

Maureen doen alles vir Mag, maar met weerwil. En Mag put groot genot daaruit om Maureen te verneder en te verkleineer en sommer net moeilik te wees.

Die aandag aan elke aspek; selfs die kruideniersware wat Maureen koop, dra Ierse etikette. Die verwysing na koekies is eg Iers. Jy is waarlik vir twee uur weggevoer van enige plaaslike bande: Geen beurtkrag, taxistakings of geweld. Dis nou die fisiese geweld op ons strate. Want die emosionele geweld wat voor jou afspeel, is soos ’n sielkundige riller moet wees: Uitmergelend, maar by tye net so fisies-dreinerend.

Mag se een hand is rooi verbrand. Haar weergawe is dat Maureen haar gebrand het, want sy is mal. Maureen se weergawe is dat Mag vir haarself probeer skyfies in diepolie braai het en haarself verbrand het.

Aanvanklik is al jou simpatie by die vasgekeerde dogter. Sy sê op ’n keer vir haar ma dat haar ma vir altyd aan die lewe sal vasklou, net om haar dogter in te doen. Mag beaam dit.

Hulle gesels oor die vasgekeerdheid van Ierland, hoe Iere in Engeland en Amerika moet gaan bakhand staan vir werk en nooit volwaardige burgers is nie. Selfs Maureen het haar dosis hiervan gehad toe sy in haar twintigerjare in Leeds gaan werk het. Hoe daar geen werk in Ierland is nie en hoe daar altyd iemand aan’t vertrek is. Dit beïnvloed vriendskappe, familiebande en help die mistroostigheid van die gevoel in die land aan.

Julie-Anne McDowell in The Beauty Queen of Leenane (Foto: Claude Barnardo)

Mag kan natuurlik nie “vir altyd vasklou aan die lewe nie” en Maureen het geen lewe van haar eie nie.

Soos die storie ontvou, voel jy ook stelselmatig dié vasgekeerdheid. Daar blyk net geen uitkoms vir ma óf dogter te wees nie. Maureen se susters het hul hande aan hul ma gewas; Mag het versorging nodig. Dis ses van die een en ’n halfdosyn van die ander.

Dis twee resensente se aanhalings wat my gevoel toe ons uitstap, die beste opsom: “[...] ’n raar voorreg om teater van hierdie kaliber te kan geniet” (Adrian Poulsen), en: “[...] ’n [m]ens sit in ongeloof oor wat jy aanskou. Steyn, McDowell skitter” (AJ Opperman).

Sulke toneelspel en sulke regie het nie verniet vir die toneelstuk vyf Naledi-teatertoekennings ingepalm nie: Beste vroulike byspeler in ’n toneelstuk vir Jennifer Steyn; beste byspeler in ’n toneelstuk vir Sven Ruygrok; beste regisseur van ’n toneelstuk vir Charmaine Weir-Smith; beste teaterstelontwerp vir Greg King en die hoogs gesogte beste produksie van ’n toneelstuk. Dit het ook benoemings ontvang vir beste hoofaktrise in ’n toneelstuk vir Julie-Anne McDowell en vir beste beligtingsontwerp deur Denis Hutchinson.

  • The Beauty Queen of Leenane
  • Met: Julie-Anne McDowell, Jennifer Steyn, Sven Ruygrok en Bryan HilesDeur: Martin McDonagh
  • Vervaardig deur: How Now Brown Cow deur Daniel Galloway
  • Regie: Charmaine Weir-Smith
  • Stelontwerp: Greg King
  • Beligtingsontwerp: Denis Hutchinson
  • Die Pam Golding-teater by die Baxter
  • 2–19 Augustus 2023 om 19:30. Middagvertonings Saterdae om 14:00.
  • Kaartjies deur Webtickets by www.webtickets.co.za, Pick n Pay-takke of die Baxter by 021 685 7880. 
  • Geen onder 12’s.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top