
The Artist
Regisseur: Michel Hazanavicius
Rolverdeling: Jean Dujardin, Bérénice Bejo, John Goodman

Hierdie is seker die vreemdste Oscar-wenner in jare. En hoekom het Uggie die hond nie ’n Oscar gekry nie?
Maak geen fout nie: dis in alle opsigte ’n pragtige fliek – die inkleding, die kostuums, die musiek, die toneelspel. Die verhaal speel af tussen 1927 en 1934, dis feitlik heeltemal in swart-en-wit geskiet (wat natuurlik baie elegant en stylvol is), en daar is geen dialoog nie, want die hoofkarakter, Georg Valentin (Jean Dujardin), is die groot silwerdoekheld van die vroeë stilrolprentera. Met die opkoms van “talkies” wys hy dit af as ’n blote gier, vas oortuig van sy ewigdurende gewildheid by die publiek. Maar verandering, veral tegnologiese verandering, is ’n meedoënlose masjien wat oor mense marsjeer, en die arrogante Georg lê kort voor lank verpletter in die stof. (As dit te dramaties klink, gaan kyk die fliek.)
Hoewel ek The Artist geniet het, het dit my nogal met ’n “so what”-gevoel gelaat. Vir fliekvlooie wat hulle verlustig in nostalgie is dit verpligtend. Ek verkies egter Midnight in Paris, Woody Allen se slim spel met ’n geïdealiseerde verlede.


Kommentaar
The Artist is 'n waardige Oscarwennerfliek. Die hondjie het die kollig gesteel en ek sou hom aan die einde laat blaf het ... of nog beter. Voor daardie outydse gehoorstuk laat sit het . His masters voice!