Terug na ’n plek van gebed, ’n resensie van Die net is gebreek deur Chris van der Merwe

  • 1

Titel: Die net is gebreek
Skrywer: Chris van der Merwe
ISBN: 9781776351251
Uitgewer: LAPA

In vandag se tye van swaarkry, rou, nood en pandemies gryp mense na selfhelpboeke. Hierdie reaksie is op op sigself nie verkeerd of sleg nie – die leser soek hulp.

Die net is gebreek: gebed, die weg na vrede en vervulling (2022) deur Chris van der Merwe is ’n selfhelpboek vir die Christen wat meer soek as net ’n geestelike dagboek of algemene selfhelpboek wat deur die een of ander bekende persoonlikheid geskryf is. Die net is gebreek lei jou om jou Bybel met nuwe insig te lees en te verstaan, met spesifieke betrekking tot gebed – jou kommunikasielyn deur Jesus na God. Dit is ’n Christelike hulpboek vir ’n gewone, hedendaagse Christen.

Chris van der Merwe het ’n wye en ryke ervaring in die taal- en letterkunde. Van sy vernaamste publikasies is: Alkant olifant: ’n algemene inleiding tot die literatuurwetenskap (1998, saam met mede-outeur Hein Viljoen), Tromboniusdagboekenkaart: ’n Boerneef-boek (1981) oor Boerneef, oftewel Izak W van der Merwe.

Sy vakspesialiteite en navorsing bevat onder andere temas van identiteit, skuld, vrees en vergifnis, asook narratiewe van trauma. Hy het daarby ook ’n wye kennis van die Nederlandse letterkunde weens sy doktorsgraad in Nederlandse taal- en letterkunde van die Universiteit van Utrecht.

...
Hierdie boek maak die menslike ervarings waarmee ons almal worstel, werklik en verstaanbaar.
...

Sedert die vroeë 2000’s publiseer hy teologiese tekste waarvan Die net is gebreek die nuutste is en die wêrelde van literêre teorie, letterkunde en teologie laat saamgesels.

Van der Merwe se agtergrond in die letterkunde en literêre teorie kan beslis raakgelees word. Die raamwerk wat hier gestel word, is een van goeie teoretiese logika, soos in literêre studies, maar daar word met respek gebruik gemaak van die Bybel as leidende teks, wat beide as religieuse teks en as literêre teks gebruik word. Verskillende narratiewe word ook uitgelig en bespreek.

Om by gebed uit te kom neem Van der Merwe dit stap vir stap. Hy begin by die gebreekte net wat gebruik maak van ’n uitgebreide metafoor van visvang. Regdeur die Bybel word visvang verskeie kere gebruik as ’n metafoor van geloof.

Die kinderkrans- of jeugaksieliedjie “Visvang vir Jesus”, om vissers van mense te wees, en die wonderwerk van Jesus waar hy die visse en broodjies vermeerder, word hier opgeroep. Dit maak sin dat hierdie uitgebreide metafoor in die Bybel gebruik word. Visvang was ’n belangrike, alledaagse, maar ook armmanswerk – net soos Jesus se pa ’n skrynwerker was. Daarom funksioneer die visvangmetafoor besonder goed in hierdie selfhelpboek as deel van die proses van betekenisgewing vir die leser.

Van der Merwe begin deur te kyk hoekom die net sou breek – hoekom die leser se verhouding of kommunikasie met Jesus sou verbrokkel of breek, en waar daar na moontlike verbeteringe gekyk kan word om die net weer heel te maak. Die vraag wat telkens opkom, is: “Waar kan ek verander en watter deugde doen my verhouding met God skade en watter deugde bevorder my verhouding met God?” Hoogmoed, intellektuele hoogmoed, asook waaraan gewerk kan word om nader aan God om ’n beter verhouding te kom, word met deernis bespreek en verduidelik aan die hand van voorbeelde uit die Bybel.

Gebed, naas geloof, en hoe ons geleer word om te bid, word breedvoerig in verskeie hoofstukke ontleed en verduidelik, tot waar ons uiteindelik na Jesus moet kyk as voorbeeld van hoe ons moet lewe.

Die intense gebruik van metafore, vergelykingings en, natuurlik, bekende Bybelse gelykenisse word ingespan om vir die leser insig te bied. As iemand wat in die onderwys- en letterkunderuimtes werk, en navorsing gedoen en bestudeer het, het hierdie benadering my as Christen op nuwe maniere na my eie Christenskap laat kyk.

Wat hierdie Christelike boek ’n selfhelpboek maak, is die gebruik van ’n hoofsaaklik “niegelowige” navorsingsperspektief om insig en diepte te bied vir ’n Christelike doel – jou gebedslewe en verhouding met God. 

Die tradisionele Christelike literatuur, nie alle Christelike literatuur nie, neig soms om didakties, prekerig en met tye net té soetsappig te wees, asof dit nie vir ons gewone sterflinge geskryf is nie. Hierdie boek maak die menslike ervarings waarmee ons almal worstel, werklik en verstaanbaar. Verder lei die skrywer die leser stap vir stap aan die hand en volgens die Bybel terug na ’n plek waar gebed weer ’n toevlug kan word.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top