Terug na die basiese met Wiskunde-onderrig

  • 0

Tydens verkiesings het die presidensiële kandidate gewoonlik ’n slagspreuk waarop hulle hul verkiesingsveldtog baseer. In 2008 het Amerika se president Barack Obama sy veldtog gebaseer op “Yes, we can” – en oudpresident Ronald Reagan het vroeër sukses by die stembus verseker met sy slagspreuk “Back to basics”.

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) wil aanvoer “Ja, ons kan” die kwaliteit van Wiskunde-onderrig verbeter, in die besonder in openbare skole, maar dan is dit belangrik dat ons ’n “Terug na die basiese”-ommeswaai maak. Ons deel tog almal die kommer oor die swak Wiskunde-uitslae. Die feit dat Suid-Afrika so swak vaar in die internasionale Wiskunde-arena, dui duidelik daarop dat die kwaliteit van Wiskunde-onderrig ernstig aangespreek behoort te word – en dat iets drasties daaromtrent gedoen moet word.

Teen hierdie agtergrond is Wiskunde van verlede jaar die SBA se nuwe fokus. Ons het die agteruitgang in Wiskunde in openbare skole met kommer gadegeslaan en het dus besluit om iets te doen om  hierdie swak prestasie te verbeter. Onder die tema “Woeker met Wiskunde” is ’n kongres vir hoërskool-Wiskunde-onderwysers in Oktober 2012 as eerste tree gebruik om gestalte te gee aan die SBA se visie om die Wiskunde-slaagsyfer te verhoog.

Hierdie kongres is deur 110 Wiskunde-onderwysers in Oudtshoorn bygewoon en voortvloeiend daaruit het die behoefte ook ontstaan om ’n soortgelyke kongres vir laerskool-Wiskunde-onderwysers te reël. Tydens die onlangse April-skoolvakansie het die SBA dus ’n Wiskunde-kongres vir laerskool-Wiskunde-onderwysers gereël by die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch.

Dit was oorweldigend om te sien hoeveel toegewyde onderwysers hul vakansie opgeoffer het om hierdie kongres by te woon – in ’n tyd waar geglo word dat talle onderwysers nie meer bereid is om die ekstra myl vir hul leerders te loop nie. Daar is gekonsentreer op die Grondslag-, Intermediêre en Senior Fase. Op hierdie wyse kon ons ten volle aandag gee aan die hele spektrum wat betref Wiskunde in die laerskool. In totaal het 216 kongresgangers vir twee dae bankvas gesit en hulle van die jongste onderrig- en leermetodes vergewis.

Van die voorste Wiskundekenners in die land het as fasiliteerders opgetree en het die volgende  onderwerpe aangespreek: heelgetalle en die oorgang  van graad 7 na graad 8; Wiskunde, die KABV en metakognisie; probleemoplossing, modelle en taal in Wiskunde; patrone en vroeë algebra, musiek en skoolgereedheid; die wonder van Wiskunde; datahantering; woordprobleme en meting; meetkunde, patrone en ekwivalensie; en kreatiewe benaderings in die onderrig van Wiskunde.

Die onderwysers is elk van leer- en hulpmiddels voorsien wat hulle met vrug in hul klaskamers kan aanwend. Basiese hulpmiddels, byvoorbeeld ’n begrip van tyd, maaltafels, vorms en werkboeke vir die verskillende fases van onderrig, is voorsien.

Die SBA het ook in 2012 ’n Wiskunde-olimpiade vir graad 7-leerders van stapel gestuur.  Hierdie projek word in samewerking met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aangepak. Dit bemoedig leerders om die genot wat Wiskunde kan bring, weer raak te sien. Die doel is om die gaping tussen graad 7- en graad 8-prestasie te verklein. Ons het bevind dat punte verswak as gevolg van minder belangstelling in Wiskunde in die hoër grade.  

Die werk van die SBA geskied nie in ‘n vakuum nie, en beslis nie sonder vennote nie. Dit is dus belangrik dat projekte van hierdie aard in samewerking met die WKOD gedoen word. Die behoeftes ten opsigte van wiskundige- en taalvaardighede is so groot dat dit ondersteuning deur verskillende vennote  regverdig en ook innoverende inisiatiewe vra. Die SBA wil op hierdie wyse ook ’n liefde vir Wiskunde by leerders kweek en bevorder sodat dit in hulle uitslae kan weerspieël.

Die SBA glo dat ons ’n verskil kan maak en is bewus van die pogings wat die WKOD van stapel gestuur het om die getal leerders wat Wiskunde as vak neem, uit te brei. Dit bly ’n groot uitdaging om leerders se prestasievlakke te verhoog. Die Wiskunde-strategie wat die WKOD in 2012 ontplooi het, stem ooreen met die doelwitte van die SBA. Hierdie strategie beoog om die deelnamekoers in Wiskunde te vermeerder, die getal leerders wat in graad 12 Wiskunde slaag, te vergroot, asook die gehalte van slaagsyfers in graad 12 te verbeter.

Die toewyding en vaardighede van Wiskunde-onderwysers  sal uiteindelik bepaal hoe suksesvol ons gaan wees  om ons doelwitte te bereik. Die SBA glo dat ons oor die kennis en vermoë beskik om nie slegs die kwaliteit van Wiskunde-onderrig te verhoog nie, maar ook gehalte-onderwys aan ons leerders te lewer.

As ’n bemagtigingsinstansie het die SBA hom verbind tot die verbetering van die lewenskwaliteit  van mense deur die voorsiening van uitstekende opvoedkundige programme en opleiding  in letterkundige en wiskundige vaardighede.

So word ’n menigte mense se lewens ten goede verander en word die SBA se doelwit om gemeenskappe deur Afrikaans te bemagtig, bereik. So word daar as’t ware gestalte gegee aan Reagan se destydse oproep vir ’n terugkeer na die basiese en Obama se meer onlangse boodskap van hoop: “Ja, ons kan.”

Danie van Wyk is die Uitvoerende Hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top