
Foto: Canva
Terapie
Liefde se geheue hou nooit op nie. Waar liefde die sleutelwoord was, bly die deure oop. Al het die tyd nie stil gestaan nie, al was jy die einde te wagte, al het jy gewéét die laaste koebaai lê om die eerste draai. Die onthou bly. Jaar in en jaar uit. Dit kom en gaan saam met die seisoene.
Dis vir ons almal só ná enige verlies.
In die somer is dit warm en helder en brand rooi hale oor jou rug, jou skouers, jou hande. Jy smeer room aan, maar die son bly piets.
Saam met die herfsblare, lê dit sag en asemhaal teen die donker stamme van ’n boom iewers in jou tuin. Brons en bruin, half-verdwaal bly die boomwortels in jou binnekamers aanhou groei en bloei.
Wanneer winter se koue knyptang, pantser jy geheel jou menswees knus toe in verlange onder ’n verekombers. Jy vind vreugde in gesonde groentesop, wildsvleis en murgbene. Jy nooi mense om saam met jou te kom eet.
Alles lyk so normaal.
In die lente dans duisend mooi herinneringe deur jou gedagtes by die aanhoor van ’n bekende wysie, die reuk van braaivleisvuur, die eerste proe aan jou oggendkoffie waar jy alleen in jou dubbelbed wakker word.
Saam met elke nuwe môre, klim die liefde en die onthou by jou kamervenster in, parkeer sonder skroom in een van jou hartkamers. Dit gaan nooit weg nie. Die liefde vou troosarms om jou verweesdheid, jou verlatenheid.
Jou hartseer, jou wanhoop, jou verslae gemoed – alles gee jy oor. Jy leef jou lewe. Jy doen jou bes. Jy bid en jy lag en jy huil.
Oplaas skryf jy. Elke letter, elke woord, elke sin is terapie teen totale ontreddering.

