LitNet se Stemme is ’n reeks van 10 kort, kragtige monoloë, geskryf deur gevestigde en opkomende dramaturge, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, KKNK en NATi.
Antoinette Kellermann vertolk Breyten Breytenbach se monoloog Teenstemtweespraak. Breyten belig die teks, spesiaal geskryf vir Stemme, LitNet se monoloogprojek saam met die Suidoosterfees, NATi en KKNK, as volg: “Die onderliggende van die kort teksie is natuurlik dat die aktrise ’n brief ontvang van ’n afgesterfde woordvermorser wat kla, wat graag wil ‘terugkom’ om ‘by die huis’ begrawe te word, en sy het reeds genoeg probleme van haar eie (waarvan die woordvraat nie enige benul het nie) – en vir wat wil hy haar nou so kom pla?” Marthinus Basson het die regie waargeneem.
Teenstemtweespraak
(Spreker, generies, in swart, sit op ’n stoel onder ’n enkele kollig by ’n tafeltjie met twee gevoude velle papier, ’n aansteker en ’n glas wyn. Tydsberekening, afwagtende pouses, is belangrik. Sy/hy vou die brief oop en lees):
“Broer, my dor verlate broer / Iets wil hê jy moet nog roer / Soos biesies wanneer niemand meer kyk nie.”
Nou wat moet ek hiermee maak? Ek kan jou nie help nie. Wat soek hierdie teks? (Luister.) ’n Wêreld sonder skete waar lig soos ’n lag sal kets van die lewe se somber oppervlak? (Lag bitter.) Jy stuur vir my dié dooie haan verstom deur dagbreek sodat sy woordmiere aan my kan kom vreet? Om jou vervreemding op ons te kom afsmeer nogal. Nee kyk, moenie dat ek stik van die lag nie. Wat sal jy nou weet van “vervreemding”? Dis mense soos ek (beduie na onsigbare gehoor), hierdie rolspeler, wat die gelag moet betaal van ’n land … van ’n droom wat in sy moer is … En al wat ek wou doen is om toneel te speel … Waar was jy toe die bevryding die fên slaan? Op buitelandse verhoë aan’t pavaan soos ’n gekweste haan. Oor alles iets te sê, oral ’n eiertjie te lê. Al die jare jou vervreemding sit en blinkvryf by die vleispotte van Parys. (Luister.) Hoe nou? Dat jy nie veel van vleis hou nie? So what? Dat jy terug wil kom om die mense in die gesig te kyk? Maar jy weet mos mens is mens is mens waar ook al in die wêreld. Hoekom kyk jy nie regtig in die spieël in plaas van jouself so te bewonder nie? Nee, met die respek wat ek jou nié verskuldig is nie: Jy praat kak. Wees bly jy kan nog vervreemding bekostig. Wat traak dit my? Het ek nie klaar my hande vol genoeg met ons doodgaan nie? (Sagter, asof tersyde): Ook maar goed die waaier werk nie meer nie want die krag is af en die damme is leeg … Hoesê? Dat elke mens die reg het om in sy geboortegrond begrawe te word? Vir wat? Dat ’n haantjie sal opkom waar die veertjie geplant is? Dink jy nou regtig daar’s ’n hiernamaals wat nie net ensovoortse is nie? ’n Paradys met die hek soontoe hiervandaan? Het brandhout vir lyke dan nou opgeraak in Indië? En wat is verkeerd met ’n klein sloepie aarde iewers in Brasilië? Hoekom moet ons met jou opgeskeep sit? Jy beswadder ons so dikwels jy kan net sowel hier wees – miskien was jy nog altyd hier. Jy onthou nie? Daar moet tog ’n gedagte wees wat gebruik kan word as onthou … Miskien was dit nog altyd donker … Iewers het jy die sin van syn verlê. Moenie maak asof dit jou nie raak nie. Jy móét tog kan afreken met die syn van sinneloosheid in verwysings wat einde kry en nie net bly wegseil soos sinne wat te lank is om pyn te dra nie. Om pyn te verdra is die slang anyway nie lank genoeg nie …
(Luister, kop skeef gedraai.) Jy sê jy het nog altyd hier gemompelhurk waar die lig ophou? Dit lieg jy nou by. Iewers moet daar ’n komma wees om die waarheid van die bieg te skei. (Kyk na brief.) Iewers moet daar ’n woord wees wat rym met “hond”. Hier waar die ster so lankal begrawe is dat niemand dit meer weet nie. Nou is ek daardie niemand wat die donker moet kontekstualiseer vir die slang wat bang is vir mense. (Lees.) Hier gaan jy al weer met jou lank gelede sinne … Dit help niks. Jy soek nog steeds in die donker na klippies om blink te vryf en teen die lig te hou vir die opvang van lewe. Grawe al so lank na die doodmaak van dood dat jy vergeet om te lewe. Iewers hier … moet lewe begrawe wees sonder komma of koppelteken op die heuwel van die verbrande ster. Die vullishoop waar lyke weggegooi word. (Luister en lag bitter.) Waar die lyk nou skielik vandaan kom soos ’n gedig? Iewers moet die kont van bestaan ontgrond word! Vir wat wil jy hier in die donker kom grawe om die duisternis vas te hou? Nee … Bly weg. Keer liewers jou rug na die wind en bly op uitkyk vir gerugte van vryheid uit die berge. Van oorkant die grens. Ver genoeg van die opstal sodat jou gehuil ons nie snags uit die slaap hou nie. Moet nou nie verwaand soos ’n haan jou verbeel dit word aand net omdat jy hees is nie … Ons? Ons is voorlopig. Die intussen. Ons dra elkeen as aandenking van die land die donker wurm van selfvernietiging geskedel om soos ’n fetus by rypwording sy pad te knaag na waar die lig brand. Maar tot dan sal ons bly omgaan met ons voëlvrytaal. (Weeg die brief op.) En wat moet ek nou maak met die woorde wat jy in my mond wil lê? Hou jou klippies en gaan plant hulle waar jy ook mag swerf en sê: “Hier is my wegraakplek.” Hiér en hiér en hiér! Kyk, die wêreld is ons woning. En vat dan sommer hierdie brief en steek dit in jou gat op. Niemand kan daardie brandstapel vir jou aan die brand steek in jou plek nie. Laat daar lig wees! (Met die aansteker steek Spreker die brief aan die brand, kyk dan op na die lig en hou die glas hoog as heildronk.) Buitendien, die enigste antwoord op die simpel vraag wat jy weet onmoontlik gevra kan word, is: LEWE!
***
Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.
Klik op die foto om toegang tot al die Stemme-monoloë te kry:
Lees hier meer oor die Stemme-projek.