Teaterresensie: West Side Story by die Kunstekaap

  • 1

Eric Abraham en die Fugard-teater se West Side Story is 'n kragtoer.

Die verhaal

Die storie is tydloos soos Romeo en Juliette, en warm soos 'n kaggel. Die sangers se stemme pas so ideaal by die musiek dat dit voel asof dit reeds jare gelede, met die skryf van die oorspronklike stuk, vir húlle gekomponeer is. Die dekor is verbluffend. Die verhaal vloei.

Die storie is alombekend: twee immigrantegroepe (die Jets en die Sharks) in 'n onidentifiseerbare stad sit nie om dieselfde vuur nie. Hulle baklei, oënskynlik sonder veel ander rede as weens hul vooropgestelde idees omtrent mekaar. Soos die noodlot dit wil hê, raak 'n man in die een groep verlief op 'n vrou in die ander. Die liefde knetter, maar dis gedoem. Die jonge skoonheid Maria pleit by haar held Tony om al die sinlose geweld te stop en hy sweer dit, saam met sy ewige liefde vir haar. Helaas. Die verliefde jongeling se pogings om die rusies te stop, vererger net sake. In 'n hernude vlaag bendegeweld vermoor Maria se broer Tony se beste vriend. En Tony neem wraak en pleeg ook moord. Hierdie mense se dood bring nie insig nie. Die rassehaat en woede vir mekaar neem toe. Ten spyte daarvan dat Maria en Tony mekaar toesing dat daar 'n plek en tyd sal wees waarheen hul saam sal kan ontvlug, gebeur dit nie so nie. Versoening vind nie plaas nie. Tony word noodlottig gewond en sterf in sy geliefde Maria se arms.

westsidestory1

Sven-Eric Muller (Diesel) en Delray Halgryn (Velma) - foto: Jesse Kramer

Die karakters

Die hoofrolsangers tref in alle opsigte die teiken. Lynelle Kenned (Maria) se sangstem is soet en helder. Jonathan Roxmouth (Tony) s'n, op sy beurt, is sterk waar nodig, en teer as dit moet. Nadat hulle "Tonight" gesing het, het ek besef dat die meeste gehoorlede in my sig sit en trane wegvee. Ek was dus nie alleen nie. As akteurs is hulle gemaklik en op mekaar ingestel. Die ander prominente akteurs verdien ook erkenning: Christopher Jaftha (Bernardo), Bianca le Grange (Anita), Stephen Jubber (Riff) en Michele la Trobe (Graziella). Maar eintlik moet elke naam op die program uitgesonder word – hierdie produksie en elke akteur of medewerker daaraan verdien 'n gelukwensing.

Nog 'n sangeres wat spesiale melding verdien is Natasha Hess - vir haar solo in die laaste bedryf.

'n Enkele aspek waaraan aandag gegee kan word: die voortreflike Lynelle Kenned kan dalk sekermaak dat sy enduit haar Puerto Ricaanse aksent behou. En diegene wat karakters uit Ierland speel, moet net so bietjie poleer aan die uitspraak van 'n woord hier en daar. Dit behoort egter nie almal in die gehoor te hinder nie en val slegs op as mens reeds 'n land soos Ierland besoek het. Die dialoog en woordkeuse is vol humor en goed afgerond in die algemeen.

Van karakters gepraat, daar is een waarvan nêrens melding gemaak word nie: die teater.

westsidestory2

Daniel Buys (in die middel) as Action - foto: Jesse Kramer

Die teater as karakter

West Side Story word deur die Fugard-teater in die Kunstekaap aangebied. Dit maak sin: die Kunstekaap is 'n baie groter ruimte en sekerlik is die teater prakties gesproke tot meer in staat – om 'n stuk van hierdie omvang en uitdagings te kan huisves.

Daniel Galloway, uitvoerende hoof van die Fugard-teater, skryf oor twee ander baie belangrike aspekte in die program:

We are all particularly proud that this production is completely, in every facet, locally produced and built from the ground up in South Africa.

En ook:

This magic of the theatre allows us to escape and reflect ...

Hierdie is juis die soort ervaring wat mens weer laat onthou dat die ruimte waar die opvoering plaasvind, self ook 'n karakter in 'n storie kan wees. Baie dikwels word daar, met goeie rede (soos begroting), in die teaterwêreld met so min as moontlik soveel as moontlik vermag. Teaterstelle is minimalisties en bestaan dalk uit net 'n tafel en stoel. Die krag word geput uit die teks en toneelspel alleen. West Side Story moenie hiermee vergelyk word nie. West Side Story is 'n skouspel.

Dis 'n produksie wat meevoer en opsweep. Nie net die sang en die toneelspel en die danswerk en die musiek veroorsaak die vuurwerke in isolasie nie.

‘n Sterrereën van liggies agter die woonstelblok waar die twee verliefdes vir mekaar sing, het ‘n skitterende effek. Polisiemotors op die verhoog! Skuiwende betonblokke. ‘n Hele sieldodende fabriek waar immigrantevroue sit en klere maak wat onverwags van agter die gordyne af in mens se gesigsveld skuif.

Kortom: dis 'n sinergie - die akteurs en die teater werk saam.

Die produksie is 'n sintuiglike gebeurtenis. En een van die redes waarom dit so is, is weens alles wat hier beplan en tot stand gebring is, binne die ruimte tot almal se beskikking.

In 'n film kan mens enigiets doen, en spesiale effekte veroorsaak dat die gewone lewe soms saai lyk. Maar West Side Story laat mens onthou wat die betekenis is van lewende teater. Van harte geluk aan die choreograaf en die musiekspanne.

westsidestory3

Jonathan Roxmouth as Tony - foto: Jesse Kramer

Aanpassings vir hedendaagse Suid-Afrika?

Ek het gewonder of West Side Story aangepas sou word vir hedendaagse Suid-Afrika. Dit voel of dit moontlik is, om hierdie storie te verplaas na ons eie land.

Matthew Wild, vervaardiger van die produksie, skryf hieromtrent in die program:

How then, to take a "fresh, original look at the show" in South Africa in 2015, where the violent subject matter of the musical seems unnervingly close to home? Early on, we decided against any type of outright localization – the nationalities of the Jets and the Sharks are too specifically etched into the music and lyrics to make this viable. Rather we decided to emphasize the universality of the story and its themes ... we have sought to find our own way to bring this eternal story to life, and portray these troubled young criminals "as they are" – to create a highly energized West Side Story that takes the viewer to the heart of the piece.

Die verhaal speel af in 'n soort generiese stedelike omgewing. Die kostuums en inkleding onderskei groepe van mekaar. So ook dui 'n mengelmoes van aksente op al die immigrantegroepe: Iere, Pole, Puerto Ricane.

'n Mens kan net die stuk gaan kyk om te snap dat dit nie nodig is om dit na hierdie ruimte waar ons ons bevind, te vertaal nie. Dit is reeds hier, hier waar ons is. Dis universeel.

Terloops, daar is nog 'n ooreenstemmende element wat die kostuums en die omgewing en die aksente aankleef: dis die verpakking van outsiders, van mense wat van buite in die koue inkyk na die huise waar die kaggels brand. Begeerte en verlange is dalk 'n ander manier om dieselfde emosies te verwoord.

Die immigrant wat versugtend oor Amerika sing, sing oor alles van die Amerikaanse droom - maar bowenal die materiële. Die jongmense wat uit die klerefabriek of vanagter die swysmasjiene wil ontsnap en wil pret hê, kan enige plek in die wêreld woon.

Op 'n stadium berispe 'n ouer man een van die jongeres in 'n bende: Hoekom maak julle die wêreld tog so 'n aaklige plek?

Nee, die wêreld was reeds so toe ons hier aangekom het, stry die jonger man.

Dit is net een enkele voorbeeld om aan te dui dat hierdie werk nie net 'n superskouspel is nie, maar ook sterk en fel sosiale kommentaar lewer. Besef ons land – met sy bendes, maar ook met sy groeperinge wat mekaar takseer op vooropgestelde idees – dat ons almal vir mekaar se dood verantwoordelik is? Die bloed sit so rooi aan ons hande soos aan Tony s'n nadat hy Maria se broer vermoor het.

westsidestory4

Sarah Ann van der Merwe (Francisca), Chloe Perling (Consuela), Kirtsen Rossiter (Rosalia) - foto: Susan Chrichton-Stuart

Gelukwensinge aan almal wat hieraan beplan en gewerk het, ook diegene wie se name nie hier genoem word nie:

Matthew Wild, die vervaardiger; Louisa Talbot, die choreograaf; Charl-Johan Langenfelder, die musikale vervaardiger en dirigent; Birrie le Roux, kostuumsontwerp; Conor Murphy vir die stelontwerp; Josua Cutts, beligtingontwerp; en Mark Malherbe vir die klankontwerp.

This magic of the theatre allows us to escape and reflect ...

Mens behoort seker nie verbaas te wees dat die uitvoerende hoof van juis die Fugard-teater die kern en mees essensiële komponente van hierdie produksie so ráák vasvat nie.

Gaan kyk West Side Story en wees oorrompel deur wat jy sien, hoor en beleef. Gaan ontvlug. Gaan kyk dit ook, en stap weg om met nuwe oë na die strate in hierdie land, in hierdie tyd, op hierdie plek, te kyk. En na te dink.

Gaan kyk West Side Story. Sommer nog tonight, tonight.

Hier is inligting oor praktiese sake, soos waar om kaartjies te koop.

  • 1

Kommentaar

  • Lekker geskryf, Naomi. Ek hou van die diepte in die resensie en van die addisionele inligting wat jy verskaf. Jy het beslis moeite hiermee gedoen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top