Teaterresensie: Vrou-alleen in die Bôrdienghuis beïndruk

  • 0

Vrou-alleen met Anatha Shand
Regie deur Christine Truter
Vertaling: Christine Truter en Anathe Shand
Die Bôrdienghuis, Wellington

Die aande in Wellington is maar koud, en tensy jy ’n goeie rede het om jou kaggel of jou komberse te verruil, waag mens dit nie sommer buite nie. Toe ek en vroulief dus die meevallertjie kry vir ’n aandjie uit in die geselskap van Anatha Shand en Christine Truter se eenmensvertoning Vrou-alleen het ons gewonder of ons die regte ding gedoen het. Maar die oomblik toe Shand haar mond oopmaak as Mari-lu Williams, het ons geweet: dit was die regte ding om te doen. Vrou-alleen is ’n vertaling van die Italiaanse stuk uit 1977: Una donna (tutta) sola deur Dario Fo en Franca Rame.

Nes die oorspronklike hoofkarakter is Mari-Lu Williams nie op haar bek geval nie. Sy is passievol, luid, uitgesproke, sarkasties, sad en snaaks. En sy het daarop aangedring om te praat soos sy praat ... Truter het die Engelse teks, A Woman Alone, vertaal na Standaardafrikaans, waarna Shand dit weer omgesit het in iets wat beter sou pas in die mond van Mari-Lu Williams.

Die produksie begin met Mari-Lu se radio wat die woorde van “I need a hero” luidkeels uitblêr. Asof sy wil seker maak die moontlike helde daar buite hoor haar duidelik. En dis nie net die radio nie. Dis ’n DVD-speler, CD-speler, TV en …. Elke moontlike handelsnaam op die mark. “My man sorg vir my,” beantwoord sy die vraende kyke van die gehoor. “Om die waarheid te sê, my man verafgod my.”

Maar as sy daarna verklaar dat klanke hou haar company, want die baby slaap heeldag, weet die kyker dadelik: dis blote vertoon. Enige vrou wat afhanklik is van ’n radio en ’n baba om haar geselskap te hou, is eensaam. Selfs al bederf jou man jou ook met al die nuutste huishoudelike foefies op die mark.

So hoekom is sy eensaam? Immers is haar swaer mos daar as die nagte te lank word? En die gehuil van enige baba is genoeg om enige moeder tot raserny te dryf!

Vrou-alleen is die verhaal van ’n vrou wat emosioneel deur haar man verwaarloos is, haar dan aan haar eie genade en hormone oorlaat totdat sy – tot haar spyt en selfverwyt – haar wend tot liefde met ’n ander (jonger) man. Hierdie een misstap is genoeg vir die manlike pervert om sy vrou toe te sluit en die sleutel weg te gooi (letterlik en figuurlik). Mari-Lu Williams word toegesluit in haar flat. Maar sy kla nie. Sy't alles wat sy nodig het. Haar man Stevie gee haar alles: 'n double-door fridge, 'n Russell Hobbs slow cooker en selfs so nou en dan 'n taai klap. Haar lewensverhaal klink vir haar nuwe buurvrou baie rooskleurig, totdat Mari-Lu se secret admirer, 'n moneylender en haar lastige swaer die een na die ander hulle verskyning maak. Die chaos bereik 'n klimaks wanneer haar ex-lover boonop met 'n gebuigde spyker probeer inbreek.

Maak geen fout nie: hierdie verhaal speel hom af in duisende, sommige heel vooraanstaande, wonings. Kyk maar rondom jou en jy sal talle voorbeelde sien. En telkens is dit die vrou wat haarself kasty omdat sy ’n klein fout begaan het, omdat sy ook maar mens is. Dat die man swart is en Xhosa praat, is nie toevallig nie. Swart word die metafoor vir alle mans, sy vreemde Xhosa-woorde (Ndiyakutanda / Ek is lief vir jou / I love you) is simbolies van alle tale waarin vroue beledig en les bes verneuk word. Ons verneem later dat selfs hy maar dieselfde is as al die ander mans. Ook hierdie held had voete van klei. Die vrou is dus op meer as een vlak toegesluit; haar menseregte word haar ontneem.

Vrou-alleen is die storie van menige vrou wie se man haar bloot as ’n seksobjek sien; wat nooit die moeite gedoen het om die ware betekenis van die woord “liefde” of “vergifnis” na te slaan nie, laat staan nog uit te leef. ’n Bombastiese, perverse man wat ’n troulisensie verwar met ’n vrypas tot sy vulgêre idees van seks en nogmaals seks. Wat alles weet van ’n vrou se buitenste anatomie en hoe om die vroulike liggaam te onteer, maar sweet boggherol weet van ’n vrou se binneste (terloops uitstekend uitgebeeld deur die regisseur en die akteur sonder dat hulle enigsins respek vir die vroulike liggaam prysgee). Selfs die mees onkapabele man – soos haar swaer wat na ’n ongeluk net een hand het met die res van sy liggaam in gips, het net een ding op sy twee oorblywende breinselle: om die vroulike liggaam te betas. Want al is al die bene in sy liggaam gebreek, “makeer sy ding hier onder niks”.

Van vloek gepraat: ek is vooraf herhaaldelik gewaarsku dat die vloekwoorde my (en veral my vrou) sou ontstel. Wel, toekomstige kykers van hierdie stuk kan met ’n geruste hart gaan kyk: die “vloekwoorde” het nie vir my of enigeen in die gehoor gepla nie, want dit was regtig niks anders as wat jy in die alledaagse omgang met mense hoor nie. En vir die pervert is daar beslis nie iets onder die belt nie. Ook reg so, want ’n produksie wat hom juis uitspreek teen perversiteit, wil nie vir perverse mans nog rede gee waaroor hulle kan kwyl nie.

Die produksie is ’n tydige maar dalk futiele aanklag teen mans se platoniese uitkyk op die getroude lewe; wat die huwelik slegs gebruik as ’n gemaksone om soos ’n vark op te tree. Die vrou, daarenteen, smag na ware liefde, op soek na ’n man wat werklik omgee en nie sy pligte verdoesel agter nog ’n nuwe yskas of die nuutste menger-versapper nie. Dit, gee hy voor, is presente vir haar, maar eintlik is dit net ’n ander manier om te sê: die vrou se plek is in die kombuis.

Vrou-alleen lewer satiriese kommentaar op die hedendaagse man wat manlikheid verwar met rugby, met as enigste kultuur ’n vleisie op die kole. Dis ’n verhaal wat alle mans wat langer as ’n dag getroud is, behoort te sien, maar waarskynlik nooit sal sien nie, omdat hulle te veel van ’n sissie is om die naakte waarheid te aanskou – tensy daardie naakheid in die vorm van die vroulike liggaam is.

Maar daar is ’n positiewe kant aan hierdie storie: nie net lewer Shand akteurspel van uitmuntende gehalte nie; as regisseur slaag Truter daarin om die boodskap deur te gee aan vroue dat hulle uit hierdie situasie kan ontsnap as hulle regtig wil. “Ek is rustig,” sê sy teen die einde. En een vir een begin sy die mans wat haar uitbuit, af te maai. So raak sy ontslae van die slagoffermentaliteit en bewys sy dat vroue wel die mas kan opkom – alleen.

Dis nie moeilik om te begryp waarom Anathe Shand in April die Zabazala-teatertoekenning ontvang het vir beste aktrise in Vrou-alleen nie. Doen jouself ’n guns en gaan kyk na hierdie puik produksie as dit weer vertoon. Maak egter seker dat manlief saamgaan.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top