Teaterresensie: Vaselinetjie

  • 0
Michael le Cordeur is hoof van die B Ed-program aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch waar hy Afrikaansonderwys doseer op voor- en nagraadse vlak. Hy het tydens die afgelope US Woordfees diskoerse en teateraanbiedings saam met sy studente bygewoon. Hier deel een van sy studente haar mening oor 'n opvoering wat hul klas bygewoon het.

Chardené Vollmer

Vaselinetjie – my indrukke

Die regie is behartig deur Shirley Ellis, met akteurs Andrea Streso, June van Merch, Cedwyn Joel, David Louw, Brendan van Zyl, Caleb Louw, Carla Schmidt, Du Toit Albertze, Jeandre Janse van Nieuwenhuizen, Jessica Badenhorst, Johan Jordaan, Jumaine Hansen, Nicola van der Westhuizen, Patricia Baadjies, Samuel Jumat en Sesethu Ntombela. Hulle het hulle goed van hul taak gekwyt, want die toneel spreek tot ons lewens en gryp ons aan die hart.

Anoeschka von Meck het die bekende hartstogtelike boek, Vaselinetjie, geskryf. In 1998 het sy haar eerste debuutroman geskryf, Annerkant die longdrop, en Vaselinetjie was dus haar tweede boek. Anoeschka het vier jaar by die Herderberg Kinderhuis op Robertson gewerk en skryf dus uit eerstehandse ervaring. Sy woon tans in Calvinia se Boekehuis. Vaselinetjie is in 2005 bekroon met die Jan Rabie/Rapport-prys vir vernuwende Afrikaanse prosa en die MER-prys vir jeuglektuur.

Shirley Ellis is as aktrise wel bekend vir haar rol as Malherbe in die reeks Arsenaal,wat in 2002 op SABC2 sy verskyning gemaak het. Sy is tans ’n Suid-Afrikaanse vervaardiger, regisseur, aktrise, onderwyseres, mentor, afrigter en werkswinkelfasiliteerder. Sy het ook die regie behartig van Liefste Kayla vir kykNET.

Helena Bosman, met die bynaam Vaselinetjie, is ’n wit meisie wat grootgemaak is deur ’n kleurlingpaartjie wat haar in ’n vullisdrom gekry het. Sy was op ’n vroeë ouderdom van haar grootouers weggeneem na ’n kinderhuis in Gauteng, waar sy haar skoolloopbaan voltooi het. In die tyd wat sy in die kinderhuis deurgebring het, het sy vriende ontmoet, haarself gevind, verlief geraak, teleurstelling gevoel en lewensveranderende gebeurtenisse ervaar. Alhoewel Vaselinetjie en haar grootouers ongemaklik in mekaar se geselskap was nadat sy die eerste keer weer huis toe gekom het, het hulle mekaar na die bende-aktiwiteit wel weer gevind. Vaselinetjie het as die voorbeeldige volwasse vrou grootgeword wat nie omgegee het of sy wit is en haar grootouers kleurlinge nie, maar dat sy liefde en aanvaarding ontvang het ongeag wat die omstandighede was.

My eerste indruk van die aanbieding was angstigheid oor die feit dat Vaselinetjie van haar ouerhuis geneem was en ewe skielik die aanpassing moes maak om in ’n kinderhuis te gaan woon. Die akteurs en aktrises wat my beïndruk het, was dié wat die rolle van Vaselinetjie se grootouers vertolk het: Cedwin Joel en June van Merch.  Hulle het baie duidelik en hard gepraat en hulle gesiguitdrukkings en lyftaal was goed uitgebeeld as hulle verbaal en nieverbaal gekommunikeer het. Die akteur wat die rol as die maatskaplike werker, Sameul Jumat, vertolk het, was baie sag op die verhoog. Hy het ongemaklik in sy rol gelyk en het die rol té oordrewe vertolk.

Die regisseur het haar goed van haar taak gekwyt. Sy het die drama suksesvol uitgebeeld met die aksies en die dekor wat sy gebruik het om die omgewing voor te stel. Sy het daarin geslaag om die humor en hartseer goed te balanseer. Sy het ook goed gebruik gemaak van die Brechtstyl in die produksie waar die akteurs in en uit hul tonele beweeg het om die gedagtes van die ander akteurs uit te beeld.

Die beeld wat my altyd sal bybly, is die gesigsuitdrukking van Vaselinetjie se ouma toe sy terug huiswaarts gekeer het na die bende-aktiwiteit. Sy het opgespring en gehardloop van blydskap.

In die geheel gesien was dit ’n fantastiese en hartroerende toneelstuk wat ek met graagte sal aanbeveel vir hoërskoolkinders, volwassenes en studente, asook gesinne om dit saam te geniet. Die rede hiervoor is dat jy baie lewenslesse uit die toneelstuk kan leer.

Ek sal die toneelstuk van 4 sterre uit 5 gee vir ’n uitstekende produksie wat ek graag weer sou kyk.

Vaselinetjie is as ’n toneelstuk aangebied as deel van die Woordfees in 2015. Die vertoning het 9–11 Maart by Hoërskool Stellenbosch gespeel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top