Twee vir die prys van een deur Donald Churchill
Uit Engels vertaal deur Wim Vorster
Met Hannes Muller, Lizz Meiring en Michelle Botha
Regie: Neels Clasen
’n Produksie van Kosie House of Theatre in The Theatre On The Bay, Kampsbaai. Tot 26 Julie.
Walter (Hannes Muller) verf ’n studeerkamer uit volgens ‘n ware dame se opdrag sodat haar man tog tevrede sal wees as hy weer van ‘n sakereis terugkeer. Haar naam is Mercia (Lizz Meiring).
Terwyl hy werk, is hy getuie van ’n woeste aanval van ’n luidrugtige tierwyfie op madame Mercia. Hy kan alles hóór! Janie (Michelle Botha) skop ‘n yslike kabaal op oor sy in ‘n restaurant gesién het hoe hou Mercia en háár man handjies vas. In La Perla in Seepunt nogal. Dit het sekerlik nie daarby gebly nie. Later sal ons hoor dis ‘n ou laai van Janie se bul; hy’s ‘n reeks-owerspeler. Janie raak rof met beledigings, onversigtig met vase. Meteens is Mercia haar lewe nie meer seker nie. En dan die grootste dreigement: Janie gaan terugkom en álles, maar álles vir Mercia se man by sy tuiskoms uitblaker!
Ná die geitjie se vertrek blyk dit die man in die oorpak is passievol oor sy eintlike beroep: akteur wees. Dis 1975 en hy roep sy rolle in rolprente en op die verhoog van daardie tyd op. Hoe die blessitse amateurs byvoorbeeld sy spel hel gemaak het in ‘n Seder val in Waterkloof.
Hy het ‘n plan wat gaan werk! Hy sal voorgee om Mercia se man te wees. Nee, meer as dit: hy sal hom vertolk wanneer Janie weer gaan opdaag. Janie se wraak sal dan nie werk nie. Omdat Walter, ook ‘n ware haan onder die henne, so ‘n professionele akteur is, moet daar eers gerepetéér word. As hy Mercia kan oortuig, sal hy ook vir Janie; dan is hulle koppe deur.
Walter was al die passievolle Kardinaal in C Louis Leipoldt se Die heks en met oorgawe herskep hy daardie vertolking. Dié repetisie herinner aan ander komedies waarin die draak gesteek word met die teaterwêreld, maar dit raak nie die ene grappies net vir die ingewydes nie. Daar is iets snaaks vir almal. Kyk en hoor net wat maak Walter en Mercia alles met die Rose van Tonder-liedjie “Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei” (FAK-sangbundel, lied 22) tydens die repetisie toe Mercia nie genoeg waardering het vir Walter se ernstige spel nie.
En dan volg daar nog talle klugtige situasies en die gehoor hou aan en aan met lag.
Die stel, kostuums en beligting dra iets helders en afgeronds oor. Daar is sitgoed wat betyds breek. Die drie spelers is almal baie bekend en gewild. Hulle komiese tydsberekening en stemprojeksies is voortreflik. Regisseur Neels Clasen het ook al heelwat en verskillende verhoog-, televisie- en filmwerk gedoen. Hy behou die speltempo energiek sonder om die handeling in ‘n warboel te laat verander.
Michelle Botha se allerduidelike spraak beïndruk veral in die eerste konfrontasie, en dan kry sy ‘n heerlike oorgang as sy die tweede “vir die prys van een” word vir Walter. Hannes Muller sorg ook vir wisseling in sy spel met blitsige reaksies; hy ondersteun sy medespelers sekuur, of is snaaks as hy domineer. Sy gesigspel, daardie broek en die haarstyl spreek boekdele. Ek gaan Lizz Meiring seker nog lank onthou in die toneel waar sy briesend raak oor mense se antwoord as jy koffie of tee aanbied: “Ja, dankie, as jy gaan maak.” En dan is daar haar baie snaakse Valium-toneel. (Moenie ’n Mollie verwag nie. Daarvoor is sy ’n te veelsydige toneelkunstenaar.)
’n Mens kom gou agter waarom Wim Vorster in 1993 ’n buitengewone Vita-prys vir verhoogverwerkings en vertalings ontvang het. Dit is hier sy vertaling van The Decorator (1985) deur die Britse dramaturg en akteur Donald Churchill (1930–1991). Die verplasing na Suid-Afrika geskied oortuigend in goeie Afrikaans. Kort-kort sê ek in my kop ek sal graag hierdie of daardie kwinkslag wil onthou. Ek sou die Afrikaans met die Engels wou vergelyk om al die besonderse vondste te ontdek. Uit sekere bronne is dit duidelik dat Vorster byvoorbeeld Othello met Die heks vervang het. Shakespeare word Leipoldt, en later Noël Coward PG du Plessis. Geskiedkundige verwysings, byvoorbeeld na doerietydse politici, werk satiries.
Die lagbuie van die gehoor het sekerlik al die betrokkenes skeppingsvreugde besorg. Almal sal uiteraard nie ewe geesdriftig wees oor die teks nie. Ek verneem sommiges vind die erotiese dubbelsinnighede “plat” of “voorspelbaar”. Ek het dit nie so gevind nie. Altans, nie so dat ek op my horlosie begin kyk het of briewe vir die media begin formuleer het nie. Nee, die energie van die produksie het my gewoon meegevoer.
Waaroor ek wel sterk gefrons het, is die uiters swak taalversorging van die programteks. Ek glo nie die opsteller weet wanneer iets as een of twee woorde geskryf word nie. Daar’s ander spel- of tikfoute, soos: Hannes Muller is al “genommineer” vir ’n SAFTA; Lizz Meiring het al “verkillende” rolle vertolk; en Michelle Botha het in “internationale” films gespeel.



Kommentaar
Baie, baie dankie, Danie, vir die resensie en die mooi woorde oor die uwe. En my dank aan LitNet wat teater - en in hierdie geval komedie - ondersteun. Wim