
The Pervert Laura
Teks en regie: Louis Viljoen
Ontwerp: Guy de Lancey
Met Emily Child, Terry Norton, Nicholas Pauling, Sarah Grace Potter en Guy de Lancey
Dat Suid-Afrika ’n groot behoefte asook tekort het aan nuwe dramaturge, is geen geheim nie. Dit is veral in die Engelse mark dat hierdie jare lange droogte werklik ’n bekommernis is.
Na onlangse Afrikaanse kunstefeeservarings is dit baie duidelik dat die Afrikanerkunstenaar nog voel dat hy/sy ’n stryd het om te veg, met ’n oorgrote meerderheid werk wat geloof, seksualiteit en Afrikaneridentieit uitdaag.
Of hierdie wroeging nog moet lewe kry deur die kuns en “lugtyd” op die verhoog mag geniet, is debatteerbaar.
Ek voel dat hierdie temas té dikwels kreatiwiteit inhibeer en dat kunstenaars te maklik daarna gryp as die eerste beste voertuig om ’n verhaalreis mee aan te pak. Dít is egter ’n debat vir ’n ander resensie. Wat ek wel hiermee probeer uitlig, is dat wanneer hierdie kultuurspesifieke kwessies uit die weg geruim word, materiaal aansienlik moeiliker word om te skep, en dit dra grootliks by tot die ernstige tekort aan nuutgeskrewe Engelse toneelstukke.
Louis Viljoen, wat onlangs vir die tweede maal in sy maar betreklik kort loopbaan met die Fleur de Cap vir die beste nuwe teks, sowel as die toekenning vir die beste nuwe regisseur, weggestap het, blyk een van enkele fakkeldraers te wees in die kommerwekkende donkerte waarin moderne Suid-Afrikaanse teaterskryfwerk verkeer.
The Pervert Laura bied ’n ongemaklike naby blik op die effek van die bose op die mens se psige. Die verhaal word in vier netjiese tonele verdeel waarin die gehoor kennis maak met vier karakters wat Laura se pad kruis in afwagting vir haar pa se vrylating uit die tronk. Die verhaal is nie oordrewe of besonder teatraal nie, maar rig eerder die lig op die intrige van dit wat moontlik in die alledaagse skuil; selfs in die kantoorhokkie langs joune, saam in die dokterswagkamer, en dalk, net dalk, in jouself.
Die produksie spog met ’n A-klas geselskap wat met groot sorgsaamheid en met die fynste besonderheid Viljoen se teks aanpak. Emily Child wys net weer waarom sy by uitstek vanjaar se Fleur de Cap-toekenning as beste aktrise verdien het vir die waagmoed waarmee sy durf om die uiterskomplekse karakter van Laura aan te pak. Norton, Pauling, Potter en De Lancey dra grootliks by tot die skep van vier uiteenlopende ruimtes en situasies waarin Laura haar bevind. Die teks is gelaai en laat nie veel ruimte om asem te haal nie, veral nie vir die akteurs nie, maar die geselskap kry dit gemaklik onder die knie. Hulle is gesamentlik verantwoordelik vir die vasstel van ’n deurlopende ritme wat dit laat voel asof die gehoor as ’n weermagtroep deur die verwronge psige van Laura draf. ’n Mens verlang egter na ’n groter wending in die hoofkarakter gedurende die finale toneel waarin haar fantasie ’n werklikheid word. Hier mis Child net-net die broosheid van die karakter wanneer ’n geharde vrou weer tot dogtertjie verklein.
Dit is onontkenbaar dat Viljoen uit ’n baie definitiewe verwysingsraamwerk skryf. Hy bly ’n blanke Suid-Afrikaanse man wat, nes alle ander, sy eie verhaal, ervarings, geluk, hartseer en woede bring. Hy skroom ook nie om sy eie stem deur die karakters te laat hoor nie. Viljoen is bekend daarvoor dat die meeste van sy werke ’n baie duidelike en deurlopende verhaalstem het wat deurgaans deur die meeste van die karakters se ritmes en taal ondersteun word. Dit is iets waarvoor hy beide geprys en gekritiseer word. Bygesê, dit is baie belangrik dat ’n skrywer ’n bepaalde styl en herkenbare stem onwikkel. In die konteks van die huidige behoefte en tekort aan geslypte Suid-Afrikaanse Engelse tekste is die bedryf gelukkig om ’n skrywer soos Viljoen te hê wat gedissiplineerd, byna jaarliks, ’n nuwe teks te voorskyn bring. Die volgende uitdaging lê egter nou daarin om sy skrywersstem vars te hou en te bly uitdaag in die bepaalde ruimte en konteks waarin dit tans verkeer.
The Pervert Laura, al is dit nie ’n produksie vir “the faint-hearted” nie, is ’n tour de force wat nie misgeloop moet word nie, met spel uit die boonste rakke. Dit is tans, tot 23 Mei 2015, te sien by die Fugard-teater en kaartjies is by Computicket beskikbaar.

