Teaterresensie: The Painted Rocks at Revolver Creek by die Fugardteater

  • 0

The Painted Rocks at Revolver Creek

Teks deur Athol Fugard

Met Anna-Mart van der Merwe, Tshamano Sebe, Sne Dladla en  Likho Mango (of Siya Jantjie).

Regie: Athol Fugard en Paula Fourie

’n Eric Abraham-aanbieding  in die Fugard-teater hv Harrington- en Caledonstraat, Distrik 6, Kaapstad

 

 

 

 

Ongeveer 10 jaar gelede maak Athol Fugard kennis met die kunswerke van Nukain Mabusa.  Dié werk is veral deur die kunstenaar  JFC  Clarke bekendgestel. Fugard maak aantekeninge  en bewaar dit lank  – ’n bekende prosedure by hom – voordat hy ‘n toneelstuk daaruit maak. Hierdie een is in dieselfde rigting as The Road to Mecca waarin dit om die alleenstaande kunstenaar Helen Martins gaan.

Wanneer die opvoering begin, is ’n bejaarde Nukain (Tshamano Sebe) steeds besig om blomme op klippe te verf teen ’n koppie. Dit het jare gelede begin toe die Kleynhanse hulle oor hom op hulle plaas ontferm het met ’n werk en onderdak.  Nukain het Bokkie  (die jonge Likho Mango) as hulp en aanspraak. Dié bemoedig Nukain, is net gewoon lewenslustig terwyl die ou man selfondersoek instel: Wat sal sy laaste skepping wees? Het hy krag en inspirasie? 

Nou besluit hulle om die hoogste rots te skilder. Dit sal ’n triomf wees. Dit word op twee maniere ’n skouspel: Die skilderproses en hulle sang en bewegings.

Maar dis mevrou Elmarie Kleynhans (Anna-Mart van der Merwe) wat opdaag met onredelike opdragte. Sy verneder Nukain en ook  vir Bokkie toe hy opstandig raak en  sy held wil verdedig.

Gedurende die pouse word die stel hoogs effektief verander om aan te dui dis jare later. Die skilderwerk op die hoë rots word “verouder”  en oral is polle ou gras. En hoor  ’n mens werklik die mistroostige geroep van ‘n fisant of is dit ’n tarentaal?

In hierdie bedryf volg ‘n baie sterk konfrontasie tussen die volwasse Bokkie  wat nou Jonathan Sejake (Sne Dladla) heet, hy wat soveel ervaring het  van die res van Afrika,  en Elmarie Kleynhans, nou ‘n ouer vrou wat self gewapen moet gaan in die tyd van plaasmoorde.

Deur die drama heen is baie verwysings na ons landsake van gister en vandag. Dis kragtige uitsprake waarmee ’n mens heel menslik kan saamstem of verskil. Dit ontroer ook.  Een laat my ver terugdink. Sejake stel vrae oor die groepe wat hy en Elmarie verteenwoordig. Sién hulle mekaar werklik? Is aanvaarding en eenwording werklik moontlik?

Die sien-verwysing neem my na 1978 toe ek as boekeredakteur  die proewe van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena gelees het. Ek het dit met toestemming in rus en vrede tuis gedoen. Op die laaste dag neem ek die pak na George Louw, die eindredakteur, se kantoor by Tafelberg-Uitgewers. Elsa Joubert is ook daar. Half verwese sê ek: “Terwyl ek afstap, is dit of ek al die swartmense wat verbykom, vir die eerste keer sién!”    

 ’n Paar stilistiese voortreflikhede:  In die besonder by Anna-Mart van der Merwe en Likho Mango kon ’n mens soveel aan hulle gesigspel agterkom tydens ander se spraak. ’n Spanning  tussen hulle word in stilte boeiend volgehou. Veral Van der Merwe se konsentrasie is treffend teenoor Sne Dladla. Sy het ook baie oortuigend  ouer geword.

Die plasing en bewegings van die karakters skep ’n oopheid sodat ’n mens alles en almal dadelik duidelik kan sien en hoor. Jy kan ook subtiliteite geniet.  In die eerste bedryf leer Nukain vir Bokkie dat ’n mens, as jy so ver moet swerf, nie jou skoene moet verniel nie; loop kaalvoet. En toe hy die gedistingeerde Jonathan Sejake geword het – wat doen hy sowaar?

 In twee tonele was kleiner bewegings waaroor ons geglimlag het. Ons weet nie of dit beplan is nie. Seker nie! Bokkie sit naby  Nukain se verfblikke. Meteens wil een omval en Bokkie skuif dit heel rustig op. Later sal Elmarie dit met ’n bottel terpentyn doen.

Almal in dié teater is op en wakker.

  • Foto-erkenning: Jesse Kramer
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top