Teaterresensie: Pay back the curry

  • 0

Foto: Stephanie Papini

Pay back the curry! ... Die klein teatertjie is propvol toe die ligte 15 minute laat uitdoof en die blinkskerm-selfone weggepak en die laaste geselsies in die gehoor stil word. Die gehoor is ’n verblydend gemengde een: oud en jonk, mense van alle kulture, en daar is ’n jovialiteit in die lug toe Daniel Richards met die eerste van sy vele sketse en karakters wegval.

Ons ry op ’n trein in die toekoms in: die toekoms waar elektriese heinings deur groen grasperke vervang is, die president ’n vrou is wat vyf tale praat en taxi’s almal platgedruk is in kunswerke en uitgestal word.

Die gehoor reageer met lag hier en daar; die positiewe kykie na die toekoms klink vir almal aanvaarbaar.

Maar dan is daar tegniese probleme en ons is terug in die hede en ons almal weet hoe lyk die hede: rassehaat, verdeeldheid, korrupsie, kwotas, werkloosheid, ongeletterdheid. Daniel sê daar is meer ekonomiese groei, maar minder werk; meer hospitale, maar minder gesondheidsorg; meer skole, maar minder opvoeding.

Daar is bevestigende kopknikke, sagte geluide van saamstem oor al hierdie punte.

Hy speel verskeie karakters: die president, Julius Malema, Idols-deelnemers (selfs Heyneke Meyer neem deel), nuuslesers, programleiers en ’n lugwaardin op ’n vlug waar besigheids- en eersteklas net vir ANC-lede is en waar Thuli Madonsela vir ete bedien word – met regte messe en vurke, want sy is nogal taai! Die “lugwaardin” waarsku dat die vliegtuig baie waarskynlik kan val en dat passasiers in ekonomiese klas opsy moet staan sodat die ANC-lede eerste by die blouverligte uitgange kan uitkom.

Een “Idols-deelnemer” sing die liedjie “Blame apartheid” op die wysie van “That’s amore” en moedig die gehoor om saam te sing – wat toe ook gebeur. Hy raai aan dat jy apartheid blameer vir alles, selfs al is jy te kort of te lank of druip jy matriek en kry nie toegang tot universiteit nie.

Jy lag dat die trane loop, maar dink terselfdertyd oor die waarheid van sy woorde. Jou arm skuur teen die swart vrou langs jou, wat ook haar trane afvee en in die donker in jou rigting glimlag. Almal deel van die reënboognasie wat blinkoog wag op beter.

Daniel maak die vlymskerp woorde van Mike van Graan met regie deur Rob van Vuuren en Siv Ngesi as vervaardiger sy eie. Sy vertolking van elke karakter is skreeusnaaks en stel sy veelsydigheid as akteur op sy beste ten toon.

Dis nie sommer ’n hierjy teks nie: dis deur ’n uitmergelende ontwikkelingsproses waar die teks aan verskeie gehore getoets is, van mense by die Franschhoek Literary Festival tot die Makukhanye Art Room in Khayelitsha. Ná elke vertoning is skriftelike terugvoer gebruik om die teks vir die volgende vertoning te slyp.

Daar is waarhede soos: “Ons ken mekaar nie en die reënboog gaan dood”, of die dilemma van bruin mense wat nooit wit genoeg of swart genoeg is nie, maar as speelbal gebruik word wanneer hul stem nodig is.

Die stuk is meer as net 70 minute se trane-afvee-vermaak. Dis ’n kykie na die benarde toestand waarin ons land is en hoe ons almal dieselfde drome het, maar politici weerhou ons daarvan deur verdeeldheid en haat te stook.

Die afsluitingswoorde dat ons nog ’n hele rukkie op die trein in die hede gaan sit, “Wees asseblief ongeduldig”, is ’n aansporing om nie moed op te gee met ons kritiese denke jeens ons regering nie, maar om ook indringend te kyk na ons eie vooroordele.

Pay back the curry!

Met: Daniel Richards

Deur: Mike van Graan

Regie: Rob van Vuuren

Baxter Golden Arrow Studio

15 tot 27 Augustus 2016

Kaartjies deur Computicket

Die vertoning verskuif van 30 Augustus tot 10 September na die Kalk Bay Theatre nadat die Baxter-seisoen op 27 Augustus eindig.

Kaartjies by 021 788 7257.

Geen onder 16’s.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top