
Tylor Lamani en Sandra Prinsloo (Foto’s: Annène van Eeden en Joan Ward)
Master Class, die storie van die bekende operaster Maria Callas, word op treffende manier met teater en opera in hierdie toneelstuk deur Terrence McNally vertel. Dis in 1995 vir die eerste maal in New York opgevoer, bykans 20 jaar nadat Callas in Frankryk gesterf het.
Master Class bied ’n kykie na Callas in die konteks van die meesterklasse wat sy in 1971 by die Juilliard-skool in New York aangebied het. Op daardie stadium was haar operastem al vir ses jaar stil, omdat neuromuskulêre versteuring haar sangloopbaan kortgeknip het.
McNally, wat ’n toegewyde aanhanger was en al haar optredes by die Metropolitan Opera House gesien het, het ook dié meesterklasse bygewoon en dit het hom later geïnspireer om dit as toneelstuk te skryf.
In die toneelstuk werk Callas saam met drie studente – twee soprane en ’n tenoor. Benewens haar bytende spitsvondigheid is sy dikwels ongevoelig en selfs kras in haar pogings om die sangers te mentor en voor te berei vir die moordende wêreld van opera.
Soos die toneelstuk vorder, deel die diva insigte en herinneringe en herroep haar ervarings op die wêreld se grootste operaverhoë; haar huwelik met die ryk nyweraar Meneghini en haar uiteindelik hartverskeurende verhouding met die Griekse skeepsmagnaat Aristoteles Onassis.
Terwyl haar herinneringe in die toneelstuk aanskoulik is, het McNally eenkeer verduidelik dat Master Class nooit bedoel was om ’n dokudrama te wees nie, maar eerder ’n fiksiewerk. Dit gaan veral oor die prys wat ’n kunstenaar dikwels moet betaal in die strewe na uitnemendheid en grootsheid.
Die toneelstuk se meesleurende teatraliteit word aangevuur deur Callas se emosionele uitbarstings en die swewende arias wat onder haar leiding opgevoer word. Die storie vertel van haar oorwinnings en beproewings en onthul die onstuimige persoonlikheid wat dikwels tot botsings en dispute gelei het met operabestuurders en kollegas tydens haar loopbaan.
............
Die toneelstuk se meesleurende teatraliteit word aangevuur deur Callas se emosionele uitbarstings en die swewende arias wat onder haar leiding opgevoer word. Die storie vertel van haar oorwinnings en beproewings en onthul die onstuimige persoonlikheid wat dikwels tot botsings en dispute gelei het met operabestuurders en kollegas tydens haar loopbaan.
..............
Maria Cecilia Sophia Anna Kalogeropoulos sou op 2 Desember vanjaar haar 100ste verjaardag gevier het en hierdie dramatiese stuk is ’n huldeblyk aan iemand wat deur Leonard Bernstein as die “Bybel van Opera” beskryf is. In die toneelstuk sê die Callas-karakter self dat wanneer sy sing, “selfs Leonard Bernstein vergeet hy is Leonard Bernstein”. Siende dat Bernstein een van die belangrikste dirigente, pianiste en musiekopvoeders van die veertigs tot die tagtigerjare was, en boonop die eerste Amerikaanse dirigent wat internasionale erkenning geniet het, spreek haar woorde boekdele. Hy was onder meer die eerste Amerikaner wat by La Scala in Milaan kon dirigeer.
Callas is in 1923 in New York uit ’n familie van verarmde Griekse immigrante gebore en het as “La Divina” bekend gestaan. Haar nagtegaalstem het haar erkenning besorg as die grootste dramatiese sangeres van alle tye. Maar sy vertel van hongersnood tydens en ná die oorlog, hoe sy altyd ’n potlood by haar gehad het om raad neer te skryf en hoe dit dikwels ’n keuse tussen ’n potlood en iets anders – ’n lemoen byvoorbeeld – was. “En ek is só lief vir ’n lemoen.”
Sy vra vroeg in die toneelstuk dat die gehoor nie moet handeklap nie – “Ons is hier om te werk” – en dat almal wat hier is om die “meesterklas mee te maak”, bloot die diensknegte van die kunste is.
Sy praat soms in die niet in, oor die “meesterklasstudente” se koppe. “Jy dink ’n wonderlike loopbaan is maklik. Ha!” of “Niemand gee om vir jou probleme nie. Dis net die werk wat tel.”
Soos die harde realiteit van ’n diep seer uit die dialoog in jou ingewande kom sit, kry die woorde dieper, wyer betekenis. Hoewel haar woorde op die kunste van toepassing is, is dit moeilik om die lewenslesse daarin te misken, in ’n ouditorium waar die meeste mense ouer as 65 is. Die waarheid dat jongmense dink alles in die lewe in maklik en kom hulle toe, word ’n sterk boodskap.
Sy vertel aan elkeen van die studente dat hulle waarlik na die musiek moet luister; dat die musiek hulle wese moet opvul, want al die nuanses en ware betekenisse is in die musiek. Sy verklaar ook dat baie min mense in sang kan ween.
Die interessante gebruik van teaterbeligting is treffend, want dit laat haar soms amper spookagtig teen die swart agtergrond uitstaan of soms bykans laat verdwyn as die jong sterre sing. Sy erken in een van hierdie ligpoele hoe bang sy is voor die eerste note van die musiek begin, hoe vreesaanjaend daardie stilte kan wees. Sy wonder wat die gehoor van haar wil hê.
Maar ook die euforie as sy by La Scala optree: “Hier is die vet, olierige Griekse meisie met die dik brillense en slegte vel. Hier is ek uiteindelik beeldskoon.”
Sy beklemtoon dat die kunste skoonheid is en dat jy dit nooit verniet mag weggee nie.
Sy verklaar ook dat optrede ’n stryd is wat jy elke aand moet wen en dat die gehore jou vyand is.
Haar hele lewensverhaal word nie vertel of geïllustreer nie, maar soos die vertoning vorder, kry selfs diegene wat niks van haar lewensverhaal ken nie, genoeg insig in haar dramatiese stryd om haar verlede van verwerping af te skud en waarlik gelukkig te wees.
In ’n onderhoud in 1995 op CBS Sunday Morning vertel Eugenia Zukerman dat die sukses van Master Class nie berus op ’n toneelstuk oor ’n operaster wat ’n meesterklas in opera aanbied nie. “Dis suksesvol omdat dit hieroor gaan, maar ook oor die noodsaaklikheid van die kunste, van toegewydheid en passie, maar dis ook oor die diepste liefde en die seerste verlies.”
Maria Callas vertel in 1959 in ’n CBS-onderhoud aan Edmund R Murrow dat ’n ernstige kunstenaar iemand is wat hom geheel en al toewy aan die kunste en die kunste sy hele lewe lank dien – nie sy eie belange nie. “Dis uit hierdie onderhoud baie duidelik dat sy haar loopbaan en haarself baie ernstig opneem,” verklaar Eugenia Zukerman.
Dit bring my by die span agter die toneelstuk. Die veteraanaktrise Sandra Prinsloo en ewe bekroonde operasanger Magdalene Minnaar, wat sedert Februarie 2022 ook die artistieke direkteur van Kaapstad Opera is, se talente word op hul beste uitgebeeld in hierdie produksie. Albei neem hulself en die kunste net so ernstig op.
Prinsloo word Callas. Die waarhede wat sy praat oor die waardering van die kunste; die belangrikheid daarvan in ons lewens, word ewe toepaslik in die Suid-Afrika van 2023 – drie jaar van verhongering van baie kunstenaars. Dis as’t ware of hulle weer tussen die potlood en die lemoen moes kies.
Beverley Brommert skryf in Weekend Special – wie se slagspreuk, “Because arts matter”, nogal heel gepas is: “’n Beduidende element wat hierdie produksie versterk, is die oordeelkundige gebruik van video-ontwerp as swart-en-wit beelde van Callas in haar bloeitydperk wat agter Prinsloo verbyflits, sy self in byna monochromatiese drag. Dit is ’n samewerking tussen Kirsti Cumming en Magdalene Minnaar. Laasgenoemde wys haar staal as ’n bekwame regisseur – nie net van opera nie, maar ook drama.”
Voeg daarby die talente van nie net ’n pianis by uitstek nie, maar ook musikale regisseur, José Dias, en drie wonderlike jong operasterre en dis ’n aand van kunsoorgawe.
- Master Class is ’n koproduksie tussen Pieter Toerien en Kaapstad Opera.
Master Class
Met: Sandra Prinsloo as Maria Callas, Brittany Smith, Alida Scheepers en Tylor Lamani
Deur: Terrence McNally
Regie: Magdalene Minnaar
Musikant op die verhoog en musikale regisseur: José Dias
Theatre on the Bay, Kampsbaai, Kaapstad tot 11 Maart. Daarna van 15 Maart tot 2 April by Pieter Toerien’s Theatre at Montecasino in Johannesburg.
Geen onder-13’s.
Kaartjies kos van R180 tot R280 deur 021 438000/1 of via Webtickets.

