Teaterresensie: The Echo of a Noise deur Pieter-Dirk Uys

  • 0

Pieter-Dirk Uys (foto: http://www.capetownmagazine.com/events/pieter-dirk-uys-in-the-echo-of-a-noise-at-theatre-on-the-bay/11_37_56719)

The Echo of a Noise
Pieter-Dirk Uys
Theatre on the Bay
31 Mei tot 18 Junie, Dinsdae tot Saterdae om 20:00.
Kaartjies by Computicket en die teaterkaartjiekantoor, 021 438 3301

Geen resensie kan reg laat geskied of waarlik hulde bring aan The Echo of a Noise, die jongste eenmanvertoning van Pieter-Dirk Uys nie.

Jy kan nie een van ons grootste akteurs, stemme, satiriste, teksskrywers, kampvegters en HIV-opvoeders enigiets leer van teater as hy al meer as 7 000 maal alleen op verhoë reg oor die wêreld opgetree het nie.

Die vertoning is Pieter-Dirk Uys op ’n stoeltjie op ’n reuse donker verhoog, ’n straal lig wat hom omvou. Vir 90 minute stap jy saam deur sy lewe: die vrese en vreugdes van ’n jong seun wat in die 40’s en 50’s in Pinelands grootword. Sy pa, Hannes, vir wie hy bang is, sy ma, Helga Bassel - sy vertroueling en veilige vesting met haar herinneringe van ’n Berlyn voor dit vertroebel is deur politiek - sy suster Tessa en sy “Kaapse Vlakte-ma”, Sannie.

Hy vertel van die optredes in die Kaapse stadsaal, uitstappies na die see, laggende toeriste op die stoomtrein, hy wat sing terwyl sy pa hom begelei op troues en ander sosiale geleenthede, sy liefde vir Sophia Loren, sy ma se selfdood. Hy raak somber as hy in die gehoor in staar en sê: “Jy herstel nooit daarvan nie.”

Hy is gestroop, eerlik, oordenkend, openhartig en vreesloos, maar o, so weerloos op daardie verhoog.

Gestroop van enige masker soos lipstiffie, ’n pruik, ’n rok of hoëhakskoene waarmee hy agter Tannie Evita of Bambi Kellerman se rokspante kan skuil nie. Geen swart hoedjie of kaftan van PW Botha of Desmond Tutu om die fokus van hom weg te lei nie.

Met sy gebreide swart hoedjie en hemp met Almost Famous bedruk, lyk hy meer soos ’n ou visser wat mymerend oor sy 70 lewensjare terugkyk.

Hierdie stuk is meer as ’n nostalgiese lewensreis saam met ’n bekroonde akteur. Dis ’n raar kykie in die siel van iemand wie se lewe regtig aan die kunste gewy is. Iemand wat nie gestuit het voor die destydse sensuurraad of kritiek of vervolging van die apartheidsregering nie. Iemand wat nie omgee om jou in die diepste skuiling van sy hart te neem nie. Hy dryf met homself die spot, net so maklik soos hy dit met ander doen.

En voor jy jou kon kry biggel ’n traan oor jou wang as hy van sy pa se siekte praat, herleef jy weer ’n geliefde se siekte en sterfte. Voel jy ook weerloos en oopgevlek, al sit jy in die donker gehoor.

Hy is ’n meesterlike storieverteller, sonder arrogansie of selfbeheptheid. En eendag as hy nie meer daar is nie, gaan mense waarlik besef watter diep spore hy nou eintlik getrap het, sonder dat ons regtig aandag gegee het.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top