Teaterresensie: A cock & bull story by die Theatre on the Bay

  • 0

Richard Zajdlic en Richard Crowe

Verwerk deur Quentin Krog en Geon Nel

A cock & bull story

Met Dean-John Smith en Edwin van der Walt

Regie: Marthinus Basson.

Verhoogbestuur en beligting: Chris Pienaar

‘n Produksie deur Raminnidam vir Pieter Toerien in The Theatre On The Bay tot 28 Mei 2016

Die jong bokser TJ (Dean-John Smith) is besig om sy lyf en gemoed gereed te kry vir ’n baie belangrike geveg. Wen hy dit, kan sy lewe in vele opsigte ten goede verander. Om hom is baie spieëls, ’n sluitkas, ‘n getroue slaansak en verweerde maar geharde stoele wat later weer eens emosionele uitbarstings van TJ en sy bestuurder, Jako (Edwin van der Walt), sal deurstaan.

Vanaand van alle aande is die einste Jako nie dadelik daar om TJ by te staan nie.

Aanvanklik praat TJ inkanterend met homself. Hy doen dit so sag sodat ons min kan verstaan. Ja, dis die begin van die opwindende realisme van die opvoering. Miskien sal hy tog in ’n intiemer teater beter hoorbaar wees in hierdie kort openingstoneel.

Maar baie gou brul en skreeu die twee manne. Hulle gebruik woorde wat die teaterbestuur laat besluit het op ’n ouderdomsbeperking van 16. Woordeboekmakers sal hier ‘n paar gawe vars woorde vir ons manne se anatomie kry.

As kontras met dié opswepende uitroepe en vele bewegings diep die twee vriende ook herinnerings op. Dis vertellings wat gedramatiseerd voorgestel word. Nou kry ’n mens byvoorbeeld humor as dit gaan oor hulle ervarings met gays, loslywige meisies en skares bewonderaars. Al die nabootsings van spraak en lyftaal word uitstekend gedoen. Die oproep van vorige gevegte is egter fel dramaties.

Dit is in hierdie herinneringsgedeelte dat ’n treffende toneel voorkom. Die twee praat oor wat met ’n man in ‘n toilet kan gebeur. TJ organiseer dat Jako die ou is wat water afslaan, en hy die man is wat Jako en veral sy penis aantreklik vind. Jako haal twee maal sy penis uit (net mimiek); die derde maal doen hy dit nie. Sy hande bly rustig weerskante van die begeerlikheid. So iets wat op die verhoog teen die verwagting ingaan, sorg vir trefkrag.

In die reklame word dit ’n tweetalige opvoering genoem. Die twee manne praat baie Engels, maar ook telkens Afrikaans. Van die spitsvondigste en beeldendste dialoog is in Afrikaans. ‘n Mens wil-wil wonder of dit ook realisties is dat hulle so lank Engels sal praat. Die taalmengers van vandag sit tog net enkele woorde van ‘n tweede taal op ’n slag in? Maar toe kry ek ‘n “verklaring”: boksers beweeg mos op ’n internasionale terrein en is tog gewoond daaraan om baie Engels te praat.

Die verwerking van die dialoog is een van die produksie se voortreflikhede. Daarom is dit jammer dat Quentin Krog en Geon Nel nie in die teaterprogram erkenning kry nie. Hulle gebruik die gedeeltelike vertaling om die handeling na Suid-Afrika te verplaas. Tereg kry Nicholas Jonker vermelding as “trainer”; daarom kom die boksery eg voor. Rynhart van Blerk word bedank sonder ‘n aanduiding waarvoor. Die programteks is volledig in Engels, terwyl soveel Afrikaanssprekendes betrokke is. In ’n opskrif is die twee Britse skrywers se name verkeerd en dié nuwe toneelgroep se naam word verskillend gespel.

In die tweede helfte word die drama nog sterker. TJ het sy geveg gewen, maar Jako het “weggekruip” in die kleedkamer (“locker room” klink minder vroom). Selfs gedurende die pouse het hy op die verhoog gebly en het hy, in die woorde van teaterman Thomas van Niekerk, die drama lewend gehou. Hoekom het hy nie gedeel in sy goeie vriend se triomf nie? Met die konfrontasietonele en die onthullings wat nou volg, beleef ’n mens een van die indringendste dramas oor mans se verhoudings met mekaar en die rol wat gayheid daarin speel. Al die emosies en denke kom so spontaan uit die situasies.

Dit is eenvoudig ‘n sterk opvoering. Smith en Van der Walt hanteer pouses en die spanning voortreflik. Fisiek en sielkundig is alles só oortuigend. Marthinus Basson moet asseblief voortgaan met Raminniedam.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top