Te veel Demokrate in die Amerikaanse verkiesingswedloop?

  • 2

Op die oomblik is daar 20 demokrate wat hoop om die party se nominasie as presidentskandidaat te ontvang. En elke liewe een glo hy of sy is die aangewese persoon.

Ek vermoed daar is soveel kandidate omdat hulle glo dat enigeen, letterlik enigeen, ʼn beter president sal wees as wat Trump is.

Hulle is nie noodwendig verkeerd nie.

Maar wat is die vereiste voordat jy ernstig opgeneem word deur jou party, en kon deurdring na die eerste rondes debatte wat hierdie afgelope week gevoer is?

Daar is twee.

Die eerste, en die gewildste, is dat drie verskillende meningspeilings, deur  goedgekeurde instansies, moet aandui dat die kandidaat die steun van minstens 1% van die bevolking geniet. Die meningspeilings kan deur drie verskillende instansies wees. As dit dieselfde instansie is, moet dit in drie verskillende geografiese gebiede gehou word.

Die tweede is dat die kandidate kan demonstreer dat hulle skenkings ontvang het van 65 000 verskillende donateurs. Verder moet hulle bewys dat hulle skenkings van minstens 200 unieke donateurs ontvang het in minstens 20 verskillende state.

Die Republikeine, aan die ander kant, reken skynbaar dat hulle ʼn wenresep in Trump het. Of ander kandidate is te versigtig om hulle Trump se gramskap op die hals te haal, en wil nie hul hand oorspeel nie.

Om soveel kandidate in die wedloop te hê is beide goed en sleg vir die Demokrate. Goed, omdat hulle ʼn wye keuse van kandidate, met verskillende beleidsoorwegings, het. Sleg, omdat dit in ʼn tipe Hunger Games ontaard waar hulle so onder mekaar baklei en mekaar probeer diskrediteer dat hulle al die Republikeine se werk vir hulle doen. In stede daarvan dat energie gefokus word daarop dat Demokrate die verkiesing wen, fokus hulle op nominasies wen.

Trump kan rustig agteroor sit en kyk hoedat die Demokrate mekaar uitmekaarskeur. Hy hoef nie binne sy eie party te veg vir oorlewing nie, deels juis omdat hy so absoluut harteloos optree. Hy gee nie om wie hy vertrap om sy ambisie te bereik nie.

Die twee gewildste mans in die Demokratiese wedloop, Joe Biden en Bernie Sanders, maak my nie juis opgewonde nie. Biden steun sterk op sy reputasie as Obama se visepresident. Maar Obama het sy nominasie nie amptelik ondersteun nie. Biden en Sanders is eenvoudig te oud en verstrak in hul denke om regtig die jonger Demokrate opgewonde te kry. Sanders mag dalk nog, maar Biden se ondersteuning is onder ouer mense.

Wie my opgewonde sou kry, is ʼn Kamala Harris-Elizabeth Warren-kombinasie. Dit sal waarskynlik nie gebeur nie, omdat die Amerikaners gewoon nog nie gereed is vir ʼn vroulike president nie, laat staan nog indien die president en visepresident albei vroue sou wees. Maar hierdie twee is die ander kandidate ver vooruit wat beide beleidsoorwegings en integriteit betref. Harris het haarself alreeds met die debatte onderskei as ʼn strategiese denker, iemand wat flink op haar voete dink en wat haar nie laat ontsenu nie. Mens sou niks anders verwag van iemand wat in die hoë druk van litigasie floreer het nie.

Warren is minder charismaties, maar het beslis die meeste moeite gedoen om haar beleid te ontwikkel en te kommunikeer. En sy het vroeër vandeesweek vir Harris in die bresse getree nadat daar ʼn rassistiese aanval op Harris geloods was. Dit het my respek vir haar oneindig vermeerder. Sy kon, soos die ander kandidate, stilgebly het en gehoop het dat Harris, wat tog haar kompetisie is, deur karakteraanvalle uit die wedloop gehaal word.

Wie die Demokrate se nominasie wen is belangrik, want uiteindelik moet dit iemand wees wat vir Trump kan verslaan. Iemand wie nie deur Trump intimideer sal word nie. Jimmy Carter het verlede week onomwonde verklaar dat Trump sonder Russiese inmenging in die vorige verkiesing nie sou gewen het nie, en dat Trump eintlik verloor het. Op ʼn direkte vraag of hy Trump beskou as ʼn “illegitimate president”, was sy antwoord ja.

Daar hoef dus nie regtig gevrees te word dat ʼn vroulike kandidaat moeite sal hê om Trump te verslaan nie. Daar behoort eerder gewaak te word daarteen dat die uitslag van volgende verkiesing ook deur buitelandse invloede bepaal sal word.

Maar wat maak dit vir ons in Suid-Afrika saak wat in die Amerikaanse verkiesing gebeur?

Daar is dwarsoor die wêreld ʼn tendens dat kandidate meer en meer konserwatief word. Menseregtevergrype word goedgekeur, of stilswyend toegelaat. As Trump herkies word, sal die vergrype vererger. En dit sal ander, soos Rusland, Noord-Korea en Saoedi- Arabië, versterk in hul kwaad.

Dan is daar die handelsoorloë wat Trump begin. Elke keer ten koste van Amerikaners, maar skynbaar pla dit niemand nie. Ramaphosa het hom aan China se kant geskaar in die handelsoorlog met Amerika.

Trump se vuisbultery met Iran is ’n aanduiding dat hy wil oorlog maak. En dis histories bewys dat Amerikaners nie midde-in oorlog van president verander nie. Dit sal dus vir Trump strategies wees om kort voor die verkiesing oorlog teen iemand te verklaar.

En as dit Iran kan wees, hoekom nie ook China nie? En dan sit ons, Johnny on the spot.

ʼn Harris-Warren-kombinasie sal sorg vir koel koppe en pragmatisme. Ek is nie seker dat dit van enige ander kandidate in die Demokratiese veld gesê kan word nie.

  • 2

Kommentaar

  • O aarde nou is onse Bettina ‘n kenner op VSA-politiek. Pilatus het tydens die Joodse onsinnige argument moedeloos gevra: “Wat is die waarheid?” Warren en Harris is PRO aborsie selfs na 20 weke. Dit alleen is vir ‘n moreel-etiese persoon genoeg rede sonder enige verdere beleidsverklarings om te besluit wie is ‘n goeie kandidaat of nie. Ek stem vir Pilatus: wees versigtig om mense met valsheid te mislei. Die Bybel sê diegene sal met dubbele straf gestraf word.

  • Die Amerikaners is vir my 'n eienaardige lot. Ek kan nie my gedagtes oor hulle formuleer nie. Ek sit met gemengde gevoelens. Oor een ding kan jy nie met of oor 'n Amerikaner stry nie. Sy vryheid en sy lojaliteit. Hy het 'n trots. Daar is natuurlik mense wat dit haat om Amerikaners te wees. Eienaardige lot. Ons lot wat hier bly is die laastes wat klippe kan gooi. Ons leef soos Trump sê in "shithole". Is dit so of nie? Debatteerbaar. Ons regime is egter so ver agter met internasionale samewerking en betrekkinge, dat as ons met die sotlikhede aangaan, dit ons nog suur gaan bekom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top