Elke Maandagoggend lees ek die Staatspresident se brief, en elke Maandagoggend wil ek in my hande huil. Van voor af.
Daar is soveel in ons land waarop ons trots kan wees, en terselfdertyd is daar soveel toksiese verhoudings wat opgeruim moet word. Hierdie week se brief gaan oor openbare vervoer. Ons almal weet dis ’n groot probleem. Ons almal weet wat die probleem is. Vra enige gereelde gebruiker van openbare vervoer, en hulle sal baie vinnig met oplossings vorendag kom. Maar ons regering is onwillig om te luister en te implementeer, en dis waar die toskiese verhoudings inkom.
Treindienste is onbetroubaar. Hoekom? Want die kabels en sommer stukke spoor word gesteel en vir spotgoedkoop by skrootwerwe verkoop. Dan word dienste vir weke op ’n slag onderbreek. Niemand word ooit gevang nie. Die skrootwerf-eienaars word niks aangedoen nie, want hulle weet mos nie dis gesteelde goed nie. In die ou dae was besit van vermoedelik gesteelde eiendom ’n misdaad. Nou is dit ’n besigheidsgeleentheid. Die persone wat steel word nie vasgetrek nie, want daar is geen getuienis teen hulle nie. Hoeveel die polisie doen om hulle vas te trek is ’n ope vraag. Dalk is hulle te besig met korrupsie in eie geledere om hulle veel te steur aan dit waarvoor hulle aangestel is.
Wanneer die treine wel loop, en dalk selfs min of meer betyds is, is daar die gevare waaraan passasiers blootgestel word. Rowers loop oop en bloot van wa tot wa en beroof passasiers. Selfone, beursies, horlosies, juweliersware, skoene ─ enigiets wat vir ’n paar sent verkoop kan word, maak jou ’n teiken. Enigeen wat weerstand bied, word aangerand, met messe gesteek of summier van die bewegende trein afgegooi. Wat word van daai sake? Min en niks.
Maar die rowery daar is niks in vergelyking met die grootskaalse dagligrowery van die grootkoppe nie. Transnet se onreëlmatige besteding beloop miljarde. Oor Prasa se vergrype hoef niemand seker meer iets te sê nie. Ons kan net hoop dat die wiel van geregtigheid wel sodanig draai dat al hierdie skelms ook eendag aan die pen sal ry.
Verkies jy om eerder van die treine weg te bly, loop jy jou vas in taxi’s. As daar seerowers op die oop see is, dan is taxi’s baie keer hul landgebonde eweknieë. Goed, daar is seker taxibestuurders wat eties en eerlik is, maar hulle is in die minderheid. Een stel padreëls geld vir gewone padverbruikers, ’n ander stel geld vir taxibestuurders. Vergeet van ’n professionele bestuurspermit, baie taxibestuurders is nie eens in besit van ’n gewone bestuurslisensie nie. Padwaardigheid is ’n relatiewe konsep, en wee die verkeersbeampte wat waag om ’n taxi met gladde bande of defektiewe remme af te trek.
Gesonde kompetisie bestaan nie in die taxibedryf nie. Kom ons neem my tuisdorp as ’n voorbeeld. Daar is een busmaatskappy wat gereelde roetes ry. Hulle vervoer is skoon, betyds, ekonomies en betroubaar. Die taxi’s, aan die anderkant, is nie. Die taxi ry wanneer hy vol is, nie ’n oomblik vroeër nie. En as dit beteken ’n passasier ure moet wag, dan is dit nou maar tot daarnatoe. Boonop kos ’n enkelrit met ’n taxi dieselfde as retoer met ’n bus. Maar so elke nou en dan word die bushalte aangeval, busse word aan die brand gesteek of met klippe bestook, busbestuurders word gedreig en passasiers word geïntimideer.
In ’n normale bedryf, indien jou kompetisie beter diens lewer, beteken dit jy trek jou sokkies op en doen beter om klante terug te wen. In ’n normale bedryf sou dit beteken verbruikers van openbare vervoer kan kies en keur tussen veilige, betroubare, betydse en bekostigbare vervoer. In ons land beteken dit verbruikers moet hoop en bid hulle gaan nie geskiet, geslaan of beroof word nie. In plaas daarvan om beter diens te lewer, verkies die taxibedryf om geweld te gebruik om klante te werf of die kompetisie se besigheid te kelder. Niemand wen nie.
Daar was ’n paar jaar gelede ’n grootskaalse veldtog om onpadwaardige taxi’s van die paaie af te kry, deur nuwe taxi’s aan die eienaars te gee. Daai nuwe taxi’s was in baie gevalle nie behoorlik in stand gehou nie, en is teen hierdie tyd weer onpadwaardig.
En omdat daar aansienlike politieke kapitaal onder taxiverenigings bestaan, is die regering skynbaar hulpeloos om hulle vas te vat.
Daarom dat ek met soveel onrustigheid lees van geld wat in die openbare vervoer-sektor gestort gaan word. Gaan privaat busmaatskappye hulp kry om hul besighede aan die gang te hou? Gaan staatsvervoer opgeskerp word sodat uitmuntende, veilige diens gelewer gaan word? Gaan verbruikers in ’n posisie geplaas word waar hulle kan verwag dat hul vervoer op stiptelik die geadverteerde tyd sal aankom of vertrek?
Ek hou nie juis asem op daarvoor nie. Dit klink veel eerder na nóg ’n geleentheid vir grootskaalse tender-korrupsie met verbruikers wat weereens aan die kortste end trek.
Tipies is dit mense wat nie hul eie vervoer kan bekostig nie, wat openbare vervoer gebruik. Dis al klaar die mense wat laagbesoldigde werk doen, en nou as gevolg van disfunksie in die vervoerbedryf gevaar loop om daai werk te verloor.
In een opsig is die president reg wanneer hy sê dat dit gedeeltelik oorblyfsels van apartheidsisteme is wat tot die probleem bydra. Dit was ’n funksie van apartheid om bruin en swart woongebiede so ver as moontlik van die sakekerns weg te hou. Die meeste werkers met lae inkomste kan nie bekostig om in die voorheen wit woongebiede te gaan bly nie, en daar is sterk weerstand teen woongebiede met gemengde inkomstegroepe. Daar sal dus nog vir ’n lang tyd ’n werkerskorps wees wat ver weg van hul werke bly. En apartheid kan daarvor blameer word.
Maar die disfunksionele openbare vervoerstelsel wat nou bestaan, is nie apartheid se skuld nie. Treine wat nie betyds is nie, kan nie ná ’n kwart eeu nog voor apartheid se deur gelê word nie. Taxi’s wat alles vernietig in hul gejaag na wins, is nie apartheid se skuld nie. Paaie en infrastruktuur wat nie herstel word nie, is nie nou nog apartheid se skuld nie.
Iewers moet die regering verantwoordelikheid neem vir die maniere waarop hulle hul burgers faal. Ons verdien beter. Ons verdien openbare vervoer wat werk, en wat betyds is, en wat nie ’n plaas se geld kos nie. Ons verdien ’n regering wat dienslewering in al sy vorme bo nepotisme en eng politieke belang plaas. Ons verdien ’n regering wat erns meen met sy burgers.
Ons verdien ’n regering wat nie elke keer die maklike uitweg neem nie, maar wat moue oprol en skouer aan die wiel sit om seker te maak ons land werk.
Niks meer nie, niks minder nie.


Kommentaar
Heeltemal korrek, Bettina - ons verdien beter.
Iewers moet die regering verantwoordelikheid neem vir die maniere waarop hulle hul burgers faal. Ons verdien beter.”
Iewers moet die ANC-stemvee verantwoordelikheid neem vir die maniere waarop hulle hul medeburgers faal deur herhaaldelik vir die vrotsige ANC te stem.
Iewers moet meeste ouers verantwoordelikheid neem vir die maniere waarop hulle hul kinders faal deur onbehoorlike opvoeding in gesinsverband.
Goeie artikel. Dankie.
Elke land verdien die regering vir wie daar gestem word.
Honderde miljoene van staatsgeld wat geleen en rondgeskuif is in die begroting is gesteel deur staatsamptenare die afgelope 6 maande onder die dekmantel van die covid (oordrewe) pandemie. Grootskaalse korrupsie en diefstal van staateeiendom en geld was nie net aan die orde vd dag toe Jacob Zuma in beheer was nie. Daardie tyd was Cyril Ramaphosa nommer 2 en maak hy of hy niks geweet het nie. Nou is hy nommer 1 en dit gaan niks beter nie. Dis die stoffasie en vesel van die ANC en sy mense. Dis bewys oor 26 jaar. Onomstootlik. En Ramaphosa gryp altyd maar weer terug na apartheid. Hy moet eerder sy party se mislukkings op homself en sy voorgangers blameer. Die ANC en sy staatsdiens is korrup en skelm deur en deur. Dis bewys. Maar soos Chris sê, stem vir hulle en jy kry wat jy weet jy kry.