Talent, kuns en #MeToo

  • 4

Bettina Wyngaard

Roman Polanski: bekroonde regisseur, talentvolle kunstenaar. En verkragter. Pedofiel.

Dis nie my mening nie. Hy is in ’n Amerikaanse hof daaraan skuldig bevind dat hy ’n 13-jarige meisie verkrag het, maar het landuit gevlug voor hy gevonnis kon word. Daar is steeds ’n lasbrief vir sy arres uitstaande, en hy kan sy voete nie op Amerikaanse grond sit nie. Maar hy is nooit uitgelewer aan die Amerikaanse owerhede nie, ten spyte van verskeie verdragte tussen die VSA en Frankryk.

Die skuldigbevinding was alreeds in 1977, en dis nie asof Polanski sedertdien ’n lae profiel gehandhaaf het nie. Verlede week, met die Cèsar-toekennings, die Franse weergawe van die Oscars, is hy as beste regisseur bekroon. Weer. Die vierde keer sedert sy skuldigbevinding. Hy het nie die geleentheid bygewoon nie, omdat hy gevrees het vir sy veiligheid. Daar was in die dae tot die aanloop van die geleentheid verskeie protesveldtogte spesifiek gemik rondom sy ontvangs van die toekenning.

Die video van Adèle Haenel wat in absolute afsku opstaan en uitloop toe sy naam aangekondig word, het binne enkele ure viraal gegaan. “Bravo la pèdophilie!” roep sy uit terwyl sy die ontvangslokaal verlaat. Haenel is ’n bekroonde aktrise, en een van die mees prominente gesigte van die Franse #MeToo-beweging. Sy is minder bekend aan Engelse gehore, maar ek vermoed dit sal grootliks verander met haar nuwe rolprent, Portrait de la jeune fille en feu (Portrait of a lady on fire).

Haenel beweer dat sy self as tiener, toe sy tussen 12 en 15 jaar oud was, deur ’n regisseur seksueel geteister is. In Januarie 2020 het Franse aanklaers die regisseur, Christophe Ruggia, formeel aangekla. Dis dus te verstane dat ’n toekenning aan ’n ander pedofiel-regisseur waarskynlik baie na aan die been gesny het vir haar.

Die groter vraag is egter hoekom Polanski hoegenaamd genomineer was? Die hele raad van die Cèsars het bedank nadat daar oproer was oor sy nominasie. Tog is daar besluit om voort te gaan en die toekenning aan hom te maak.

Oor en oor en oor word die boodskap uitgestuur dat wanneer ’n man mag het, en selfs net ’n sweempie talent, dan word elke ander fout oor die hoof gesien, veral as dit seksuele aggressie teenoor vroue en kinders behels. ’n Kind se pyn is minder belangrik as die geld wat die man vir homself en ander rondom hom kan maak.

Die besluit om Polanski te bekroon, veral in dieselfde week dat Harvey Weinstein uiteindelik gevonnis is in New York en nou in Los Angeles tereg staan op verdere klagte, voel soos etlike treë in die verkeerde rigting. Natuurlik is dit verskillende sake, in verskillende jursidiksies. Feit bly staan dat dit in dieselfde industrie is.

Die boodskap wat uitgestuur word, is dat Franse vroue steeds nie veilig in hul werksplek is terwyl sekspeste beloon en bekroon word nie. Die boodskap, een wat Haenel maar alte goed verstaan en op reageer het, is dat vroue en kinders nie op beskerming van die sisteem kan staatmaak nie. Nie solank as wat daar geld en reputasies te maak is nie.

Dan bly openbare protes steeds die beste opsie. Skop ’n bohaai op, selfs al beteken dit daar gaan agterna kritiek teen jou geopper word. Loop uit, selfs al loop jy alleen.

Greta Thunberg was alleen toe sy begin teen die klimaatskrisis protesteer het. Malala Yousafzai was alleen toe sy vir opvoeding van vroue geagiteer het.

Dit gebeur selde dat die massas volg wanneer jy teen invloed, mag en geld opstaan. Mense is maar alte geneig om magtige mans die voordeel van die twyfel te gee. Of om veilig te speel en hulle eie belange te beskerm.

Maar soms kos dit ’n Haenel om op te staan en uit te loop, om te sê genoeg is genoeg.

HD Thoreau het, in sy besinning oor burgerlike ongehoorsaamheid en protes, die volgende te sê: “If the law is of such a nature that it requires you to be an agent of injustice to another, then I say, break the law. Let your life be a counter friction to stop the machine.”

Wat Haenel en ander vroue regoor die wêreld al meer besef, is dat dit nie nodig is om wette te oortree nie. Die regstelsel is alreeds gebroke. Ons samelewing is alreeds gebroke. Die enigste manier om dit te herstel, is om die masjien te stop.

Dis nie net beroemde vroue wat daarby baat nie. Dit help ook elke gesiglose, stemlose vrou en kind wat in die sisteem vertrap word. Al verhoed dit dat net een kind in ’n stormdrein weggegooi word, dan het dit die doel bereik. Al verseker dit dat net nog een vrou saans veilig kan stap, of sonder vrees in haar werksplek kan beweeg, dan is dit genoeg.

Stop die masjien.

  • 4

Kommentaar

  • In die kol. Nog 'n euwel is waar maatskappye sekspeste die keuse gee om te bedank eerder as dat dle klagtes ten volle ondersoek word.

  • Avatar
    Anthony Wilson

    Dankie Bettina soos gewoonlik weereens iets om oor na te dink. Ons het ’n jeugorganisasie in Eesterust, Pretoria en hulle leuse is: “Each one, reach one”. Dit is presies wat jy sê. Dit vat net een person om te sê genoeg is genoeg! Jou artikels is GEWOONLIK die eerste wat ek op LitNet lees wanneer die nuwe artikels uitkom. Danke vir jou omgee!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top