Taksering en die Afrikaanse letterkunde as Suid-Afrikaanse letterkunde

  • 0

Om te resenseer of nie te resenseer nie – en indien wel, hoe – is tans die kwelvraag. Dit interesseer my enigermate. Ek was en is immers by geleentheid self resensent en, ja, ek lees ook soms resensies.

Wanneer ek soms ’n resensies lees, het ek die uiteindelike besteding van my geld en tyd aan dié geresenseerde belewenis in gedagte. Ek wil na ’n optrede gaan kyk of oorweeg die koop van ’n boek of CD. Die resensent help my dan besluit.

By ander tye gaan die lees van ’n resensie bloot oor my nuuskierigheid oor hoe ’n resensent iets takseer wat ek reeds eerstehands beleef het.

Die algemene nuus- en vermaakmedia se teikenlesers, -besigtigers en -toehoorders wil, soos ek, ’n stuk kuns of kultuur of vermaak gaan beleef en het voor die lees van enige resensie reeds besluit en "begroot" om tyd en geld daaraan te bestee. Om dié media se teikengehore op te saal met "akademiese" en/of negatiewe resensies mors dus drukruimte en mediatyd asook die adverteerders én lesers se geld en tyd.

Sekere resensente en redakteurs sal van my verskil, want sien, Kiepie die Vername Kritikus se Naam verleen Prestige aan die Publikasie, en Teikenleser stel belang in Kritikus se Siening. Be that as it may, soos die Engelse sê. Elke diertjie het immers sy plesiertjie, nes elke outjie ook sy foutjie het. Ek ook.

Maar terug by resensies.

Andersyds is akademici, ook leke-akademici, beslis en ernstig geïnteresseerd in hoekom ’n bepaalde kuns- en/of kultuuruiting glo slaag of nie slaag nie. Dit bly egter bloot ’n dubbele akademiese takseringsoefening – dié leser takseer die resensent se taksering. Dit het niks met die tyd- en geld-"begroting" van óf Jan en San Publiek óf die belegging van die adverteerders uit te waai nie. Dié soort resensie hoort dus logieserwys juis nie tuis in ’n medium vir Jan en San nie. Weer eens: Be that as it may.

As laeprofielskrywer ag ek my dus uiters gelukkig en ten diepste geseën dat ek ’n redelik uitgebreide leserskap het, ondanks dat die media (lees boekeredakteurs), hoofstroomuitgewers, sekere literatuurgeskiedskrywers en bepaalde bloemlesers my en my werk grootliks bewustelik ignoreer. Wat vir my saak maak, is juis hierdie werklike, onverbeelde, ongemanipuleerde leserskap. Hulle geniet immers die vryheid om my boeke uit vrye wil te wíl lees en om geen ander rede nie. Dié lesers is dus logieserwys my teikenlesers. Vir wat moet iemand wat geen aanklank by my werk (sal/kan) vind nie, dit lees? Dis tog onsinnig van my om diesulkes as deel van ’n "potensiële" leserskap te verbeel. Daarom is ek alom gelukkig en geseën … met my leserskap sowel as my nieleserskap.

Heeltydse resensente, helaas, geniet nie dié luukse nie, net vryskutresensente.

As aldus bevoorregte laeprofiel-vryskutskrywer het ek, glo ek, weliswaar eerder iets waardevols en opbouends om met my skryfwerk te sê as die een of ander gekamoefleerde behoefte en begeerte om groot geld te verdien of groot bekendheid te verwerf of selfs "erken" te word. Ongelukkig is bekendheid en geldmaak verstrengel, en as sodanig te dikwels uitgewers, impressario's en heelwat kuns- en kultuurskeppers se uitgesproke doel (in beleids- en mediaverklarings) met wat hulle wel aanpak. Weer eens: Be that as it may.

Maar ek is en bly self ook ’n leser, besigtiger en aanhoorder, en by geleentheid is ek ook resensent, soos gesê.

Van myself verwag ek allereers om ’n goeie, gebalanseerde resensie in algemeen toeganklike taal vir die betrokke teikengroep te skryf – minder formeel vir Jan en San Publiek in die algemene nuusmedia; meer formeel vir publikasies wat die dieperdenkendes in gedagte het … soos die lesers van hierdie relaas.
As resensent poog ek om allereers waardering vir die betrokke kunstenaar of groep kunstenaars se gawe, talent en kunstenaarskap vir die leser te bevestig, en lig die "goeie elemente" van die betrokke kuns- en/of kultuuruitdrukking uit. Ek poog dan om in ’n lae register, en so eerlik en taktvol moontlik, opbouende kritiek te lewer oor die moontlike tekortkominge van sodanige uitdrukking waar dié uitdrukking in die breër konteks van die betrokke kunsgenre getakseer word en nie heeltemal slaag nie. Ek poog om nie neerhalende, beterweterige, hoogdrawende, elitisties-snobistiese en verdagmakende, persoonlik-afbrekende op- en aanmerkings oor die kunstenaar en/of sy/haar kunsuitdrukking kwyt te raak nie.

Maar daar is ander soorte takserings as dié deur media- en ander resensente.

Kom ons hou by boeke.

Benewens die takserings deur publikasiekeurders (wat keur met koste en maksimum verkope/inkomste "onvermydelik" in gedagte) is daar takserings deur kompetisie-beoordelaars. En oor laasgenoemde wil ek my breedvoeriger uitlaat danksy ’n onlangse eerstehandse ervaring.
Uit die bloute het ek etlike weke gelede ’n telefoonoproep gekry van ’n organisasie genaamd wRite, oftewel Write Associates, waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Ek is genooi om te "help met die beoordeling van die Afrikaans vir Sala". Effe uit die veld geslaan, en beslis gevlei, vra ek toe nogtans ’n paar vrae en vind met verdrag ’n paar dinge uit. Sala is die akroniem vir South African Literary Awards, oftewel die Suid-Afrikaanse Literêre Toekennings. Dié toekennings in verskillende kategorieë word vanjaar reeds vir die vierde maal gemaak, glo vroeg Desember in Johannesburg.
Sala wil, volgens sy gepubliseerde versoek om voorleggings vir 2008, "hulde bring aan Suid-Afrikaanse skrywers wat hulle onderskei het as baanbrekende skeppers van letterkunde". Voorts beoog Sala om uiteindelik die top Suid-Afrikaanse literêre eerbetoon te word wat die hoogste agting afdwing en prestige het.

Dit maak reënboognasie-sin, dink ek. Suid-Afrikaanse literêre eerbewyse; nie eerbewyse vir slegs Afrikaans of Sesotho of Engels of Zulu of watter ander amptelike taal van Suid-Afrika ook al nie, al is eerbewyse in en vir elke taal nodig. In Suid-Afrika is gelukkig inderdaad reeds ’n goeie aantal taalspesifieke eerbewyse en organisasies wat taalspesifieke letterkunde bevorder, maar weinig wat dit vir al Suid-Afrika se letterkundes oorkoepelend doen.
 
Namate ek Sala se kriteria leer verstaan het, het ek opgewonde geraak. Baanbrekerswerk (innovasie), algemene literêre uitmuntendheid en universele tersaaklikheid word wel hoog aangeslaan en is gesamentlik ’n grondgegewe en -kriterium vir voorleggings. Wat ’n Sala-verering egter onderskei van taalspesifieke eerbewyse – en dit as sodanig maak my opgewonde – is dat elke kategoriewenner se werk ’n opbouende impak het. Deurslaggewend is die kriterium dat die reeds literêr uitmuntende voorleggings "moet bydra tot maatskaplike samehang en nasiebou" in Suid-Afrika, en by implikasie Suid-Afrikaansheid weerspieël. ’n Werk wat die samelewing só weerspieël dat geskiedkundige en huidige onregte bloot gerepeteer word en polarisering en verdeeldheid gehandhaaf of versterk word, of nuwe polariserings of verdeeldhede geskep word, kwalifiseer dus uiteraard nie vir ’n Sala nie.

Dis toe dat ek – redelik keelvol vir juis dié uitsiglose soort repetisies en polariserings in baie van die letterkunde en ander kunsvorme – instem om met graagte te help beoordeel aan die voorgelegde Afrikaanse werk, omdat ek glo die "Suid-Afrikaanse hoop" kan ondanks alles in Suid-Afrika nie geblus word nie en vind wel iewers in literêre skryfwerk neerslag. Iets hiervan kan ’n mens aanvoel in die faksimilee-briefie aan die begin van AHM Scholtz se Afdraai (1998):

Aan my medeburger

Moenie probeer om die onheilswind van die donker jare se lyding en verdriet uit die gisters uit te fynkam nie. Dit was so, ons het dit deurlewe en miskien het u nie. Dit het sy onuitwisbare merk, ’n diep vlek in ons land se geskiedenis agtergelaat. Laat vergeefnis die oorhand kry en saam met erbarming die paadjie loop, want wonde kan genees word en tyd kan vergewe. Slaan toe die ope deur na die verlede, stap weg en kyk nie om nie.

AHM Scholtz

Op hierdie tydstip ding Afrikaans in Sala met die ander amptelike landstale mee in vier kategorieë, te wete die K Sello Duiker-gedenktoekenning, die Postume Literêre Toekenning, die Leeftydprestasietoekenning en die Toekenning vir Literêre Vertaling.

Toe begin die leeswerk. En ek wil tog enkele geheelindrukke in my persoonlike hoedanigheid gee. Vanselfsprekend mag ek na geen spesifieke boek of skrywer verwys nie.

Ek is ’n uitgesproke Afrikaans-voorstander en -liefhebber en is al ’n "taalpatriot" genoem, dus was dit ’n onuitspreeklike voorreg om met sulke uitmuntende en heel dikwels verbysterende skryftalent om te gaan – in Afrikaans! Gevestigde groot stemme in die Afrikaanse letterkunde, en al groter wordende stemme, en spiksplinternuwe stemme. Digters, romanskrywers, kortverhaalskrywers, dramaturge. Wat ’n voorreg!

Sonder dat my geesdrif gedemp is, het ek egter al lesende agtergekom dat bitter weinig van die voorleggings voldoen aan die Sala-kriterium van "bydra tot [Suid-Afrikaanse] maatskaplike samehang en nasiebou". En ’n benoude vraag of twee het gelykwaardig langs my geesdriftige uitroepe kom staan.

Een vraag gaan oor die meeste Afrikaanse skrywers se beheptheid met plaas en platteland, en dit steeds in die (weliswaar soms aangepaste) styl van gemoedelike lokale realisme. Of is dit werklik maar net hoe doeltreffend Afrikaans-lesers én -skrywers gebreinspoel is met en sedert die 1930's se populêre literêre prosa op skool en deur mediavoorskrifte vir artikels (want dit "verkoop")? Is die meeste skrywers werklik so doeltreffend gebreinspoel, of laat hulle hulle gelate en doelbewus materialisties begaan om in juis die geykte styl te skryf?

En waar aktuele sake wel aangeroer word, hoekom word daar ongebalanseerd net op die negatiewe of die selfbehepte in die meeste voorleggings gefokus en bly die meeste skrywers voortploeter in die oënskynlik kenmerkende Afrikaanse wroeg-letterkunde en -temas?

En hoe is dit dat die meeste voorleggings met werklik wye universele trefkrag die Suid-Afrikaanse element skynbaar eerder ontken en vermy as om dit as vertrekpunt en grondslag te gebruik? Hoe lank nog sal die individualisties-materialistiese sogenaamde "Amerikaanse droom" van rags to riches rise to fame klakkeloos ten koste van die Suid-Afrikaanse droom nagevolg word?

Suid-Afrikaanse droom? vra jy tereg. Ja, die een wat niks met geld en glans uit te waai het nie, maar vir elke taal- en kultuurgroep in die land wel met iets van wat die ATKV in ’n slagspreuk vasgevang het: "Trots Suid-Afrikaans in Afrikaans." Kom ons skryf dit gerus vir mekaar op mekaar se harte in die ander se moedertaal.

Terloops, ek hoor nou die aand hoe ’n groepie jongmense van gemiddeld so 21 jaar praat oor die komende algemene verkiesing. Een sê toe: "As jy nie [as kieser] gaan registreer nie, moet dan nie later bitch oor wat in die land gebeur nie." Dis diesulkes wie se stemme in Suid-Afrika in alle tale gehoor moet word en veral ook in die letterkunde. Hulle voel hulle medeverantwoordelik deel van die ganse Suid-Afrika en praat en doen nie net uit eie taal- en kultuurbelang nie – en tog doen hulle dit in Afrikaans.

Gelukkig het enkele Afrikaanse voorleggings wel dié Sala-paal gehaal en skryf die betrokke skrywers weliswaar vanuit hul onontsnapbare persoonlike biografie dwarsdeur hul kennelik Suid-Afrikaanse kontekste heen tot reg binne universele tersaaklikheid, en dit in Afrika-deurdrenkte taal en beelding en verbeelding. Kom, laat die uitgewerye se vertalers hierdie letterkunde en dus kulture deur vertaling onderling vir mekaar begin ontsluit, en nie slegs (om geldmaakredes?) in nie-Suid-Afrikaanse tale laat vertaal nie.

Sal dit nie ’n blye dag wees wanneer ook die verskillende letterkundes – wat glo ’n (profetiese) spieël vir die werklikheid is – afsonderlik en gesamentlik die werklikheid van die Suid-Afrikaanse droom begin weerspieël nie? Eerste vir mekaar as "medeburgers" en daarnaas vir die wêreld.
Só bevorder ’n mens maatskaplike samehang. Só bou jy ’n nasie. Ook in en deur die letterkunde. Ook in en deur die Afrikáánse letterkunde. Ook in en deur elke ander landstaal se letterkunde.

 

  • Johann P Boshoff, skrywer, vryskutjoernalis en vertaler, is op 2 Februarie 2008 deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) vereer as Skrywer van die Dekade: Afrikaans vir nasiebou deur veeltaligheid. Sy nie-akademiese skrywersloopbaan het sedert 1998 reeds 14 boeke, insluitende letterkunde in verskillende genres en Christelike boeke, opgelewer, met sy biografiese feesskrif Skryfsels 3: TUISKOMS as jongste publikasie.

     

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top