Tabby McTat: ’n onderhoud oor die Suid-Afrikaanse animasieprent wat ’n internasionale Emmy verower het

  • 0

Regs bo en onder: Sarah Scrimgeour en Jac Hamman, regisseurs van die animasiefilm Tabby McTat – ’n verwerking van Julia Donaldson en Axel Scheffler se gelyknamige prenteboek (foto’s: verskaf)


Suid-Afrikaners het gewis ’n oog vir besonderhede en hulle weet wat kinders in ’n wen-animasie soek. Dit is immers twee trotse groen-en-goud-Kapenaars, Jac Hamman en Sarah Scrimgeour, wat Tabby McTat, die verwerking van topverkoper Julia Donaldson en Axel Scheffler se gelyknamige prenteboek, geregisseer het wat op 25 November in New York die Internasionale Emmy® Kinders: Animasie verower het. 

Veralgemeende stelling? Dalk nie.

Dit is die tweede agtereenvolgende Emmy-toekenning vir Suid-Afrikaanse regisseurs in dié kategorie. Nog ’n Donaldson-Scheffler-verwerking, The Smeds and the Smoos, met Daniel Snaddon en Samantha Cutler in die regisseurstoel, het verlede jaar gewen.

Tabby McTat het vir dié Emmy teen Mystery Lane, Sharkdog en Wake up, Carlo! meegeding.

Tabby McTat, wat deur Magic Light Pictures vervaardig is, was die mees gekykte animasiefilm wat Britse uitsaaiers oor die 2023-feesseisoen vertoon het, en dit het meer as 8,6 miljoen kykers gelok. Dit was een van die tien gewildste en mees gekykte programme op Kersdag verlede jaar. 

Uit Tabby McTat (beeld: Showmax)

Jac en Sarah werk albei tuis in Woodstock, Kaapstad. Jac sê sy goed beligte skakelhuis het groot kantoorvensters en glasskuifdeure na sy tuin toe en hy is dus omring deur baie groen, met potblou hemele bokant hom. “Ek het die verpligte fliekplakkate, animasieskatte en ander kosbaarhede in my kantoor.”

Sarah sê sy werk vanuit haar tuiskantoor/musiekkamer, waar sy liefdevol die instrumente ignoreer wat sy natuurlik van plan is om nog te speel ... ééndag. Haar twee katte neem skofte – een maak haar toetsbord warm, die ander haar voete – om te verseker dat haar produktiwiteit gepas belemmer word. Sit by dié hemelse prentjie die gloed van natuurlike lig en die sagte geure van ’n Muji-rietgeurbotteltjie by, en voilà: ’n oase wat gelyke dele fokus en dagdrome is.

Oor die toekenning erken Jac: “Wanneer jy grootword, droom jy altyd daarvan om een ​​van hierdie toekennings te wen, maar dit lyk so onmoontlik. Jy dink nie as ’n Suid-Afrikaner kan jy daardie vlak bereik nie. So dit voel wonderlik om te wen ná al die harde werk. Ons is baie trots op ons span.” 

Jac vier vanjaar 15 jaar in die bedryf; sy eerste film saam met Triggerfish was Adventures in Zambezia in 2009. Sarah se pad strek oor 11 jaar, en haar eerste samewerkingsprojek met Magic Light Pictures was met Stick man.

Magic Light het Triggerfish, waar Jac en Sarah albei hul loopbane in animasie begin het, gehuur om Stick man te help animeer; dit is op Kersdag 2015 uitgesaai.

Dit word toe ’n gereelde ding: Magic Light vervaardig uit Engeland en Triggerfish animeer in Suid-Afrika films waaronder Revolting rhymes (2016), The highway rat (2017), Zog (2018) en The snail and the whale (2019). Daarna maak hulle hul eie fliek, Seal team, sonder Magic Light.   

Die wen-duo kon ongelukkig nie die toekenningseremonie in New York gaan bywoon twee weke gelede nie. By dieselfde geleentheid is kykNET se werklikheidsreeks Die brug genomineer in die kategorie niegeskrewe vermaak. Nog ’n titel op Showmax, die waremisdaaddrama The sixth commandment, het die toekenning vir beste akteur (Timothy Spall) ingepalm.

Sarah vertel: “Om aan die ander kant van die wêreld te wees en besig te wees met ander dinge, maak dit net ’n bietjie moeiliker om by hierdie groot geleenthede uit te kom. Dit sou wonderlik gewees het, maar hopelik sal Tabby nog ’n bietjie langer op die wenpodium paradeer, en miskien is daar nog ’n kans vir ons om na nog een of twee toekenningsfunksies te gaan.” 

En dis glad nie onmoontlik nie, want vroeër vanjaar het Tabby McTat die Animasie: Voorskool-kategorie by die BANFF World Media Festival en die Gehoor-toekenning by die New York International Children’s Film Festival gewen. Dis ook genomineer vir ’n Rose d’Or-toekenning vroeër vandeesmaand én vir ’n Royal Television Society en Venesië TV-toekenning en vir ’n Kidscreen Award wat aanstaande jaar aangekondig word.

Uit Tabby McTat (beeld: Showmax)

Tabby McTat, wat dié Kersgety op Showmax stroom, handel oor die wonderlike vriendskap tussen ’n musikale kat en ’n talentvolle straatmusikant, Fred. Toe Fred op ’n dag ’n dief agterna sit, val hy en breek sy been en word in ’n ambulans weggejaag. Wat sal van sy kat word wat alleen op die strate van Londen agtergelaat word?

Die 25-minute-kortfilm het die BAFTA-genomineerdes Rob Brydon (Gavin and Stacey) en Ṣọpẹ́ Dìrísú (Gangs of London) as Fred en Tabby, met Critics Choice Super-genomineerde Jodie Whittaker (Doctor Who) as die verteller. 

Sarah lag as sy erken sy is mal oor katte, en ’n musikale kat op die koop toe het beteken om betrokke te wees – dit was ’n logiese keuse.

Jac was aangetrokke tot die temas van die boeke. “Dit het gevoel asof dit nogal ’n volwasse boodskap dra oor vriendskap, hoe verhoudings verander; en oor ’n kind wat hul ouerhuis moet verlaat om hul eie gesin te begin.

“Dit is baie roerend en ek was opgewonde om te sien hoe ons dit in ’n film kan omskep en daardie emosies kan uitdruk. Ek het gehou van die idee dat ouers en kinders dit saam kan kyk en dat ouers hul kind ’n lekker stywe drukkie kan gee terwyl hierdie temas in ’n animasiefilm voor hul oë afspeel.”

Jac en Sarah het virtueel vanuit die Moederstad met ’n span van meer as 80 mense wat meestal in Brittanje woon, gewerk. Tabby McTat is hul sesde BBC-Kersfeesprojek en hul tweede as regisseurs, ná die sukses van Superworm, wat verlede jaar die Best One-off Special or TV Movie by die Kidscreen Awards gewen het. 

Hulle was nie die enigste Suid-Afrikaners wat by Tabby McTat betrokke was nie, vertel hulle. “Ons jare lange medewerker en kunsdirekteur, Shannan Taylor, het na die Verenigde Koninkryk verhuis om aan Tabby te werk en sy het soveel lewe in Axel se illustrasies geblaas en dit in die 3D-wêreld aangepas,” sê Sarah. Ander Suid-Afrikaners wat deel van die projek was, is beligtingshoof Armand Filmalter, animeerders Depesh Cara, Dominic Seeber, Luke Berge, Sam Cutler, Stefano Menegaldo en Stuart Coutts; beligting- en komposisiekunstenaar Dayaan Abarder; en karakterbeeldhouer Danie Malan.

  • Kyk gerus die lokprent hier: 

Sarah sê dis wonderlik dat vriende en familie en die res van Suid-Afrika hul werk uiteindelik op Showmax kan sien. “Dis nie lekker as jy vir twee jaar aan iets werk en dan word dit op Kersdag net op die BBC vertoon en ons hier aan die suidpunt van Afrika kan dit nie sien nie. Dis wonderlik dat ons dit hierdie feesseisoen met ons geliefdes kan deel.”

  • En nog goeie nuus: Tabby McTat is die 11de Donaldson-Scheffler-animasie van Magic Light Pictures; jy kan ook die Oscar-benoemde The Gruffalo en Internasionale Emmy-wenners Zog en The Smeds and the Smoos en Stick man op Showmax sien met stroming hierdie Kersseisoen.

Uit Tabby McTat (beeld: Showmax)

Tien vrae vir Jac en Sarah

Beskryf vir lesers die kenmerkende voorkoms van jul animasiefilm?

Sarah: Uiteindelik gebruik ons ’n stop motion, handgemaakte, tasbare estetika. Die eerste spesiale aanbiedings, Room on the broom en The Gruffalo, is met fisiese stelle gemaak, en toe is die rekenaar-gegenereerde karakters bo-op gesit. Dit het die basislyn geword vir wat die voorkoms van die res van die spesiale aanbiedinge geword het.

........
Daar is ’n unieke sjarme aan iets wat voel asof dit deur mense gemaak is.
........

Soos die sagteware en tegnologie ontwikkel, word dit eintlik makliker om dinge hiperrealisties te laat lyk, óf om hierdie instrumente te gebruik om iets tot bykans perfeksie te poets. Een van ons grootste uitdagings word dan dat wanneer ons iets skep wat handgemaak moet voel, ons selfbeheersing moet toepas om nie al die gereedskap tot ons beskikking te gebruik bloot omdat ons dit het nie. Want as jy dit as ’n mens in die regte lewe sou maak, sou jy probeer om dit so perfek moontlik te maak. Maar net op grond van menswees gaan dit onvolmaak wees. Ons het dus redelik doelbewus hierdie onvolmaakthede ingewerk om daardie handgemaakte, tasbare gevoel te behou.

Daar is ’n unieke sjarme aan iets wat voel asof dit deur mense gemaak is.

Uit Tabby McTat (beeld: Showmax)

Die teater-en-film-tydskrif Variety het berig dat vir baie gesinne in die VK dit “net so ’n vakansietradisie geword het om op Kersdag na die BBC se jaarlikse verwerking van Julia Donaldson en Axel Scheffler se kinderboeke te kyk soos klatergoud en maalvleis”. Hoe voel dit om as Suid-Afrikaners tot só ’n tipiese Britse tradisie by te dra?

Sarah: Dit was ’n groot verantwoordelikheid om dit reg te doen, veral omdat ons nie van daar is nie.

Jac: Die feit dat dit in Londen is, was beslis skrikwekkend, maar ek dink dit help soms om met vars oë in te kom. Ek onthou my eerste besoek aan Londen en hoe ek totaal “weggeblaas” was om in Oxfordstraat of The Queen's Walk af te stap. Dis soos ons Kapenaars wat maklik vergeet hoe ongelooflik dit is dat ons so ’n yslike berg net op ons drumpel het. Ons het egter enige aanpassings op die Britte getoets om seker te maak alles bly outentiek Londens.

Hoe maklik of moeilik is dit om ’n hele span oorsee te bestuur? 

Sarah: Die span het vir 18 maande saamgewerk en alles is virtueel gedoen, behalwe een besoek aan Sheffield om vinnig van die mense te ontmoet. As ek nou terugkyk na die vorige spesiale Kersfees-aanbiedinge wat ons by Triggerfish in Kaapstad gemaak het en waar jy heeldag met die hele span kon deurbring, besef ek hoe ’n luukse dit was voor Covid.

Jac: As jy onder een dak werk, kan jy lees hoe mense vaar. Jy kan die hele span gelyktydig sien. Jy kan mense in ’n kamer intrek en saam ’n probleem uitpluis en dinkskrums hou.

As jy op Zoom werk, kan dit maklik ’n gebroke telefoontjie word. Ek en Sarah het dus elke oggend voor werk oor koffie alles uiteengesit wat ons daardie dag moes bereik. En dan het ons wat ons skrums noem met elke afdeling: ’n oproep met elke span elke oggend, sodat selfs al bespreek ons ​​nie werklike take nie, ons net mekaar sien en voel dat daar ’n span is, sodat almal soos mense voel en behandel word.

Uit Tabby McTat (beeld: Showmax)

Toe Tabby McTat op BBC uitgesaai is, was van die terugvoer dat dit hartseer was. Mens wil tog nie kinders oor Kersfees laat huil nie, of hoe?

Sarah: Ek dink kinders kan baie meer hanteer as waarvoor ons hulle krediet gee. Ons moenie hulle probeer beskerm teen stories met ’n bietjie meer emosionele diepte nie. Dit is dinge wat hulle regdeur hul lewens gaan ervaar.

.......
Ek dink my groter vrees is eintlik om iets te maak wat oordrewe oppervlakkig en vol helder kleure is, net om kinders se aandag te trek, in teenstelling met iets wat hulle eerder ’n bietjie pitkos kan gee, al maak dit hulle vir ’n oomblik hartseer.
.......

Jac: Ek dink my groter vrees is eintlik om iets te maak wat oordrewe oppervlakkig en vol helder kleure is, net om kinders se aandag te trek, in teenstelling met iets wat hulle eerder ’n bietjie pitkos kan gee, al maak dit hulle vir ’n oomblik hartseer. Ek het as kind Watership Down gekyk en natuurlik het dit my diep geraak, maar ek onthou daardie gevoel só duidelik, en ek voel asof dit my emosionele wêreld ’n bietjie uitgebrei het. Ons het wel seker gemaak die film is vol avontuur en lag en soet oomblikke ook.

Uit Tabby McTat (beeld: Showmax)

Het julle kinders, en indien nie, hoe moeilik of maklik is dit om animasie vir kinders te doen? Toets julle jul werk op iemand se kinders voor die finale weergawe?

Jac: Nie een van ons het kinders nie, maar my bure se driejarige klop gereeld aan my deur en vra dat ek die Tabby-liedjie so ’n paar keer per week speel, so ten minste weet ons dit werk vir ons teikenmark. Oor die algemeen probeer ons om ’n film te maak wat toeganklik is, maar nie afgewater is op enige vlak nie.

.......
Oor die algemeen probeer ons om ’n film te maak wat toeganklik is, maar nie afgewater is op enige vlak nie.
.......

Ons wil hê kinders én volwassenes moet iets daaruit kry, so die doel is net om ’n wonderlike film te maak wat leef in die wêreld wat deur Julia Donaldson en Axel Scheffler in hul boeke geskep is. Magic Light Pictures het ook hope ondervinding op hierdie gebied, en hulle ken hul gehoor en die heelal waarin die rolprente leef só goed dat ons voel ons is in redelik veilige hande daar met hul insette.

Sarah: Geen mensekinders van my eie nie, maar ek het wel twee baie bedorwe katdogters en twee briljante nefies om my voete stewig op die grond te hou. My kreatiewe kompas is redelik eenvoudig: Ek poog om dinge te maak wat my jonger self sou geniet het. Nie veel het verander nie – ek glo steeds dat jy moet hou van wat jy skep om dit interessant vir enigiemand anders te maak.

Wat is jul herinneringe met spesiale Kersfees-animasie toe julle kinders was?

Jac: Daar was nie baie animasiefilms wat ek onthou dat ek gekyk het nie, behalwe The nightmare before Christmas, maar ek onthou ’n aantal lewendige klassieke aksiefilms soos Home alone en Die hard, wat ek waarskynlik nog nie moes gekyk het nie!

Sarah: Dis nie tegnies animasie nie, maar The Muppet Christmas Carol is dié onbetwiste Kersfees-fliek – en sal dit altyd wees.

Uit Tabby McTat (beeld: Showmax)

Waar en saam met wie kyk julle vanjaar julle wen-animasie?

Jac: Ek sal oor die vakansie saam met my ouers, broers en susters in die Karoo en in Kaapstad wees. Ons film het verlede Kersfees op BBC gepremière, so ek het toe ’n kopie gekry om saam met hulle te kyk. Dit is nou eers op Showmax beskikbaar, so ek kan hulle dalk weer daarna laat kyk. Ons sien baie uit daarna om vanjaar se spesiale projek, Tiddler, te sien, maar sal moet wag dat dit in Februarie op Showmax stroom.

Sarah: Ek sal saam met my gesin in Hermanus wees – my neef kom uit Melbourne kuier en bring hul eenjarige seun saam vir sy eerste ekspedisie na die “tuisland”. Die feesvieringe sal ’n gesonde dosis klein mensies insluit wat amok maak, en Oukersaand sal afgerond word met ’n groepvertoning van Tabby McTat.

Waaraan werk julle volgende?

Jac: Ek doen storieborde vir ’n opkomende spesiale projek en werk aan ’n paar van my eie kortfilms sowel as ’n droomprojek – ’n vollengte film – in my vrye tyd.

Sarah: Ek begin ’n tweejaarprojek as regisseur van ’n animasiereeks, maar mag ongelukkig nou nog nie veel verklap nie. Hopelik kan ek binnekort meer deel.

Lees ook:

An interview with the South African creators of a Star wars: Visions short film, Aau’s song

Up-close South African insight: a review of Pearl of the sea

Ruby & Roach se animasie: geen taalgrense nie

Erentia Bedeker: onopgesmuk, internasionaal bekroon, redelik onbekend in haar eie land

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top