Taalwetgewing nie noodwendig die oplossing nie – Naomi Meyer praat met Danny Titus

  • 0

Taalwetgewing is op die oomblik weer groot nuus, met nuwe voorleggings wat in Februarie 2012 aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Kuns en Kultuur gemaak is wat behoorlik "die knuppel in die hoenderhok gegooi het."  Naomi Meyer het met Danny Titus – in sy persoonlike hoedanigheid – gesels oor die implikasies van hierdie voorstelle vir Afrikaans.

Hallo Danny, en dankie vir die geleentheid tot gesprek. Ek sal baie graag vir jou, met jou regsagtergrond en weens jou portefeulje, uitvoerende direkteur: kultuur by die ATKV wil uitvra oor taal- en regsaangeleenthede. Jy het onlangs die parlementêre subkomitee se verrigtinge – toe daar oor taalwetgewing gesels is - bygewoon. Taalwetgewing is altyd maar in die nuus, maar is daar enigiets ingrypends wat aan die verander is op hierdie terrein?

Die ingrypende wat die nuwe voorstelle van Februarie 2012 meegebring het, is die implikasie vir Afrikaans. Afrikaans word nie gesien as ’n inheemse taal nie en soos Engels is dit die benadering dat Afrikaans nie ’n taal is wat “historically diminished in use and status” is soos die inheemse tale nie. Hierdie verandering het behoorlik die knuppel in die hoenderhok gegooi. Die reaksie hierop was dat dit die ANC sou wees wat Afrikaans nou ’n doodskoot sou gee, dat Afrikaans nie gekies sal word om deur die nasionale departemente gebruik te word nie. Die kreet “ek vat julle hof toe” word meer en meer gehoor. Een juris het selfs in ’n persverklaring verwys na “die leeu wat nou in die Afrikaner” wakkergemaak sou wees. Om nie te eksklusief te wees nie, sluit hy toe  “Afrikaanssprekendes” ook in. Dit lyk nou of daar twee leeus is wat wakker gemaak is, of een leeu vir beide die Afrikaner en vir Afrikaanssprekendes.

Die wetsontwerp is in 2011 voorgelê en in terme daarvan is voorleggings gemaak. Die voorleggings is toe oor twee dae behandel deur die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Kuns en Kultuur. Na aanleiding van die voorleggings is daar toe besluit op drie tale in plaas van die twee in die eerste wetsontwerp. Klem word veral gelê op die uitbou van meertaligheid en die ontwikkeling van inheemse tale.

Taal is ’n taamlik emosionele aangeleentheid wat vir my nie bloot met wetgewing reggestel sal word nie. Dit is ’n langsame proses wat nog baie harde werk gaan behels. Hier is ’n geleentheid om Afrikaans met haar bevoorregte status tot diens van die verdere ontwikkeling van veral die inheemse tale te stel. Hierdeur kan die algemene uitstraling van Afrikaans as ’n taal wat steeds nie haar bagasie van die verlede kan afskud nie, uiteindelik ’n ander karakter kry.

Die aandrang op meertaligheid kom nou baie sterker aan bod. Dis vir my ingrypend dat Afrikaanssprekendes nou ook die geleenthede kan benut om ander Suid-Afrikaanse tale aan te leer en toe te pas.

Taal en wetgewing is, weens Suid-Afrika se geskiedenis, maar ’n ongemaklike kombinasie. Was dit nie juis wetgewing se skuld dat Afrikaans sit met die soort bagasie waarmee dit vandag opgeskeep is nie? Of sou mens wetgewing ook positief kon aanwend as dit by die bevordering en uitbou van landstale kom?

Taal en wetgewing is beslis ongemaklik. Ek kry die indruk dat daar veral op die strafmaatreëls van wetgewing gefokus word. Wat is ’n wet as dit nie kan bindend wees nie? is die een argument. Maar hoekom die sterk fokus hierop? Is die bedoeling om die howe te wil oorlaai met allerlei klagtes? Die howe behoort werklik die allerlaaste uitweg te wees. Daar is bepalings in die wetsontwerp wat klagteprosedures voorstel, en ons taalpolitieke diskoers is van so ’n aard dat ons eerder sal moet werk na gemeenskaplike oplossings as om mekaar vanuit die loopgrawe en in die howe te wil beveg.

Dit is nie wetgewing se “skuld dat Afrikaans sit met die soort bagasie waarmee hy vandag opgeskeep is nie”. Die bevoorregting van Afrikaans is onderbou deur ’n misdadige ideologie wat dekades geneem het om mense tot hul sinne te bring. Dit was vir my die taal van die vangwa, die taal wat my die voordeur geweier het en die taal van die agterdeur geword het. En tog is dit my moedertaal. Ja, wetgewing het wel ’n rol daarin gespeel, maar dit was die uitlewing van daardie rassebeheptheid wat die basis daarvan was. Mens wil so graag glo dat dit alles tot die verre verlede behoort, maar dit is gewoon nie so nie.

Ek kan saamstem dat wetgewing positief aangewend kan word vir die bevordering en uitbou van landstale, maar wetgewing het ook sy beperkinge. Dit lê veel eerder in die veerkragtigheid van die taalgemeenskappe. Die voorsitter van die Menseregtekommissie, advokaat Lawrence Mushwana, vertel altyd die verhaal van die eerste demokratiese parlement na 1994. Hulle vergader as een van die parlementêre portefeuljekomitees en die lid van die Vryheidsfront (toe nog nie Plus nie) staan daarop dat daar nie Engels nie, maar Afrikaans gepraat word. Die Nguni-sprekende lede van die komitee besef toe dat hulle eintlik in die meerderheid is en hou toe die vergadering in Zoeloe. Die Afrikaanse bulle is toe behoorlik in hulle kanon in en moes toe versoek dat daar tog maar in Engels gepraat moet word. Lawrence Mushwana vertel dat daar vriendskappe gesmee is tussen die ANC en die Vryheidsfront wat nog sommer vir baie jare steeds stand hou.

Wetgewing is nie noodwendig die oplossing nie. Ons het soveel geleenthede om mekaar beter te verstaan en ons taal te bevorder en uit te bou. Juis binne Afrikaans is so ons onbekend aan mekaar. Kyk maar na bruin Afrikaanssprekendes teenoor wit Afrikaanssprekendes. Op Stellenbosch en talle ander plekke in Suid-Afrika kan bruin mense konkreet uitwys hoe hulle huise en woonplekke letterlik van hulle afgevat is. In hierdie konteks moet hulle maar aanvaar, vergewe en vergeet. Afrikaanse woorde en ervarings in Afrikaans word die nasionale media, taalorganisasies, kerke, skole en universiteite vir jare reeds die land uitgebasuin. En tog bly daar ’n onkunde oor die Afrikaans van bruin en swart mense. Die weeklikse rubriek op RSG oor die Woordeboek van die AfrikaanseTaal (WAT) het onlangs die fokus geplaas op die woord poenankies. Dit is as ’n “vreemde dog interessante” woord bespreek. Tog is dit ’n woord in die bruin gemeenskap landwyd wat so oud soos die berge is. Kyk mens na die bewustelike plasing van bruin mense op die rante in die Afrikaanse media, dan is dit oorduidelik watter geleenthede daar, los van wetgewing, bestaan vir die bevordering van Afrikaans. In ’n oop gesprek met Media24 se voormalige uitvoerende hoof en vyf van die maatskappy se redakteurs oor die onderwerp van die ontoereikendheid van beriggewing oor bruin mense is dit baie duidelik gestel: ons kies vir die model van ekonomiese en finansiële haalbaarheid. Ons moet ons tradisionele lesers (dis nie ’n raaisel wie dit is nie) beskerm. Die voorbeeld wat die uitvoerende hoof pertinent stel, is dat ons tradisionele lesers van Stellenbosch beslis nie belang stel in die dood van ’n kind in Macassar nie. Dat die uitvoerende hoof, voormalig, ’n bruin man is, maak die ironie net skerper.

Die vorige voorsitter van die Afrikaanse Taalraad moes bely by ’n taalsimposium oor hoe die jeug van vandag kyk na 16 Junie 1976, dat hy sy lewe lank in diens van Afrikaans staan, ’n hele paar somers agter die rug het, en tog nog nooit die vryheidsliedere in Afrikaans gehoor het nie. Trouens, toe dit voorgedra en gesing is die dag op Stellenbosch, was dit die eerste keer, 2011, dat hy dit gehoor het.

Is daar spesifieke aangeleenthede wat jou opgewonde of bekommerd maak as dit kom by taalwetgewing?

Daar is ’n paar aspekte wat my aanspreek uit die ervarings met die huidige  wetsontwerp. Die een is die oorweldigende negatiwiteit wat dit na vore gebring het. Ek het my veral verbaas oor Die Burger se eensklapse verwysing na die wetsontwerp as “die ANC se Talewet”. Die ANC het hom nog nie eers hieroor in die openbaar uitgespreek nie. Die lyne tussen Afrikaner en ANC is onmiddellik getrek. Ek self pas nie in hierdie loopgrawe nie. Dit strek ook nie die Afrikaanse taal tot enige eer nie. Ons moet uitstyg bo hierdie gekrakeel (om nou maar Hollands te praat). Ek is daarvan oortuig dat ons tussenweë sal vind om hierdie negatiwiteit in positiewe prosesse te omskep.

Daar is ook enkele realiteite wat ons maar met mekaar moet deel:

  • Een daarvan is dat Afrikaans sedert 1994 nie meer die voertaal in nasionale departemente is nie. Dit is waaroor hierdie wetsontwerp gaan: amptelike tale in nasionale departemente.
  • Daar is tans sterk aandrang daarop dat provinsiale regerings hul keuses op streekvlakke bepaal en dat die nasionale benadering hierdie provinsiale wetgewing moet erken. Sou dit die geval wees, is dit moeilik om aan te dring op Afrikaans as amptelike taal in KwaZulu-Natal of Limpopo. Die Wes-Kaap en die Noord-Kaap kom onmiddellik ter sprake wanneer dit kom by Afrikaans as amptelike taal. En tog het ons dan maar die gesprek eers begin. Om alles in ’n wet te wil vasvat, is gewoon onsinnig.
  • Dan bly die kwessie oor die huidige posisie van Afrikaans as bevoorregte taal. Koerante, ’n TV-kanaal, radiostasies, ’n wetenskapstaal, letterkunde, ’n regstaal. Ek beklemtoon maar weer die geleenthede om Afrikaans hierdeur konkreet ’n positiewe baadjie aan te trek.
  • Die bemagtiging van Afrikaans deur byvoorbeeld die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans beklemtoon ’n strategiese rigting wat Afrikaans meer erkentlik maak teenoor armer gemeenskappe.

Daar is nog vele ander, maar ek sal vir die oomblik hiermee volstaan.

LitNet Akademies het ’n nuwe node wat op die been gebring word, naamlik LitNet Akademies (Regte). Hier word bestaande Afrikaanse vaktaal gebruik in sover dit van toepassing is, en nuwe vaktaal word desnoods geskep, om losweg van ons webwerf af aan te haal. Sien jy ruimte vir publikasies in spesifieke landstale op ’n terrein soos die regte? Meer spesifiek: sien jy die noodsaak hiervan?

Ek sien die waarde hiervoor vir Afrikaans. Benewens Engels sien ek nie dat ander landstale noodwendig hiervan gebruik sal maak nie, sekerlik nie onmiddellik nie. Dit word my vertel dat daar nog nie ’n regsuitspraak in een van ons inheemse tale gelewer is nie. Miskien sal hierdie die geleentheid skep om inheemse tale ’n voet in die deur te gee en daarvandaan verdere statuur te verleen.

Ons regsopleiding in Suid-Afrika is maar taamlik gefragmenteerd en dis maar die laaste dekade dat daar ’n verdieping gekom het. Die hoof van ’n regsdepartement van een van die grootste regsfakulteite vertel my verlede week hoe daar steeds kampe is tussen sy dosente, wit een kant en swart ander kant. Hy werk hard aan die akademiese ruimtes vir veral opkomende swart dosente. Van wit kant moes hy pertinent hoor: “You and your blacks!” Hy is wit en die uitspraak kom van ’n regsdosent. Dit sal dwaas wees om te dink dat ons reeds die nuwe hemel en die nuwe aarde betree het in die regswêreld. Maar soos met die taalproblematiek moet ons steeds baie hard werk om ons land en sy mense suksesvol te maak. Die ruimte van die node om ook die ideologiese hoeke te kan aanhoor, sal van groot waarde wees.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top