Taalnasionalisme vervang met mynnasionalisme – die sabotasie van ’n superstaat

  • 0

Wouter se inkonsekwente Afrikaanse woorde verwys: "Afrikaanse universiteite en so ook die skole moet daarom ’n stille dood sterf en die opvoeding van die totale bevolking in Engels geskied. Geen ander bevolkingsgroep het sulke voorregte nie."

Engelse, Hollanders, Duitsers, Franse, Spanjaarde, Portugese, Italianers, Israelis en Russe het wel sulke regte.

Moderne materialistiese en sekulêre Europese state en hulle geografiese grense is gebaseer op uiterlike taalidentiteit. Daarom het daardie lande skole en universiteite met nasionalistiese taal.

Sou Afrikaners in Europa gewoon het, sou hulle nou Afrikaanse skole en universiteite gehad het, en ’n selfregerende gebied of staat ook.

In Suider-Afrika egter is daar amper geen inheemse Afrika-taal universiteite meer nie, want super-materialistiese Afrikastate suid van die Sahara word geadministreer met die uitheemse taal van die kolonialis, sy dit Portugees, Frans of Engels.

In Afrikastate soos Suid-Afrika vorm taal nie meer ’n nasionalisme nie, maar nou die super-materialisme van myne wel.

Myne is egter nie soos Afrikaans regoor die land verspreid nie. Dis baie moeilik om Suid-Afrika as een land bymekaar te hou, gebaseer op ’n minerale-materialisme en myn-nasionalisme. Vandaar die huidige politieke opvolgstryd tussen leidende Pedis van Limpopo - Malema-Mothlante en Sexwale in alliansie met die arm Oos-kaap, en tradisionele Zoeloes in Kwazulu-Natal, wat geografies buite die superryk Bosveldstollingskompleks geleë is.

Diamante en goud het Suid-Afrika se grense en oorloë bepaal, en net Afrikaans het die uiteenlopende Unie van Suid-Afrika so lank in een stuk gehou.

In die 21ste eeu gaan ons die geweldige groot globale geopolitieke kragte van platinum, chroom, mangaan, vanadium, titanium en skalie-gas in ’n multipolêre wêreld beleef, en dit sonder Afrikaans as nasionale nasionalisme. Ek voorspel daarom met matematiese sekerheid ’n totale versplintering van sentrale gesag en nasionale jurisdiksie in Suid-Afrika sonder Afrikaans.

Die ANC as politieke party met pragtige propaganda-projekte kon na 1994 Afrikaans op nasionale skaal as enigste inheemse wetenskapstaal gebruik en bevorder het, met die edele materialistiese doel van een nasie een superstaat. ’n Supermag Suid-Afrika met een inheems-nasionalistiese taal, sou selfs ryker en sterker as Rusland, Indië en Brasilië in BRICS gewees het! Dis ’n Babiloniese beginsel so oud soos die berge.

Inheemse taalnasionalisme is deel van moderne Staatkunde en Nasiebou 101. Staatsleiers en politici moes dit geweet het, hoekom het hulle dit nie gedoen nie?

Wie het die politieke projek van Suid-Afrika as veelrassige en groot globale Afrikaans-sprekende soewereine supermoondheid, onafhanklik van Londense geldmag gesaboteer?! Dit is hoekom Dan Roodt sedert 2000 dink sekere slim Engelse in koloniale Londen het die nuwe Suid-Afrika, Afrikane en Afrikaners inkluis, beide bedonner!

Ran Doodt

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top