Taalerfenissimposium op Clanwilliam

  • 0

Die ATKV se taalafdeling bied op 21 Oktober 2016 ’n Taalerfenissimposium met die tema “Dit kom van ver ...” op Clanwilliam aan. Dit is deel van die Cederberg Rooibos Kunstefees wat op die dorp aangebied word. Tydens die simposium sal mense die geleentheid kry om saam met sprekers soos prof Hans du Plessis, prof Christo van Rensburg, digter Diana Ferrus, kletsrymer/kitaarspeler Frazer Barry en skrywer Willem Fransman te besin oor die Afrikaanse taalerfenis.

“Die ATKV maak erns met ons Afrikaanse taalerfenis,” sê Anzil Kulsen, projekorganiseerder by die ATKV. “Daar is soveel wat onder taalerfenis verstaan kan word en daarom is dit gepas om in hierdie geskiedenisryke streek by die tema ‘Dit kom van ver ...’ stil te staan.”

Die twee bekende akademici, Christo van Rensburg en Hans du Plessis, praat oor “So kry ons Afrikaans ... en so lyk dit vandag”. Frazer Barry, van die Tribal Echo-faam, wys hoe rymkletskultuur ’n element van Afrikaanse taalerfenis is en die skrywer, Willem Fransman, kyk na die bewaring en bewusmaking van taalerfenis deur middel van die radiodrama. Diana Ferrus, internasionaal erkende en bekroonde digter verduidelik hoe Afrikaans ’n versoeningstaal is. Danny Titus (uitvoerende direkteur by die ATKV) en Evelyn Ferreira (senior bestuurder: taal by die ATKV) is die gespreksleiers van die dag.

taalgesk650

Meer oor die aanbieders:

Hans du Plessis is ’n internasionaal erkende navorser, akademikus, digter en skrywer van verskillende genres vanaf jeuglektuur tot historiese fiksie. Hy het al meer as 100 publikasies die lig laat sien. Sy lys van toekennings sluit die CR Swart-prys (1995) vir Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou; ATKV-Kinderboektoekenning in 1997 vir Ditsem Dawid en die CBSA-prys, ’n Christelike toekenning vir Innie skylte vannie Jirre. Prof Du Plessis dien op verskeie direksies, is tans ’n voltydse skrywer en steeds betrokke by die NWU-Skryfskool in Potchefstroom.

Christo van Rensburg stel baie in Afrikaans se dialekte belang, en kom so uit by Afrikaans se geskiedenis. So kry ons Afrikaans is ’n boek van vier jaar gelede wat juis oor die fassinerende onderwerp van die inheemse oorsprong van Afrikaans handel, en hy publiseer ook artikels oor Afrikaans en sy geskiedenis. Hy was professor in Afrikaans aan die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat, en is tans ’n navorsingsgenoot by die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom.

Frazer Barry is ’n bekroonde vermaaklikheidskunstenaar afkomstig vanaf Kleinmond. Hy is vir die afgelope 20 jaar aktief besig is om met sy groep Tribal Echo die land se verhoë aan die brand te speel. Hy is benewens musikant ook komponis, liriekskrywer, musiekvervaardiger, sanger , rymkletser, skrywer, digter , seremoniemeester, radiostemkunstenaar, televisieaanbieder en skrywer van kenwysies. Frazer het ’n verskeidenheid toekennings ingepalm. Van sy onlangse repertoire sluit in die toonsetting van Adam Small se Kô lat ons sing.

Willem Fransman is ’n stigterslid en die nasionale voorsitter van die Afrikaanse skrywersvereniging. Hy werk tans by UWK as navorser, maar het al in feitlik alle genres gepubliseer. Fransman is veral bekend vir sy radiodramas. In 1997 is hy die eerste wenner van die RSG/Sanlam Radiodramakompetisie met sy werk Om te bedel is ’n kuns. Fransman is ook ’n grafiese kunstenaar en rubriekskrywer vir Die Burger en Kaap Rapport. Hy is ook bekend as storieverteller van veral kontreistories.

Diana Ferrus is ’n internasionaal erkende en bekroonde digter. Haar digbundel Ons Kom vandaan het in 2006 verskyn. Diana se  Engelse digbundel, I've come to take you home, het in 2010 verskyn en die titel gedig  was instrumenteel in die teruggee van die oorskot van die Khoisanvrou, Sarah Baartman, aan haar nageslag in Suid-Afrika nadat dit vir jare in Europa as museumuitstalling aangewend is. Die gedig is gepubliseer in die Franse Wet, ’n eerste in Franse geskiedenis. Sy beywer haarself ook om opkomende digters te help om hul werk die lig te laat sien deurdat sy by verskeie projekte betrokke is en ook opleiding in digkuns by die Breytenbach-sentrum aanbied.

Mense wat belangstel om die simposium by te woon, kan Charlton Lee by 011 919 9000 of charltonl@atkv.org.za skakel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top