..........
Sy naam was David Fram.
Hy was die laaste Suid-Afrikaanse Jiddisj-talige digter. Toe hy in 1988 sterf, kon daar met reg gesê word dat ’n taallig finaal hier uitgedoof is.
.............
Kyk ’n mens met ’n fyn oor na Netflix-reekse soos Shtisel, wat onder ’n ultra-ortodokse Joodse gemeenskap in Jerusalem afspeel, begin die Jiddisj wat hulle praat gou verrassend verstaanbaar raak.
Dié taal is ’n platterige en kleurryke dialek van Duits met ook heelwat ander insette, onder meer uit die Hebreeus (die letters is in Hebreeuse skrif) en Aramees, wat van wortels wat in ongeveer die jaar 1000 in die Rynland geplant is, in die Middeleeue onder Jode in Sentraal- en Oos-Europa tot ’n internasionale lingua franca ontwikkel het. Dis egter net onder die Haredi-Jode, wat aan hul outydse swart kleredrag en aan die manne se forse pelshoede uitgeken word, dat dit vandag nog alledaags gepraat word.
Tog was daardie taal enkele dekades gelede nog betreklik hoorbaar – natuurlik in slegs stede en dorpe waar daar heelwat Jode was.

https://www.youtube.com/watch?v=WALuOpZjwdE
*
Die Kaapkolonie se Wet 47 van 1902 het onder die swaar titel “Act to Place certain Restrictions on Immigration and to provide for the Removal from the Colony of Prohibited Immigrants; Immigration Act” gebuk gegaan. Dit was op die sogenaamde Natal-formule (1897) geskoei, wat ook elders in die Engelssprekende wêreld ingeburger geraak het: Om voet aan wal in ’n Kaapse hawe te sit, moes immigrante onder andere in staat wees om ’n Europese taal te skrywe.
Dit was nie gemik slegs daarop om Indiërs en Chinese uit te hou nie, maar eweneens om ander onwelkome immigrasie die hoof te bied. Ná die oorlog was daar ’n toestroming siele na die Transvaalse goudvelde en ook uitgewekenes weens die oorlog.
Terstond het die vrees onder plaaslike Jode ontstaan dat dié wetsbepaling teen ook die merendeels arm Oos-Europese Jode gebruik sou word. Jiddisj was dikwels die enigste taal wat hulle magtig was: Dis in die Hebreeuse skrif geskrywe; boonop gaan die leesoog regs na links. Aktivisme het oornag ontspring. Een van die touleiers was David Goldblatt, die vader van Sarah Goldblatt, Langenhoven se minnares en later literêre eksekuteur.
Hy het hom daarvoor beywer dat Jiddisj eksplisiet as ’n Europese taal erken word sodat Jode uit Oos-Europa nie uitgesluit sou word nie. In 1905 publiseer hy ’n pamflet getiteld Yiddish, Is It a European Language? Dis van ’n voorwoord bedien deur Morris Alexander, ’n bekende Joodse advokaat en parlementslid.
In 1906 word ’n spesifieke bepaling in artikel 26 van die Wet op Immigrasie ingevoer te dien effekte dat, vir doeleindes van die skryftoets, Jiddisj as ’n Europese taal gereken word.
Joodse immigrante uit onder meer Litaue sou dus voortaan op die kaai hul pen in Jiddisj kon doop.
*
In 1890 het Nehemiah Dov Ber Hoffmann (1860–1928) in die Transvaal die eerste Jiddisje weekblad, Der Afrikaner Israelit, die lig laat sien, wat ses maande lank sou verskyn. Later het hy in die Kaap ook ’n weekblad, Ha-Or (1895–1897) op die been gebring. David Goldblatt se Kaapse weekblad, Der Yiddisher Advokat, het van 1904 tot 1924 verskyn.
In 1911 het Solomon Fogelson in Johannesburg die weekblad Der Afrikaner in die lewe geroep. Daar was tóé ook etlike ander Jiddisje blaaie in daardie stad. Der Afrikaner het vir langer as twee dekades uitgekom totdat dit in 1933 met Afrikaner Yidishe Tsaytung (wat in Afrikaans “Jiddisje koerant vir Afrika” sou wees) saamgesmelt het. Tot en met 1983 is dit op Johannesburg se strate verkoop.
*
Die vroegste seders in Suid-Afrika se Jiddisje letterkundekringe was Hyman Polsky (1871–1944), Morris Hoffman (1885–1940) en Jacob Mordecai Sherman (1885–1958). ’n Versameling van Polsky se stories is in 1939 in Warskou as In Afrike uitgee. Morris Hoffman was lank op De Aar in die Groot Karoo ’n winkelier. In 1935 het sy poësiebundel, Woglungsklangen (“Liedere van ’n wandelaar”), verskyn. Ná sy dood het Unter Afrikaner Zun (“Onder die Afrikason”), in 1951, die lig gesien. Sherman weer het tussen genres rondbeweeg. Suid-Afrika se eerste Jiddisje roman, Land fun Gold un Zunshayn (“Land van goud en sonskyn”), het uit sy pen verskyn.
Daar was nog baie ander: Nehemiah Levinsky (1901–1957); Hersh Shisler (1903–1978); Samuel Leibowitz (1912–1976); Leibl Yudaken (1904–1989); Wolf Rybko (1896–1955); Mendel Tabatznik (1894–1976); Chaya Fedler (oorl 1953); Rachiel Levin-Brainin (oorl 1980); Leah Benson-Rink; Sarah Eisen (oorl 1981), en Michael Ben Moshe (1911–1983).
*
In die 1930’s is twee Jiddisj-operettes in Johannesburg opgevoer. In Februarie 1932 was dit A tsigayner fantasia (“’n Sigeuner-fantasie”) en in Julie 1933 die satire Fun Fordsburg biz Parktown (“Van Fordsburg na Parktown”), wat gesinspeel het op die Joodse aankomelinge in Suid-Afrika se opwaartse sosio-ekonomiese aspirasies tot reg in die hartjie van fênsie Parktown.
...........
In die 1930’s is twee Jiddisj-operettes in Johannesburg opgevoer. In Februarie 1932 was dit A tsigayner fantasia (“’n Sigeuner-fantasie”) en in Julie 1933 die satire Fun Fordsburg biz Parktown (“Van Fordsburg na Parktown”), wat gesinspeel het op die Joodse aankomelinge in Suid-Afrika se opwaartse sosio-ekonomiese aspirasies tot reg in die hartjie van fênsie Parktown.
.............
Die skrywer van daardie twee operettes was ook in die jare 1933 en 1934 ’n redaksielid van Afrikaner Yidishe Tsaytung.
Sy naam was David Fram. Hy was die laaste Suid-Afrikaanse Jiddisj-talige digter.
Toe hy in 1988 sterf, kon daar met reg gesê word dat ’n taallig finaal hier uitgedoof is.
*
In 1903 is Fram in die noorde van Litaue gebore, in Krekenava buite die stad Ponevesj op die oewer van die Nevezhis-rivier,[1] ’n goeie stuk noord-wes van vandag se hoofstad Vilnius.
Geleë in Ponevesj was een van die vernaamste Jesjiwas in die land. In 1923 nog was 36% van die 19 000 inwoners Jode.
Die taal onder die Jode in die westelike vestigingsgebied, waar die Jode verblyfreg had en wat Litaue ingesluit het, was Jiddisj. Kinders het daarin les gekry. Daar was volop koerante in onder meer Jiddisj én Hebreeus.
Fram het die tradisionele Joodse skoolonderrig gekry; bykomend is hy aan sekulêre vakke blootgestel. Idillies was die tye wat hy op die plaas saam met sy oupa deurgebring het.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog, toe tsaar Nicholaas II die Jode se lojaliteit in twyfel getrek het, is hulle gewelddadig uit die vestigingsgebied binneland toe geboender. In 1916 het die Fram-gesin hulle in die stad Samara, ver ten ooste van Moskou, gevestig. Al was dit buite die vestigingsgebied, was dit sedert die tweede deel van die negentiende eeu weens wetswysigings moontlik vir sekere kategorieë Jode om daar te woon.
Dáár het Fram by ’n Russiese gimnasium skoolgegaan. Op 18 het sy eerste gedig daar verskyn – in Russies.
In 1921, ná die oorlog, keer hy Litaue toe terug, waar hy in Krekenava matrikuleer.[2] Hy woon die militêre akademie in Wilkomir by, waar hy by Yudl Mark, ’n vername Jiddisje linguis, loseer onder wie se invloed hy gou kom. Daar begin hy gedigte in Jiddisj te skrywe.
In 1927, ná drie maande by ’n landboukollege in Toulouse en ’n besoek aan sy vier susters, wat in die Joodse gemeenskap in Parys ingeburger was, kan hy geen rus of duurte vind nie, en besluit hy om sy oom se uitnodiging te aanvaar om in Johannesburg by hom aan te sluit.
*
In die 1930’s is hy lid van ’n groep jong kunstenaars wat smiddae in die East African Pavilion in Breestraat in die Johannesburgse middestad vergader, waaronder ook Uys Krige, Vincent Swart, Alexis Preller en Irma Stern.
In 1931 verskyn sy eerste bundel verse, Lider un Poemes (“Liedere en gedigte”), in Warskou, Pole. Die gedigte is ’n weemoedige terugreik na sy Litause jongtyd. In dieselfde tydsgewrig oes hy met sy twee operettes groot lof in. Ná ’n jaar lange verblyf by die Afrikaner Yidishe Tsaytung, rig hy saam met Abel Shaban die koerant Der yidisher ekspres op, wat tussen 1935 en 1937 in Johannesburg uitgegee word.
Gaandeweg raak sy poësie meer op Suid-Afrika gerig.
Die volgende kwatryn, byvoorbeeld, kom uit die gedig “In an Afrikaner baginen” (“In ’n Afrika-sonsopkoms”):[1]
S’iz zunik un s’iz loyter der frimorgen.
Ekh, vos hele, shtralndike zun!
Un azoy bafrayt fun dayges un fun zorgn –
Kvoktshet ergets-vu leygedike hun.
Dis ’n sonnige en skoon vroemôre.
O, wat ’n helder, stralende son!
En só, bevry van kommer en van sorge –
Kloekend, êrens, is ’n eierlêende hoen.
Tog bly hy wat Hazel Frankel in haar doktorale proefskrif “David Fram: Lithuanian Yiddish Poet of the South African Diaspora” (2013) the wandering Jew noem. Hy vertoef rukke in Engeland; in 1934 werk hy in Londen aan ’n ondersoek na die rolprent Jew Süss (1934). Hy boer by Hekpoort én saam met sy broer in die eertydse Rhodesië.
In 1949 vertrek hy saam met sy eerste vrou uit Suid-Afrika metterwoon Londen toe. Hy skei; trou weer; en trek enkele jare later weer terug Suid-Afrika toe saam met sy tweede vrou, ’n Brit.
*
In 1942 kom sy ouers, wat in Litaue agtergebly het, in ’n konsentrasiekamp in Ponevesj om.
*
Fram se twee sekerlik mees bekende en aangeprese gedigte is langeres wat in 1947 in Londen verskyn: “Efsher” (“Dalk”), wat op sy eie lewensloop geskoei is, en “Dos Letste Kapitl” (“Die laaste hoofstuk”), ’n elegie oor sy tenietgegaande Litause heimat. Beide word gesien as ’n wrang reaksie op die Jodeslagting. Hulle is van die melankolie deurweek:
Vet di benkshaft shtendik rinen? –
Veln oyf fremdn breg
Oyfgeyn freylekhere teg?
Sal die verlange pal sypel? –
Sal daar op ’n verre kus
Gelukkiger dae verrys?[3]
In 1984 word die verse uit sy latensjare in die versamelbundel A Shvalb oyfn Dakh (“’n Swaeltjie op die dak”) byeengebring.
*
Met ’n bietjie toewyding, ’n toegeskreefde oog en ’n skeut verbeelding is die sprong van Jiddisj na Afrikaans nie ’n moeilike een om te maak nie:
Oyf mayn dakh amol nokh getsvitshert a shvalb,
un in shtub hot geshmekt mit tsufridenem broyt …
Op my dak het ’n swaeltjie nogmaals gekwettelier,
en ’n tevrede reuk het die huis soos brood volgedy …[4]
*
Op Vrydag 22 Oktober 1948 sê Fram aan Die Burger:
Afrikaans culture has a greater attraction for me than the present culture of any language that I know [...] [I]n both cases [in the struggle for cultural survival] we are surrounded by a greater and stronger culture against which we fight.
Daar was ’n tyd dat ’n mens in die besige strate van Johannesburg, Kaapstad en selfs van Oudtshoorn Jiddisj in al haar astrantheid sou kon hoor.
Daardie dae is verby.
Hoofbronne
Fogel, Joshua. 2015. David Goldblat (David Goldblatt). http://yleksikon.blogspot.com/2015/05/dovid-goldblat-david-goldblatt.html (15 November 2022 geraadpleeg).
Frankel, Hazel. 2013. David Fram: Lithuanian Yiddish Poet of the South African Diaspora and Illuminating Love. http://shura.shu.ac.uk/4914/ (15 November 2022 geraadpleeg).
Jewish Virtual Library. 2022. South African Literature. https://www.jewishvirtuallibrary.org/south-african-literature (15 November 2022 geraadpleeg).
Kotlerman, Ber. 2014. South African Writings of Morris Hoffman: between Yiddish and Hebrew. Journal for Semitics 23(2):569–582.
Sherman, Joseph. 2006. S.j. “What balm for the heart ...?” The Yiddish poetry of David Fram (1903–1988). https://www.thefreelibrary.com/%22What+balm+for+the+heart+...%3f%22+The+Yiddish+poetry+of+David+Fram...-a0149023016 (15 November 2022 geraadpleeg).
Eindnotas
[1] Met behulp van vertalings in Engels, deur die skrywer van hierdie essay vertaal. So ook die ander gedigte hierin.
[1] Vandag in Litaus: Panevėžys en Nevėžis
[2] In Jiddisj: Krakinove
[3] Reëls 5–7 in “Efsher”
[4] “A shvalb oyfn dakh”