
Dit was omtrént ’n besige fliekjaar – ek het vanjaar 63 films gesien, waarvan heelparty uitstekend was.
1. Melancholia (lees resensie): Met hierdie enigmatiese film raak regisseur Lars von Trier aan die rou senuwees van ’n wêreldbevolking wat ’n katastrofe vrees. Hy is ’n meester daarvan om ’n abstrakte idee te vat en dit ’n stórie te maak wat in die fynste besonderhede uitgebeeld word. Daarby is Kirsten Dunst weergaloos in die hoofrol as die jong reklamekunstenaar wat op haar troudag nie inpas in die feestelikhede rondom haar nie.
2. Moonrise Kingdom (lees resensie): Soos ’n mens van Wes Anderson kan verwag, is hierdie film stroomop en snááks. Twee tieners wat op ’n eiland woon, raak verlief en besluit om weg te loop na hul eie paradys, ’n afgeleë baaitjie. Dis 1965, die tyd van ’n geordende samelewing, Boy Scouts en volwassenes wat buite sig die reëls buig wat hulle self opgestel het. Anderson ontmasker hierdie dubbele waardes, maar sy satiriese aanslag is lig en komies.
3. A separation (lees resensie): Hierdie Irannese film, vanjaar se wenner van die Oscar vir beste buitelandse rolprent, fokus op die verbrokkeling van ’n egpaar se huwelik. Dit word terselfdertyd ’n volledig uitgewerkte metafoor van die gekwelde omstandighede van die land en die konflikte wat spruit uit godsdienstige en etniese onverdraagsaamheid. Wat oop eindes betref, is hierdie een onoortreflik.
4. Die wonderwerker (lees resensie): Katinka Heyns se biografie oor Eugène Marais is ’n meesterstuk, en moontlik die beste Afrikaanse fliek wat ons tot nog toe gehad het. Die vyf hoofakteurs lewer skitterspel, met Elize Cawood wat uitstaan as die beheersugtige Maria.
5. Lucky (lees resensie): ’n Pragtige “klein” film oor ’n plattelandse seun wie se ma sterf nadat sy vir hom ’n laaste boodskap op ’n kasset gelos het. Hy volg haar spoor Durban toe, waar hy uitgelewer word aan die (onwillige) hulp van ’n verbitterde ou Indiërvrou. Hierdie fliek lewer ’n stewige bydrae tot die groeiende getal puik Suid-Afrikaanse films van die afgelope jare.
6. Cloud Atlas (lees resensie): Epiese filmkuns in die ware sin van die woord. Drie regisseurs het die bekende, “onverfilmbare” boek gevat en dit omskep in ’n boeiende, oorrompelende, hoewel enigsins verwarrende, fliekervaring. Die ses storielyne vorm ’n geskiedenis van die mensdom in die kleine, tot ver in die toekoms in.
7. The skin I live in (lees resensie): Nie Pedro Almodóvar se beste film nie, maar hierdie donker, grieselige ondersoek na identiteit, en dan spesifiek seksuele identiteit, het nog lank ná die sien daarvan by my gespook. Antonio Banderas is perfek as die briljante maar versteurde plastiese chirurg.
8. Beginners (lees resensie): Aweregs, vars en oorspronklik. ’n Besonderse verhaal oor ’n pa (Christopher Plummer) wat op 75 besluit om sy homoseksuele identiteit te begin uitleef, en sy seun (Ewan McGregor) wat hom moet versorg toe hy terminaal siek is aan kanker. Al twee akteurs is uitstekend, maar die warm hart van die film behoort aan Plummer. Sy Oscar as beste byspeler was welverdiend.
9. The snows of Kilimanjaro (lees resensie): Ek is van harte dankbaar dat ons nog hierdie tipe Europese kunsfliek op ons kringloop te sien kry, te midde van ’n oorweldigend kommersiële aanbod. Marcel Monteron (Jean-Pierre Darroussin) is ’n ouskool-vakbondman, ’n goeie en gewetensvolle mens, maar sy hoë ideale en rotsvaste beginsels word behoorlik uitgedaag deur die harde werklikhede van vandag se globale ekonomie wat onder uiterste druk verkeer.
10. The sound of my voice (lees resensie): ’n Vreemde fliek wat ’n mens behoorlik laat nadink. ’n Jong paartjie besluit om ’n dokumentêr te maak oor ’n kultusgroep onder leiding van Maggie, ’n vrou wat beweer dat sy uit die toekoms teruggestuur is na die aarde. Die kyker word ten slotte nie met bewyse gelaat nie, net met ’n hele paar intrigerende vrae.
11. Marley (lees resensie): Ek verkies hierdie musiekdokumentêr net ’n kortkop bo Searching for Sugar Man, oor die sanger Rodriques. Marley is ’n deeglike stuk werk wat ’n geskakeerde blik op die lewe van die beroemde reggaekunstenaar gee. Wat veral treffend is, is die diep spirituele inspirasie vir sy musiek – so saam met ’n daggawalm of twee het Marley werklik liefde, vrede en versoening voorgestaan.
12. To Rome with love (lees resensie): Sommer net vir die lekkerte, hierdie lighartige ode aan die pragtige Italiaanse stad. Woody Allen vervleg bekwaam vier storielyne om hulde te bring aan dit waarvoor die Italianers beroemd is: argitektuur, opera en – natuurlik – die liefde. Sy satirisering van die hedendaagse obsessie met selebriteit en werklikheidstelevisie is heerlik snaaks en in die kol.

