The skin I live in – ’n donker reis na seksuele identiteit

  • 0



The skin I live in

 

Regisseur: Pedro Almodóvar
Spelers: Antonio Banderas, Elena Anaya, Marisa Paredes, Jan Cornet

Van die gevierde Spaanse regisseur Pedro Almodóvar kom altyd iets uitdagends. In hierdie swaarwigtige drama oor ’n plastiese chirurg (spannend en yskoud vertolk deur Antonio Banderas) word fliekkykers behoorlik gekonfronteer met die grieselige en die bisarre. ’n Pragtige vrou, Vera (Elena Anaya), word in Toledo gevange gehou in die luukse, fortagtige woning van dokter Robert Ledgard. Hy is ’n wêreldbekende navorser op die gebied van veloorplantings – dis inderdaad ’n obsessie by hom. Soos die verhaal ontvou, maak terugflitse duidelik waar sy obsessie vandaan kom, en ook waar en hoe Vera in die prentjie pas. Dis ’n donker reis deur die psige van ’n versteurde man, maar getrou aan Almodóvar se briljante filmkuns het dit ’n onwrikbare interne logika. Waaroor die verhaal ten diepste gaan, is die kwessie van identiteit, en meer spesifiek seksuele identiteit – natuurlik ’n bekende Almodóvar-tema.

Ek het nog tot halfpad deur die film gewonder waarheen die storie op pad is, en of dit uiteindelik die moeite werd gaan wees om dit deur te sit. Dit was, en die einde is ’n uitklophou.

 

 

       

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top