Suiker: godin of pes?

  • 0

Wat eens ’n luukse vir ons voorsate was, is nou iets wat oral altyd met ons is: suiker. (Foto: Pixabay)

Suiker – is dit ook ’n godin waarvoor jy die knie buig? Sy vou jou in haar arms vol poedings, koeke, terte en gulhartige sjokolade toe (goeie sjokolade, troos jy jouself).

Ai, sy trek jou nader, elke liewe keer. Presies soos Hades wat Persefone diep in die onderwêreld met granate ingelok het. Dié vrugte van die donkerste dieptes van die onderwêreld. Daar sit jy, met ’n al dikker wordende Persefone, tensy jy een van daardie buitengewoon gelukkige mense is met ’n genetiese samestelling wat help dat jy ná 40 steeds kan eet nét wat jy wil.

Is suiker volgens die wetenskaplike beskrywing so verslawend dat daar soveel neurologiese veranderings in die brein is dat jy middelafhanklik raak soos met ’n dwelm en mediese hulp nodig het om op te hou om dit te gebruik? Nee. Maar sekere kos, veral die lekker kos, wat sout bevat (sonder dat jy dit noodwendig weet), suiker en vet, skei lekkerkrychemikalieë in die brein af wanneer jy dit eet. Dit voel of jy beloon word, en dan wil jy dit weer eet, en jy verval in ’n eetpatroon.

Die ander groot verskil tussen eet en dwelmafhanklikheid is dat jy moet eet om te oorleef. Dit bly ’n omstrede onderwerp, want dopamien in die brein kan deur talle dinge beïnvloed word.

Die hoofenergiebron vir die liggaam is glukose wat geproduseer word deur ’n komplekse afbreking van koolhidrate. Fruktose kom van vrugte, maar ook van suikerriet en mieliestroop wat baie by kos en drankies gevoeg word. Navorsing het gewys dat die beloningsentrum in die brein meer geaktiveer word wanneer mense, en knaagdiere, fruktose inkry, vergeleke met glukose. En glukose bied jou darem nog metaboliese versadigheid, maar nie fruktose nie. Jy bly honger.

Aan die voete van die die suikergodin (foto: Pixabay)

Ons verhouding met veral geraffineerde suiker het egter ’n bietjie skeefgeloop. Ons voorsate wat 300 000 jaar gelede in Afrika ontstaan het, en hulle voorsate, het weer uit ánder hominiede ontstaan. Hulle almal het niks van “tafelsuiker” af geweet nie (sout ook nie). Die mens se dieet was vleis – alle vleis, en hoe vetter hoe beter – asook knolle en bolle (stysel) wat in die vuur gekook is wat baie vesel bevat het.

Vir tienduisende jare het ons ontwikkel met dalk hier en daar ’n gelukkie van ’n stukkie heuning. Die vrugte was kleiner vergeleke met die groter geteelde kultivars wat ons vandag het, was beskikbaar as vele bessies, en dan baie beperk tot ’n geografiese gebied. Maar, hulle het dié veselryke vrugte geëet – dit wys in die ontleding van die tande.

Sowat 12 000 jaar gelede, met die aanvang van landbou, is rys, koring, hops, sorghum en ander gewasse aangeplant wat die dieet aansienlik verander het. Koolhidrate is ook maar ’n tipe suiker, hoewel dit darem nie geraffineerde suiker is nie. Dít is redelik moeilik om net uit te sny, omdat ’n supermark die ene suiker en sout is.

Die feit dat ons bitter kan proe, het te doen met ons evolusionêre aanpassing om ons te waarsku dat iets giftig is. Proe jy iets soeterig, en dit is ’n aanduiding van ’n energiebron, ’n vrug of iets soos ’n patat wat jy in die vuur gaarmaak – dit sou vir ons voorsate heerlik soet gewees het, hoewel nie vir die moderne mens nie. ’n Ryp vrug is veel soeter as ’n groente, dus ’n aanduiding van kos. Ons soettande het dus ook ’n verre evolusionêre ontwikkeling ondergaan om te help bepaal wat om te eet en wat nie. Mense wat die meeste kalorieë ingekry het, het oorleef.

Gaan kyk maar wat eet sjimpansees as hulle kan kies. Hulle los die appels en lemoene vir heel laaste – en eet die ryp mango, druiwe en perskes eerste. Ek het dit self gesien, en die dominantes vat natuurlik die lekkerste kos eerste en los die lemoene en appels vir die res. Net soos mense. Suiker in vrugte is fruktose, maar deesdae word dit in hoë dosisse as mieliestroop bygevoeg in heelwat wat ons eet en drink.

Die mense wat 5 000 jaar gelede in die Levant (die groot gebied in die oostelike Mediterreen en westelike Asië) geleef het, en dadels  en druiwe en geëet het, het letterlik dadels geweet van die tamaties, mango’s en piesangs wat ander mense in Suid-Amerika gehad het. Dit sou eeue neem voor Christopher Columbus ’n pynappel op ’n Karibiese eilande gesien en ’n redelik vrot een maand later aan die Spaanse koning as geskenk gegee het. Dit was nóg 200 jaar voordat dit mode geword het in Europa om sowaar ’n pynappel te besit, as statussimbool, nadat hulle dit reggekry het om dit in kweekhuise te kweek. In Europa het hulle darem appels gehad.

Die Era van Ontdekking van die 15de tot die 17de eeu het byna alles op aarde dramaties verander. Al die eksotiese vrugte is saam met die kruie, speserye en ’n magdom ander dinge regoor die aarde versprei. Kolonialisme en slawerny was een van die groot effekte. Asook tabak en suikerriet.

Niemand het regtig die suiker nódig gehad nie. Die geskiedenis van suikerriet en die plantasies waarop die slawe tragies geswoeg het, is bekend. Suiker het van ’n luukse item in die Middeleeue, wat jy net sóms gebruik het, met die verloop van eeue ontplof in ’n item wat elke dag orals in alles is. Dit word bygevoeg in kos en drankies nog voordat jy dit in die winkel koop. Soveel as 20% van die energie uit mense se dieet bestaan uit suiker, terwyl dit 500 jaar gelede vir die meeste mense nul was. Ons proe dit nie eens meer nie, maar glo my, jy sal dit proe as dit nié by daardie tamatiesous bygevoeg word nie.

Veral die laaste 200 jaar ná die aanvang van die Nywerheidsrevolusie het die manier van eet nóg meer verander. En ons aktiwiteitsvlakke het dramaties omgeswaai, al dink ons nie so nie.  Wanneer argeoloë na die skelette kyk van gewone mense wat 150 jaar of meer voor ons dood is, is dit eintlik skokkend om te sien – min mense se skelette, buiten die rykes s’n, is ongeskonde. Dit wys die ekstreme fisieke werk wat gewone mans, vroue én kinders gedoen het voor hulle jonk dood is.

’n Advertensie in 1891 – vir kakaopoeier om ’n drankie mee te maak. Lekker romerige sjokolade soos wat ons dit ken, is eers in die laat 1800’s gemaak. Foto: WikiCommons.

Sjokolade, of eerder kakaobone, was vir eeue ’n aaklige, bitter ding wat as drankie gedrink is. Die eerste sjokoladestafie is eers laat in die middel van die 1800’s vervaardig en eers teen die laat 1800’s is dit in grootmaat, en eetbaar, vervaardig. Dit was ’n aardigheid om sjokolade te eet, nie ’n alledaagsheid nie.

Al het ons verhouding met geraffineerde suiker soveel verander, word kinders gebore met ’n liefde vir soetgoed. Moedersmelk is soet. Dit het alles te doen met hoe hulle groei, hulle het dit regtig nodig. Hulle kan ’n baie soet koeldrank geniet wat ’n volwassene se lippe laat krul, en dit is nie vreemd nie, dit is hoe hulle is – dit het alles met hulle groei te doen. Teen die tyd dat hulle ophou groei, daal die suikerliefde weer.

Kenners het toe gaan kyk hoe hanteer die liggaam die druk van soveel kos sedert die aanvang van landbou. Ons moes op ’n manier geneties aangepas het, want een van die effekte is tipe 2-diabetes. Mense verskil in die manier waarop hulle bloedsuikervlakke kan beheer, wat aangebring is deur die evolusionêre proses in die verandering in dieet.

Die rol van ’n geen (CLTCL1) wat die produksie van ’n proteïen (CHC22) beheer, wat weer ’n sleutelrol in die regulering van glukosevervoerder in die vet- en spierselle speel, is bekyk. Nadat ’n mens eet, reageer die hormoon insulien op die hoër vlakke van bloedglukose om die vervoerder vry te laat om die glukose uit die bloed te verwyder en dit na die spiere en vet te neem. Tussen etes, met die hulp van die proteïen, bly die glukosevervoerder in die spiere en vet, sodat van die bloedsuiker kan sirkuleer.

Die navorsers het toe die volledige genome bekyk van 2 500 mense wat deel is van die 1 000 Genome-projek en gesien byna die helfte van die mense het ’n variant van die betrokke proteïen (CHC22) wat deur ’n mutasie veroorsaak is. Dié het al hoe meer algemeen geraak met die aanvangs van landbou en die dryfveer van dié genetiese aanpassing is al hoe meer koolhidrate wat geëet is.

Deur na die selle te kyk het navorsers gesien die mense met die nuwer variantgeen is minder effektief om die glukosevervoerder binne-in die spier- en vetweefsel te hou tussen maaltye. Hulle het dus laer bloedsuiker, want die glukose word uit die bloed verwyder.

Die ouer variant sou ons voorsate baie gehelp het, want dit sou hulle bloedsuiker hoog gehou het wanneer daar nie kos was nie, en ook nie toegang tot koolhidrate nie, juis omdat hulle nie soveel toegang daartoe gehad het nie. Hulle het ook nie drie maaltye per dag geëet nie. Maar vir ons, vandag, is die ouer variant glad nie voordelig nie.

Dit is enkele van die prehistoriese veranderinge in wat ons eet wat nou nog 'n invloed het en deur ons evolusie geraak is. Ons is steeds besig om te verander.

En daardie godin van die soettand? Dis moeilik om haar te ontwyk, want sy sit op elke hoek en draai. Sy is tog só verleidelik, want sy is sowaar al deel van ons.

  • Bronne
  1. Westwater et al; 2016; "Sugar addiction: the state of the science"; European Journal of Nutrition; 1007/s00394-016-1229-6
  2. Fumagalli et al; 2019; "Genetic diversity of CHC22 clathrin impacts its function in glucose metabolism"; eLife; https://doi.org/10.7554/eLife.41517.001
  3. I;  1990; "Why do sugars taste good?"; Neuroscience & Behavioural Reviews; https://doi.org/10.1016/S0149-7634(05)80213-1
  4. Mannella et al; 2015; "The sweetness and bitterness of childhood: Insights from basic research on taste preferences; Physiology & Behaviour; 1016/j.physbeh.2015.05.015
  5. Eurekalert.org
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top