Suidoosterfees SOF HIP POPS: ’n onderhoud met Janine Neethling

  • 1

Janine Neethling – pianis, komponis, toonsetter, verwerker, musiekregisseur en stemafrigter – is pas met nóg ʼn toekenning vereer – dié keer met die Stellenbosse Woordfees se In Verbondenheid-toekenning. Dié prys word toegeken aan ’n rolspeler wat binne die omgewing van die US Woordfees, WOW en die US Koor nouer en beter samewerking bewerkstellig het sonder dat hy/sy geldelik daarvoor vergoed is.

Foto: Chris Joubert

Wat beteken erkenning en toekennings vir jou?

Hierdie toekenning, veral, gee erkenning aan hoe verskillende mense tydens die Woordfees brûe gebou het. Dit is ʼn oorkoepelende toekenning wat erkenning gee aan die brûe wat gebou is tussen kulture, tale, musiekgenres en kunsvorme. En dit beteken, vir my, meer as ’n toekenning vir ’n spesifieke produksie. Die feit dat die Woordfees die kategorie het, beteken vir my dat ook ander kunstenaars/skeppers dalk geïnspireer sal wees om wyer te dink as dit wat vir hulle gehore “veilig voel”. TS Eliot het gesê: “Never underestimate your audience.” En in Suid-Afrika is brugbou so noodsaaklik. Solank ons kan “saamsing en saamspeel”, is daar hoop. 

Jy moes die afgelope ses maande weens swak gesondheid onder groot druk opdragte uitvoer – en steeds het jy bekronenswaardige werk gelewer. Gaan dit nou beter met jou gesondheid?

Noodgedwonge behels opdragwerk ’n konsep wat van iemand anders af kom. Dus is stap een om te luister/kyk en eers te sien presies waarvoor ek musiek moet maak. Dit help nie ek dien myself nie – dan is ons tot mislukking gedoem. En dit is nie iets wat ek wil lewer nie!

Ek is twee jaar gelede gediagnoseer met hipertiroïdisme (tirotoksikose met ’n vergrote skildklier) en is van verlede jaar af op pille om dit te reguleer. Ek het nooit besef watter kardinale rol ’n mens se skildklier in jou lewe speel en hoeveel mense met skildklierprobleme sukkel nie. Gelukkig het ek ’n fantastiese mediese span wat my bystaan met die “roller coaster ride” van simptome en medikasie-aanpassings sedertdien. Ek is dankbaar dis niks erger as dit nie. Ek maak nou reg vir sjirurgie om die ou probleempie uiteindelik uit die weg te ruim. Die invloed op my werk en persoonlike lewe was groter as wat ek ooit kon gedink het dit sou wees. Ek het geweldig baie tyd “verloor” waar ek net eenvoudig nie optimaal kon funksioneer nie. Ek is innig dankbaar vir die ondersteuning van my familie en kollegas wat my die afgelope ses maande gedra het.

Jy is vanjaar die musikale regisseur van SOF HIP POPS op 1 Mei. Wat kan ons daarvan verwag?

Dit is baanbrekerproduksie, opgedroom deur Karen Meiring van kykNET en Niël Rademan van die Suidoosterfees. Die produksie kombineer die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes (onder leiding van Brandon Phillips) met rymkletsers soos Jack Parow, Early B, DJ Ready D van Prophets of da City-faam, YOMA, Hakiesdraad Hartman – én die sopraan Ernestine Stuurman. Wow … Dit is nou ’n learning curve vir my! Gehore kan alles van Carmen tot “Cooler as ekke” verwag: rymklets met orkes, opera met ’n DJ, pragtige lirieke boonop – én ’n groot P.A.R.T.Y!

Jy is ontsettend veelsydig en beoefen uiteenlopende musiekdissiplines. Hoe uitmergelend versus bevredigend is jou werk?

Ek ag myself as ’n geweldig gelukkige mens – in dié sin dat ek geïnteresseerd is in verskillende aspekte van musiekmaak en wel die geleenthede kry om hulle almal te beoefen. Nataniël het jare gelede gesê ons is geweldig bevoorreg as Suid-Afrikaners omdat ons nié soos byvoorbeeld die Amerikaners in ’n land van spesialiste in die kunste woon nie. Terwyl daar in ander lande toue mense wag om jou werk as stemafrigter of enige ander spesialisdissipline in die kunste te “neem”, kan ons hier als doen, want daar is ’n kleiner poel professionele musikante. 

Ek glo ook vas dat die verskeidenheid werk wat ek doen, my aan die werk hou. Daar is minder werk in Suid-Afrika en my vermoë om “Jack of all trades” te wees, beteken dat ek meer kán werk.

In my persoonlike ervaring leer elke dissipline wat ek beoefen my van ander dissiplines. Byvoorbeeld: ek het as jong musikant ook ligte en klank vir produksies gedoen. Dit het my geleer om repetisies beter te skeduleer omdat ek ten minste ’n bietjie verstaan wat van die tegniese span se vereistes is. En om ’n klassieke begeleier te wees het my geleer hoe om die steun wat ’n popsanger van ’n musikant verg, beter te kan bied. Ek glo as ek oop is vir leer, sal alle ervarings my leer hoe om die volgende uitdaging beter aan te durf.

Die grootste kompliment wat ’n medekunstenaar vir my kan gee, is dat ek ’n goeie spanspeler is. En dit is vir my die onderliggende ooreenkoms tussen komponis, verwerker, musiekregisseur en stemafrigter wees, want elke rolspeler dien dieselfde doel: om die vertoning/eindproduk die beste te maak wat dit kan wees. Ek moet goed luister na ’n regisseur of vervaardiger se “visie” en dit tot die beste van my vermoë dan laat realiseer; of die sanger se lirieke verstaan sodat die inkleur van instrumente daarby kan pas; of die teikenmark van die vertoning verstaan sodat ons vir hulle ’n spesiale looporde kan opstel. Maar soos die Sjinese wyse man “Dr Lin” my vertel het: ek moet luister na wat benodig is, en dan daai ietsie meer verleen aan die musiek sodat dit ’n wen-wen vir al die partye is – die vervaardiger, gehoor, regisseur en musikant kry presies waarvoor hulle gevra het – omdat ek in die eerste plek geluister het. 

Ek kry ook ’n bevrediging omdat ek nie net gerealiseer het waarvoor hulle gevra het nie, maar ook ’n bietjie van myself daarin gesit het.

 Die grootste verskille tussen die dissiplines is net eenvoudig die proses. Ná die aanvanklike luister na wat benodig is, bestee ek óf meer tyd agter die klavier, óf meer tyd agter my rekenaar.

 Watter van dié dissiplines is jou gunsteling?

Ek kan eerlik sê dat terwyl ek lief is vir alle dissiplines in musiek, my grootste lekker is om musiek te skryf. Dis omdat daar ’n bietjie ekstra uiting aan my siel is. Ek het artritis van kop tot toon, so terwyl ek byvoorbeeld tydens die onlangse Woordfees-periode daagliks kortisoon geneem het om te “cope”, sal ek aanhou speel tot my vingers kromtrek is, want terwyl ek speel “komponeer” ek ook heelpad as ’t ware my verwerkings. Ek ag myself as uiters geseënd om musiek as talent te hê – juis omdat daar soveel verskillende maniere is waarop ek dit kan beoefen.

Wat is die deurlopende skakel wat die ketting bind?

Samewerking! Ek het nie die drang om sommer vir myself – soos baie komponiste – ’n stuk musiek te skryf nie. Ek hou daarvan om iemand anders se idee te neem en dit te laat realiseer. Of dit nou Deon Opperman se konsep van Die Skepping-oratorium of Sifiso Kweyama van die Jazzart-dansgeselskap se konsep vir choreografie is – ek werk met ander mense. Dis nie toevallig dat my honneursgraad in kamermusiek was nie. Ek werk saam met ander. 

Daar is gedurig ʼn diskoers oor die Suid-Afrikaanse (en veral Afrikaanse) vermaak- en kunstebedryf; oor hoe siek of gesond dit is ...?

Ja, dis debatteerbaar. Dit hang ook af van in watter deel van die bedryf jy jou bevind. Ek meen ons moet die liedjieskrywers in Suid-Afrika ondersteun. Ons benodig meer skrywers wat ook bereid is om werklik goeie lirieke te skryf. 

Wat is jou mening oor die gehalte van ons musiek, letterkunde, TV- en verhoogproduksie en rolprente?

Daar is ’n opbloei in die Suid-Afrikaanse kuns-oeuvre: meer films, meer musiek, meer boeke, meer poësie en meer toneel – hoofsaaklik agv die platform wat die kunstefeeste bied. En terselfdertyd is daar die opkoms van ’n ongelooflik talentvolle jonger generasie dapper en energieke kunstenaars en tegnici. 

Die grootste area vir ontwikkeling is vir my nie die kunstenaars self nie, maar die gehore. Dis duur om kaartjies te koop en die makliker opsie is die rusbank tuis met die menigdom dienste beskikbaar vir tuisvermaak. Hier help die feeste geweldig baie, omdat daar ’n verskeidenheid ervarings is wat gehoorlede in ’n dag kan ervaar en daardeur ’n kulturele inspuiting kry, as’t ware.

Maar ek glo kinders moet ook blootgestel word aan die ervaring van lewende uitvoerings. Want elke mens, wanneer hulle eers “aangesteek” is met die onblusbare herinnering aan ’n opwindende energie-“verskuiwing” wat ’n lewende opvoering beleef, sal dit weer wil ervaar. Ek sal graag alle ouers wil aanmoedig om vertonings te eien wat geskik is vir kinders en saam met hulle daarna te gaan kyk.

Want my eerste twee herinneringe van lewende vertonings het my lewe verander. Een was Pieter-Dirk Uys wat Prokofiev se Peter and the wolf aangebied het en die ander een die ballet Midsummer night’s dream by Artscape waar ek Christopher Kindo en Vincent Hantam sien dans het. Dit het my lewenswens geword om mense só aan te raak soos hulle my aangeraak het. Dit is kosbare oomblikke wat niemand ooit van my kan wegneem nie.

Wat en waar is die leemtes?

Die grootste leemtes is die leë stoele in teaters. Dit beteken meer produksies word nie beplan nie. Dit beteken kunstenaars se inkomste daal. Dit beteken die produksies word bepaal deur dit wat ekonomies haalbaar is, eerder as om ware uiting aan die kunstenaars bied. Dit is uiters belangrik dat gehoorontwikkeling in Suid-Afrika uitgebrei word. Kunstekaap het al vir jare ’n departement by name Audience Development and Education. Hulle doen verstommende werk.

Wat sal jy graag wil hê moet verander?

Wel, jare terug het ek gehoop dat die meer ernstige musiek en teater groter sale mense moet trek. Die waarheid is, as jy kyk na die statistieke, dat die ernstige kunsvorme wel sterk ondersteun word deur die publiek. Dis fantasties. En ek hoop dit doen so voort.

En hoe lyk die toekoms van ons bedryf vir jou?

As ek na die jong talent, byvoorbeeld in die kinderkore en jeugorkeste, asook die TV- en filmbedryf, kyk, dan lyk die toekoms fantasties.

Foto: Chris Joubert

Slaag kunstefeeste daarin om Suid-Afrikaanse kuns en kultuur, en veral die Afrikaanse taal, te ontwikkel?

As jy kyk na die feit dat elke WoordTROfee-wenner ’n individuele handgekose kunswerk as prys ontvang het, het jy jou antwoord. Daar word sóveel werk geskep. Vir my ook! As Saartjie Botha my nie gevra het om verskeie produksies bymekaar te sit vir die Woordfees nie, was ek dalk nie vanjaar daarby betrokke nie. Deur haar het ek en my spanne werk kon bied aan sowat 400 kunstenaars en tegniese personeel. Die feit dat gehore dit bywoon, veral die multikulturele opvoerings, beteken dat daar ook gehoorontwikkeling plaasvind, benewens ook goeie ou vermaak. Dis ’n wen-wen-resep. So, ja. Die doel van kunstefeeste is om ’n platform aan die kunste te bied wat vir kunstenaars (visueel, literêr asook uitvoerend) geleenthede skep om hulle kreatief uit te leef en dit dan met gehore te deel wat in ’n intense week ’n magdom uitstaande werk kan ervaar en daardeur geselspunte aanwakker. Dit sal uiteraard by ’n Afrikaanse fees ook die Afrikaanse taal in al sy/haar vorme ’n goeie ou gesonde inspuiting gee.

  • Daar is by vanjaar se Suidoosterfees musiekvermaak in uiteenlopende genres. Die 15de Suidoosterfees – met die tema Fantastiese 15 – vind van 26 April tot 1 Mei by Artscape , Kaapstad, plaas. Tussen die ander produksies is onder meer Karoo swing innie Kaap (met Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe), Stef Bos en Koos Kombuis in Suidoos, die kabaretproduksie Black Velvet: Koffer in Berlyn (met Marlene Dietrich se musiek, uitgevoer deur Jacobi de Villiers en Danie Theron), Classic Nataniël (met ’n orkes, jazz- en strykkwartet en die musiek van Bach, Faure en Ramirez), Kunstreffers: Konsert van hoop (met onder andere Laurika Rauch, Robin Peters, Janel Speelman, Xolane Marman en die Libertaskoor, onder leiding van Johan de Villiers), Kaapse tango (met die jazz-sangeres Melanie Scholtz), die klassieke klanke van die operette Die Fledermaus en Brimstone Klassique: Karnaval van die diere en Pieter en die wolf (met Philip de Vos se tekste, vertelling deur Vinette Ebrahim en Chris van Niekerk en orkestrasie deur die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes) en Kaapse Khoi Jazz, met regie deur die jazzmusikant Camillo Lombard.
  • 1

Kommentaar

  • Ek is werklik geïnspireer deur wat Janine doen. Gebore In Transkei - skool in Uitenhage was ek blootgestel maar nie geleentheid gekry nie. Nou as ’n diabetiese opvoedkundige vertel ek my pasiënte van die waarde van die bywoning van die feeste. Ons kan nie kwaliteit van lewe hê sonder musiek nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top