Suidoosterfees 2021 en NATi Jong Sterre-produksies ‒ ’n onderhoud met Carlo Daniels

  • 0

In samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), Kunstekaap en die Jakes Gerwel Stigting bied die Suidoosterfees vanjaar weer ’n NATi Jong Sterre-program by dié fees aan wat tot 2 Mei by die Kunstekaap plaasvind.

Emma Kotze gesels met Carlo Daniels oor sy werk wat hy by die fees aanbied, asook die geleenthede wat die Jakes Gerwel-mentorskapprogram, waarvan hy in 2020 deel was, vir hom gebied het en hoe sy toekomsdrome lyk.  

Carlo is die skrywer van die NATi Jong Sterre-produksie, Kokon.

**Let wel: Hierdie produksie is uitverkoop.**

Carlo Daniels

Vertel ons ’n bietjie van jou reis as akteur en regisseur. 

Dit het alles begin toe ek gebore is, sou ek sê, behalwe die regiegedeelte. Ek doen al vir ewig toneel, sang en beweging. Ek oefen al van kleins af en het tóé reeds geweet dit was eerlikwaar ’n geskenk van my Maker. Eers toe ek ouer was (ek dink hoërskool), het ek begin verstaan dat ek ’n kunstenaar is. Ek het begin ontwikkel as kunstenaar tot waar ek nou konstant deur my kuns groei en transformeer. Ek was maar altyd ’n creative. Dit is hoekom ek soms my eie tekste skryf en die regie doen, want ek het sterk prente en drome in my kop wat ek moet uitbeeld.

Watter geleentheid het die Suidoosterfees Jong Sterre-program vir jou gebied?

Ek is so dankbaar vir die Jakes Gerwel Stigting, NATi Jong Sterre, Suidoosterfees en Kunstekaap vir die wonderlike geleentheid wat ek nou het. Ons het drie weke spandeer in die Jakes Gerwel Paulet Huis in Somerset-Oos saam met ’n mentor en ons tekste daar ontwikkel. Dit was vir my baie spesiaal en die eerste keer wat ek só ’n geleentheid gekry het om net op skryf te fokus. Ek het baie geleer! Die coolste ding is dat ons stukke vervaardig word en dat dit by die Suidoosterfees debuteer. Ek voel baie geseënd deur hierdie geleentheid.

Ek het jou al dikwels as akteur sien werk in fisieke teater as storievertellingsmedium. Hoe was dit om dié slag ander deur hierdie reis te lei as regisseur? 

As regisseur staan ek aan die ander kant van die vloer, maar nie eintlik nie. Ek is op die vloer en reis en ontdek saam met die akteurs. So om die proses te lei is ’n bietjie, of baie, anders as om die verhaal self te vertel, maar ek geniet dit ook baie. Die regisseur vertel eintlik ook, net met ’n ander taal. Dis iets wat ek kan doen en iets wat ek geniet. Ek geniet dit veral om die groep met beweging te lei, werk daar te ontdek, dit te deel en om saam te leer.

Vertel ons van Kokon, jou toneelstuk wat by die Suidoosterfees op die planke is [Let wel: hierdie vertoning is uitverkoop]. Waar vind dié storie sy oorsprong en wat is jou verhouding met die verhaal? 

Ek het eenkeer ’n gesprek gehad met ’n vriend waartydens ons oor boelies gesels het. Ons wou werk daaroor skep en ek het toe gaan rondkyk en baie ontdek in die wêreld van boelies en slagoffers. Dis dinge wat mens weet, maar om werklik aandag te gee en te kyk na die saak het my geroer. Ek moes iets sê of uitkry, neerskryf; my bors het swaar geraak omdat ek besef het hoe ver dit gaan en die enorme impak van boelies. Dit gebeur ook nie net met kinders nie – mense word op baie vlakke geboelie. Die storie vind plaas op die Cape Flats, maar dis ’n universele storie en gebeur eintlik oral in die wêreld. Hier in Suid-Afrika is dit nogal ’n groot probleem en hopelik kan ons dit aanspreek en kan Kokon tot die oplossing bydra.

Wat was vir jou die grootste uitdaging met die skep van Kokon

Dit is ’n “groot” storie met die temas wat dit aanpak, en dít was vir my ’n uitdaging. Wat die stuk doen is om deure oop te maak, om asem te skep vir dié wat bekend is met die ervaring van hierdie tipe situasies en die diepte daarvan. Dis sensitief, maar dit is belangrik om te kom en die gesprek oop te maak – ons wil ’n poging maak om lig te voorsien aan dié wie dit nodig het.

Watter drome het jy vir die produksie? 

My drome vir die produksie is dat baie jongmense dit sal sien, soos in hoërskole, en dat die stuk ook ’n lang lewe sal hê. ’n Vriend wat ’n repetisie kom kyk het, het gesê hy voel die teks moet gepubliseer word. Ek dink dis ’n goeie idee waaraan ek nog nie gedink het nie. As ’n droom vir hierdie teks wil ek net hê dit moet in die regte spasies leef sodat dit mense kan herinner wat om ons gebeur.

Was jy al tevore in die regisseurstoel? Hoe is dit anders as om self op te tree? 

Dit is nou die tweede keer dat ek regisseur is van ’n volle stuk. Dit is vir my iets wat ek in my het. Ek het baie om te deel deur kuns en baie om te deel met my akteurs, veral omdat ek self ook ’n akteur is, so ek weet hoe dit aan beide kante is. Alhoewel “weet”  nie die regte woord is nie – mens weet niks as mens met ’n nuwe proses begin nie.

Jy is al heelwat vereer vir jou toneelspel – op watter een van jou toekennings is jy die trotsste? 

Ek het al ’n paar toekennings gewen – dis moeilik om een te kies waarop ek die trotsste is. Ek is regtig trots op hulle almal. Die herinneringe wat elkeen inhou is vir my waardevol.

Watter skrywer/akteur/regisseur het tot dusver die grootste invloed op jou loopbaan gehad? 

Ek kom van Magnet Theatre, so baie van die onderwysers het ’n groot impak gemaak op my. Soos Jennie Reznek, Mark Fleishman, Mandla Mbothwe en Sarah Matchett. Hulle is almal vir my unieke teatermakers en amazing op hulle eie manier.

Waar is Carlo oor vyf jaar? 

Ek oor vyf jaar? Daar is so baie. Ek lag eers, want ek wonder nou watter van my drome ek moet neerskryf.  Daar is baie wat ek wil bereik. Kuns is ’n lewenslange verhouding vir my. Oor vyf jaar sal ek teater maak, kom ek sê dit so.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top