Suidoosterfees 2013: The Orange Earth

  • 0

Regisseur:  Matthew Wild
Teks: Adam Small
Spelers: Oscar Petersen, Quanita Adams, Albert Pretorius, Andrew Laubscher

Johnny Adams word gedurende die apartheidsjare daarvan beskuldig dat hy ’n bom geplant het wat ’n jong blanke dogtertjie se lewe geëis het. Vanuit die hof en sy sel vertrek Johnny op ’n herinneringsreis na die oranje aarde van sy geboorteplek. Hierdie produksie maak op vernuwende maniere gebruik van verskeie mediums, wat strek van radiodrama tot fisiese teater, om op ’n alternatiewe wyse aan dié teks deur Adam Small lewe te skenk.

Gedurende ’n lang inleiding word dit stelselmatig vir die gehoor duidelik dat The Orange Earth in ’n radio-ateljee afspeel. Die gehoor word oorspronklik voorgestel aan vyf akteurs wat  rolle kom vertolk uit die teks van  ’n radiodrama, Small se The Oranje Earth. Geleidelik val hierdie element van ’n “play-within-a-play” weg en word die gehoor geheel en al in die verhaal en wêreld van Johnny Adams ingewikkel. Ten spyte van die oorspronklike gebroke gevoel van die styl as dit tussen opname-ateljee en die vertolking van tonele beweeg, dra die akteurs se spel genoeg energie om die gehoor vasgevang te hou.

Die produksie spog met ’n besonder bekwame geselskap. Die multidimensionele groep akteurs se uitnemende ensemblewerk sorg vir ’n kleurryke vertolking van die teks, wat die produksie gemaklik tot sy emosionele klimaks lei. Hulle gaan gemaklik om met die hantering van die veranderende stel en verwissel seepglad van rolle gedurende die verloop van die produksie.

Getrou aan die aard van Small se werk lewer The Orange Earth baie sterk politieke kommentaar op die apartheidsisteem. Alhoewel die verwysings na dié ou regeringswyses baie duidelik is, sorg die vertolking van die teks dat dit steeds tot ’n moderne gehoor spreek. Die keuse om dit in te lei in die vorm van ’n radiodrama stel dit aan die gehoor voor as ’n verhaal wat opgeneem word eerder as een wat uit die verlede oopgekrap word.

The Orange Earth het ongelukkig ’n kort speeltyd by vanjaar se Suidoosterfees geniet. Hou egter die oë daarvoor oop indien dit weer op die planke sou verskyn.         


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top