
By die Schreiner-graf (Foto: Izak de Vries)
...
Uit daardie dryfsand het leiers verrys wat ’n verskil sou maak. Nie almal het lank genoeg geleef om die vrugte van hul werk te pluk nie, maar dat hulle ’n verskil sou maak, is nie te betwis nie.
...
Hoe vergelyk Suid-Afrika vandag met die daardie laaste jare onder ’n wit diktatuur?
Dat ons land sigself tans in ’n gemors bevind, is nie te ontken nie, maar wat is die weg vorentoe en hoe kom ons uit hierdie penarie? Wat kan ons leer uit die vorige geleenthede waartydens ons leiers ons in die steek gelaat het?
Verskeie lesings en gesprekke by die Etienne van Heerden Veldsoirée het die land se huidige dilemma vergelyk met grepe uit ons verlede. Telkens is gekyk na belangrike mense en gebeure wat op bepaalde tye leiding geneem het om onreg aan te spreek, en dit is vergelyk, of gejukstaponeer, met die probleme waarin ons tans vasgevang is.
In die laat jare tagtig het Suid-Afrika gesteier. Ons land was finansieel in ’n gemors, en die samelewing was vasgevang in ’n brutale geweldsklimaat. Uit daardie dryfsand het leiers verrys wat ’n verskil sou maak. Nie almal het lank genoeg geleef om die vrugte van hul werk te pluk nie, maar dat hulle ’n verskil sou maak, is nie te betwis nie. Wat kan ons van hulle leer? Hoe kan ons nou verskille neerlê en met nuwe ywer ons land se bestaande probleme takel?
Amos Nteta, ’n boorling van Cradock, het vertel hoe die gemeenskap van Cradock hulself gehelp het in die tyd toe die formele munisipale strukture opgehou funksioneer het. Straatkomitees is aangewys, en selfs die diskosale is gebruik om boodskappe te versprei in ’n tyd toe openbare vergaderings nie toegelaat is nie. Cradock se gemeenskap het nie moed opgegee toe die apartheidstrukture uitmekaar geval het nie; hulle het juis alternatiewe gevorm.
Hierdie alternatiewe het so goed gewerk dat die veiligheidspolisie probeer het om dit teen te werk – wat direk gelei het tot die moord op die Cradock Vier.
Freek Robinson, ’n gereelde bydraer tot LitNet, se pa was die mediese dokter van Matthew Goniwe, een van die Cradock Vier. So het Robinson inligting ontvang oor die werk wat in Cradock gedoen word om die vakuum te vul wat die gebrek aan munisipale dienste gelaat het. Hy sou later, ná Goniwe se dood, verder ondersoek instel.
Rory Riordan se lesing oor die laaste jare van apartheid was ’n besonderse toeligting op hierdie gesprekke. Riordan se navorsing sal teen die einde van jaar in boekvorm verskyn.
Vandag is Freek Robinson en Barend la Grange ten nouste daarmee gemoeid om gemeenskappe te help om weer alternatiewe vir die agteruitgaande formele strukture daar te stel; Kroonstad en Cradock self het reeds gebaat by pogings om die leemtes te vul wat deur formele strukture gelaat is.
La Grange en Robinson help gemeenskappe om saam te werk met munisipale strukture, maar ook om nie te wag vir die disfunksionele strukture om skielik te begin funksioneer sonder hulp nie.
Heindrich Wyngaard, ook ’n bekende joernalis, het verduidelik hoekom hy bereid was om sy dienste aan Kaapse Forum te bied. Hy was eerlik dat AfriForum gevoel het hulle is nie welkom in gemeenskappe in die Wes-Kaap nie, maar dat hulle wel strukture en meganismes sou kon bied vir gemeenskappe om hulself te help – soos reeds getoon word in dorpe waar AfriForum betrokke is.
Doreen Atkinson, ’n akademikus en navorser wat ’n spesialis oor die Karoo is, het ’n lesing gelewer oor wat sy noem “die verlore hoofweg”, ’n roete wat in die dae van ossewaens en donkiekarre van Sutherland tot Kuruman gestrek het.
Atkinson se navorsing oor, en die bemarking van, hierdie roete word direk gekoppel aan die opheffing van plattelandse gemeenskappe langs hierdie weg: Hoe kan die geskiedkundige gebeure gekoppel word aan toerisme, toerisme aan werkskepping en die hoop op werkskepping aan die opbou en verfraaiing van Karoodorpies wat hulle aansien en glans oor die afgelope eeu verloor het?
Julienne du Toit en Chris Marais se reeks boeke wat bekend staan as Karoo roads het pas ’n derde toevoeging gekry. Hulle het aan Tony Jackman verduidelik dat hulle moeite doen om stories na te jaag en vas te lê van mense wat in die onderskeie dorpies moeite doen om iets vir hulle gemeenskappe te beteken – al lei dit daartoe dat sommige hulle as “sonskynjoernaliste” afmaak. Hulle sien dit anders; dit gaan juis oor diegene wat nie moed opgee nie, maar aanhou baklei vir ’n beter land – strukturele probleme ten spyt.
Jackman het die Saterdagoggend langs ’n vuur ’n lesing gehou oor hoe die Karoo ’n mikrokosmos is van ’n groter wêreld. Die sterre in die Karoo laat ’n mens nietig voel, sê hy, maar daarom het hy met sy skryfwerk geleer dat selfs nietige mense ’n groot verskil kan maak.
Jo Els, ’n afgetrede landdros, het daar om die vuur sy – werklik vermaaklike – vertelling gebruik om te wys hoe die regbank soms besluite moes neem om sake te beredder ten behoewe van ’n hele gemeenskap. Nie alles is swart en wit voor die reg nie.
Strukturele ongelykhede is nie nuut in Suid-Afrika nie, en kom reeds van lank voor die voormalige Nasionale Party-regering se bewind. Christi van der Westhuizen het twee lesings gelewer waarin sy dit toegelig het. Die eerste was oor Petronella van Heerden, die eerste vrou wat as mediese dokter in Suid-Afrika toegelaat is om te praktiseer. Haar ander toespraak was oor die wyse waarop die Nasionale Party, en hul voorgangers, se aandrang op rassuiwerheid ’n negatiewe impak gehad het op feitlik alle aspekte van die samelewing, en veral op hoe vroue dikwels daaronder gely het. Hoewel wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners daarby gebaat het, toon Van der Westhuizen hoe dikwels die beleide ook negatiewe gevolge gehad het en nou natuurlik steeds destruktiewe gevolge het.
Jean Meiring, ’n advokaat, het weer na die aktivisme van Olive Schreiner verwys in sy toespraak by haar graf. Die twee dogters van Schreiner se broer Will wou graag studeer. Die een wou regte studeer, en die ander medies. Beide het aan Cambridge klasgeloop en het deurgekom, maar strukturele ongelykhede het gemaak dat hulle nie kon praktiseer nie.
Ná die suksesvolle voltooiing van haar eksamens sou die regsgeleerde Dot, het Schreiner besef, as advokaat toegelaat wou word. Die regsposisie in Suid-Afrika in 1912/13 het voorsiening daarvoor gemaak dat enige “persoon” wat gekwalifiseer is, en sonder kriminele of morele blaam is, toegelaat moet word om te praktiseer. In 1912 het die Unie se appèlhof, ‘n bank van drie regters, in die saak Incorporated Law Society v Wookey, beslis dat waar die reg verwys het na “persone” wat as regspraktisyns toegelaat word, daardie konsep nie vroue ingesluit het nie. In haar briewe sien mens hoe Schreiner deur aktivisme hierdie openbare toedrag van sake die hoof probeer bied het, wat haar persoonlik, deur haar broerskinders se lot, geraak het.
Elise Bishop, ’n boorling van die Karoo, is bekend vir haar skryfwerk op LitNet en op Facebook oor die geskiedenis van Graaff-Reinet. Daar is in haar werk dikwels ’n hunkering na, maar ook dikwels ’n fyn spot met, die gebruike van die Afrikaanse middelklas van desjare. In haar biografie, Twee lewens, kom die ander werklikhede egter ter sprake: wette wat dit vir haar onmoontlik gemaak het om te leef as die persoon wat sy wou wees.
Haar aandoenlike gesprek oor haar moeilike reis om “mens te word” het uiteindelik aan haar “Die Orde van die Windpomp” besorg – ’n toekenning wat by elke Veldsoirée gemaak word.
...
Fiksie is dikwels ’n middel waardeur ’n samelewing gepeil kan word.
...
Fiksie is dikwels ’n middel waardeur ’n samelewing gepeil kan word. Clinton V du Plessis se voorlesing van die kortverhaal “Dubbelvisie” het die ou gesegde “wys, moenie vertel nie” geldig bewys deur ’n diep persoonlike verhaal wat gewys het hoe mense van kleur vir jare lank van basiese geriewe ontneem is deur die apartheidsbewind.
Etienne van Heerden se roman A library to flee, die Engelse vertaling van Die biblioteek aan die einde van die wêreld, neem weer die bestaande ongemak van jong aktiviste onder die loep. Die Universiteit van Kaapstad word as ’n mikrokosmos aangebied. Daar vind jong swart studente hoe hulle misken word in die biblioteek met ’n koloniale geskiedenis, terwyl Ian Brand, die een hoofkarakter, bewus word van ’n ander biblioteek: die een waarin ons persoonlike data gestoor word om verkoop te word en om teen ons gebruik te word. Die roman toon ook hoe persone na aan die huidige regering soms saamwerk met mense uit die apartheidsverlede om hulself te verryk, ten koste van gewone burgers.
Darryl David, die feesorganiseerder, het almal verras met ’n uitstekende kortverhaal oor die manier waarop ’n wolfhond wat deur die polisie opgelei is en sy hanteerder posttraumatiese stres beleef, selfs hanteer, jare ná apartheid verby is.
Reeds met die openingspraatjie is die grondslag gelê: Hennie van Coller het Etienne Leroux se oeuvre onder oë geneem en het daarop gewys dat Leroux veel meer betrokke was as wat talle kritici sou vermoed het. Dat Leroux telkens die mitologie en ander literêre truuks voorgestoot het in sy werk, is waar, maar Van Coller het gewys hoe fyn Leroux ook tendense in sy omgewing waargeneem en daaroor besin het. Uit die aard van die saak was die Leroux-pen skerp, ongenaakbaar selfs, wanneer dit sou kom by die uitwys van skynheiligheid in die samelewing. Tog was daar telkens meer: Niemand het byvoorbeeld nog aangetoon dat Leroux se werk gehandel het oor die posttraumatiese stres van soldate wat teruggekeer het van die Tweede Wêreldoorlog nie.
Sidney Gilroy, die volgende spreker, het aangedui dat hy telkens ouer Suid-Afrikaanse fiksie gebruik om sy spanningsromans mee te anker. Soos Etienne Leroux lees Gilroy opsetlik nie die werk van sy tydgenote nie. Klikbek, sy eerste roman, steun sterk op die plaasromans van ouds, terwyl hy in Vlam, sy derde roman, weer die vroulike stemme in die teks kon verfyn deurdat Gilroy homself ingegrawe het in die werk van Petra Müller. En tog: Sollie Mthembu, die speurder, die buitestander, se karakter is geskoei op verskeie gesprekke met polisielede wat tans in diens van die SAPD is.
Marnus Hattingh en Henrietta Rose-Innes het die klem gelê op ons natuurerfenis, terwyl Mputhumi Ntabeni verduidelik het hoe hy in sy werk moeite doen om vraagstukke soos afwesige vaders, wat direk verband hou met trekarbeid, aan te spreek. Ntabeni se navorsing in die Karoo en die res van die Oos-Kaap het hom gehelp om struktuur te gee aan sy karakters en om hulle te plaas teen ’n kulturele tradisie van Xhosa-vertellers wat hom ver vooruitgeloop het.
Heilna du Plooy en Theresa Hardman het die skeppende proses op ’n akademiese manier onder oë geneem, terwyl Hardman ook gesels het oor navorsing wat sy gedoen het oor die argitektuur van die Karoo.
Du Plooy en Hennie van Coller het ook gesels oor die belang van Middelnederlands vir die Afrikaanse taal en letterkunde, na aanleiding van Helaas, ’n digbundel deur Van Coller wat enkele dae voor die fees verskyn het.
Die Sondagoggend het ernstige gesprekke tydelik plek gemaak vir pret toe ’n hondeskou aangebied is op die plaas Buffelshoek, waar Olive Schreiner, haar man en haar hond, Nita, begrawe is.
’n Hele aantal mense het daarna ’n pelgrimstog na die Schreiner-graf onderneem.
Borge:

Die Tuishuise & Victoria Manor

Buffelshoek Dirosie Lodge
NB-Uitgewers

Amazwi South African Museum of Literature

Montego Pet Nutrition
Lees ook:
Etienne van Heerden Veldsoirée: Programnotas | Programme notes
Program/Programme: Etienne van Heerden Veldsoirée 23–25 September 2022


Kommentaar
As daar 'n wit diktatuur was, was daar ook 'n halfdosyn swart diktature, bedoelende die swart tuislande wat swart selfregering toegepas het. Die wit hoofstroomleiers (kerk, politiek, kultuur) het ons uitgelewer aan die Marxiste en oor die afgrond geneem. Niks om op trots te wees nie.
Wat 'n spul leuens wat as feite oorgedra word. As ek nie in daardie tyd geleef het nie, dan sou ek dit as waar aanvaar het.
Baie dankie vir 'n uitstekende relaas, Izak! En ja, sonder twyfel, die apartheidsjare was 'n riller sonder ophou.